SuperSport Schools News

Streeptruie wil droogte in hoofwedstryde in Eikestad verbreek

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-07-18

 

STELLENBOSCH. – Die Westelike Provinsie sal hoop dat hy vandag vir die eerste keer sedert 1973 as die nie-amptelike kampioen van ‘n Cravenweek in dié Bolandse dorp gekroon kan word. Die Eikestad is vanjaar vir ‘n rekord vyfde keer die gasheer van die Cravenweek.

Die Streeptruie het ‘n goeie rekord in Stellenbosch met die feit dat hy vandag in sy vierde van die vyf hoofwedstryde in aksie sal wees. Die span kon egter nog net een keer in 1973 teen Transvaal in die wedstryde as oorwinnaars van die veld in die Eikestad stap.

Die tuisspan se teenstander in vanjaar se hoofwedstryd, die Oostelike Provinsie, is die nie-amptelike verdedigende kampioen na hy verlede jaar vir Suidwestelike Distrikte met 25-7 in die hoofwedstryd verslaan het. OP sal hoop dat Bosch-magic deur verlede jaar se Cravenweek-speler van die jaar, Curwin Bosch, aan hom ‘n sege kan besorg.
Die tweestryd om dop te hou in die hoofwedstryd sal egter tussen die twee spanne se agtstemanne, Kwezi Mafu (OP) en Khanya Ncusane (WP), wees.

Die geheim in die grootste sege nog ooit in ‘n hoofwedstryd van die Cravenweek het gekom deur dié genot wat die spel bring. Die Vrystaat het met die vorige toernooi die WP met 52-3 in die hoofwedstryd op ‘n nat Markotter-stadion verslaan.

“Ons was baie kalm as span voor die tyd, ons het die gevoel gehad van dit maak nie saak wat vandag gebeur nie, ons as ‘n span het klaar meer bereik as om te wen, omdat ons so na aan mekaar gegroei het. Ek onthou goed hoe ek voor die wedstryd na my broer Sias toe gestap en gesê het dat hy nie moet stres vandag nie, dit maak nie saak wat vandag gebeur nie, of ons wen of verloor. Kom ons geniet net die wedstryd saam. Ek het al baie gehoor en gesê geniet dit net manne, dis mos hoekom ons speel, want dit is lekker, maar daardie dag het ek dit bedoel en gevoel,” het Ebersohn gesê.

In die vorige hoofwedstryd in Stellenbosch in 1996 was Pierre Joubert wat later ‘n suksesvolle eersterangse krieketloopbaan gehad het, Noord-Transvaal se held toe hy die Streeptruie met 24-12 verslaan het. “Ek onthou hulle haker, Stefan Myburgh, het die heeltyd vir my gesê hy gaan my vang. Ek het nooit as ‘n krieketspeler in my loopbaan soveel abuse soos daardie dag gevat nie. Ek het wel hom in die gesig raakgeskop met die bal en hy is boonop geblaas omdat hy ontkant was. Verder het die wedstryd verby gevlieg,” het Joubert gesê.

Die Noord-Vrystater, AJ Jacobs, sal die fluitjie in dié wedstryd blaas. Hy is sover vasgestel kon word die eerste skeidsregter van die Griffons wat die eer te beurt val.

Die Valke en Boland sal albei ook vandag probeer om die toernooi onoorwonne af te sluit. Die Valke kom teen Grens te staan, terwyl Boland vir die Blou Bulle sal pak.

Vandag se bepalings:

Markotter-stadion – 13:25: KwaZulu-Natal t. Suidwestelike Distrikte; 15:00: Westelike Provinsie t. Oostelike Provinsie. Volkskombuis – 10:15: Grens t. Valke; 11:45: Blou Bulle t. Boland. Meulsloot – 09:00: OP-platteland t. Griekwas; 10:30: Pumas t. Vrystaat; 12:00: Goue Leeus t. Griffons. Doornbosch – 09:00: Zimbabwe t. Namibia; 10:30: Griekwa-platteland t. Grens-platteland; 12:00: Luiperds t. Limpopo Blou Bulle.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.