Toekoms lyk rooskleurig vir Rand Park na deurbraakseisoen


Rand Park High School se eerste netbalspan het vanjaar bewys dat deursettingsvermoë, samehorigheid en ‘n onwrikbare vasberadenheid die sleutel tot sukses bied.
Die span het nie net hul merk gemaak op provinsiale vlak nie, maar het ook landswyd aandag getrek met hul prestasies by die Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe, waar hulle 16de geëindig het — ’n uitsonderlike prestasie wat hulle gevestig het as die beste Engelsmedium-netbalskool in Suid-Afrika.
Vir Rand Park was die hoogtepunt van die jaar ongetwyfeld hul onvergeetlike oorwinning oor Garsfontein, ’n kragmeting wat in bykomende tyd beslis moes word. Met die druk van ’n ganse arena wat asem ophou, het Rand Park met ‘n enkele punt (29-28) se verskil die oorwinning behaal, ’n oomblik wat vir altyd in die geheue van elke speler sal voortleef.
“Toe ek na die eindfluitjie opkyk en die telbord sien, was die verligting ongelooflik. Dit was die dag toe ons waarlik geleer het hoe om ’n groot wedstryd te wen,” vertel die afrigter, Kayleigh Bendall.
By die Menlopark-toernooi het Rand Park aanvanklik gesukkel om ritme te vind teen taai opposisie, maar toe hulle teen Oranje te staan gekom het, het alles begin klik.
“Ons spel het gevloei, en die energie van ons ondersteuners was aansteeklik.”
Wat Rand Park se seisoen besonders maak, is dat hul eerste span uit slegs drie matrieks en ses graad 10-leerders bestaan het, meisies van slegs 16 jaar oud wat teen van die sterkste skole in die land moes meeding. Tóg het hulle die uitdaging met ongelooflike volwassenheid, vasberadenheid en kalmte onder druk aangedurf.
“Geestelike groei was vanjaar een van ons grootste oorwinnings. Om só jonk te wees en in ’n eerste span te speel, is nie maklik nie; dit verg emosionele intelligensie en senuweesterkte. Hierdie groep het my werklik in verwondering gelaat,” het die Bendall bygevoeg.
Hoewel elke speler bygedra het tot Rand Park se sukses, het vier spelers in besonder uitgestaan:
-
Georgia Leppan (medekaptein) is vir die Gauteng o.18-span gekies en is deur die SASN Talent-ID-program as ’n uitsonderlike speler geïdentifiseer.
-
Oluchi Ndubueze het vir die vyfde agtereenvolgende jaar vir Gauteng verteenwoordig en ook ‘n plek in die SASN o.16-span verwerf — ’n bewys van haar konsekwente uitnemendheid.
-
Hayley Jose (medekaptein) het vir die Johannesburg Netball Association o.19A-span uitgedraf en ’n indrukwekkende vertoning gelewer by die Telkom Nasionale Kampioenskappe, wat aan haar ‘n plek in die Netball SA o.19-ontwikkelingspan besorg het.
-
Tiyani Khuvutlu het die seisoen begin as ’n skaam, onsekere speler, maar spoedig ontwikkel in ’n selfversekerde, dominante doel wat selfs die afrigter “van trots laat op en af spring het langs die baan”.
Wat hierdie groep besonders maak, is hul vermoë om as span saam te groei. Aan die begin van die seisoen het die spelers gereeld hul kapteine met vrae oor tegniek en strategie genader, maar teen die einde het hulle ontwikkel in selfversekerde leiers wat self jonger spelers begin touwys maak het.
“Met die meerderheid van die span wat volgende jaar terugkeer, is ek ongelooflik opgewonde om te sien hoe hulle op hierdie soliede grondslag kan voortbou,” sê Bendall.
Geoordeel aan die afgelope seisoen van groei, durf en vasberadenheid, is hierdie jong span Rand Park beslis nog lank nie klaar om hul merk in Suid-Afrikaanse skolenetbal te maak nie.
2025-uitslae
Ligawedstryde:
Trinity House 32–22
Hoërskool Monument 25–24
Bryanston High School 35–9
Hoërskool Florida 32–16
Northcliff High School 30–14
Hoërskool Linden 31–9
Hoërskool Randburg 38–15
Krugersdorp High School 37–17
Hoërskool Noordheuwel 25–26
Helpmekaar Kollege 17–32
Gauteng Kampioenskappe
Marais Viljoen 25-21
Montana 21-20
Soshanguve 43-3
Monument 24-17
Garsfontein 29-28
Affies 13-30
Nasionale Kampioenskappe:
Veritas 54–2
Tshiawelo 33–5
Oranje 12–27
Paarl Girls 12–25
Bukit Jalil 29–11
Potchefstroom Gimnasium 23–17
Voortrekker 22–16
- Toekoms lyk rooskleurig vir Rand Park na deurbraakseisoen - 2025-10-27
- Middies sluit 2025 op ’n hoë noot af - 2025-10-22
- Helpies die beste netbalskool in die land - 2025-10-16




