Stellenberg dra Interskole-kroon

Stellenberg het Saterdag die spiere gebult in hul Sportsmans Warehouse Premier Interschools-kragmeting met Hoërskool Bellville, om met 26-17 die pyp te rook.
Beleef die aksie weer op SuperSport School – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Bellville het uit die blokke geskiet met ‘n onderskepdrie deur binnesenter, James Parker, om die besoekers se ondersteuners binne die eerste minuut op hul voete te kry.
Die Jade Brigade se pak voorspelers het egter oor té veel krag voorlangs beskik, en kort voor lank het vaskopstut, Dean Janse van Rensburg, vir sy eerste van twee drieë oorgedryf.
Stellies se staatmaker-haker, Almero Keizer, het hul tweede drie aangeteken vir sy span om die voortou te neem, terwyl Bellville slegs drie verdere punte, danksy ‘n strafdoel deur Ashwin Cox, kon byvoeg, wat die halftydtelling op 14-10 in Stellenberg se guns te staan gebring het.
Na die omdraaislag was dit weer die besoekers wat die aanvanklike momentum geniet het, maar Stellenberg se verdediging het sterk gestaan en, na bykans 20 minute se oor en weer aanval, het Janse van Rensburg oorgeduik vir sy tweede drie vanaf ‘n effektiewe lynstaandryf.
Die besoekers het nogmaals teruggeslaan deur stut, Nathan van Tonder, maar Stellenberg se buitsenter, Luka Tonitz, het die wendrie in die laaste vyf minute gedruk na skitterende samespel met vleuel, Armand Pretorius.
Na ‘n reeks strawwe bepalings aan die begin van die seisoen, lyk dit asof die Jade Brigade week na week verbeter en hulle sal op daardie momentum wil voortbou wanneer hulle eerskomende naweek vir Parel Vallei in Somerset-Wes pak.
Intussen het Hoërskool Durbanville ook geseëvier teen Hoërskool Brackenfell. Die Durbies se breker-flank, Tiaan Kearns, het ‘n tweekuns behaal om vir sy span ‘n sege van 31-21 te help verseker.
Brackenfell sal die nederlaag vinnig moet afskud alvorens hulle Vrydag vir Milnerton aanvat. Milnerton het egter self die afgelope naweek met 19-59 in die hek geduik teen SACS, maar voor dié teleurstellende uitslag het hulle al ‘n paar indrukwekkende vertonings opgedis en die kragmeting met Brackenfell beloof om ‘n opwindende tweestryd, met volop hardlooprugby, op te lewer.
Puntemakers:
Stellenberg 26 (14) – Drieë: Dean Janse van Rensburg (2), Almero Keizer, Luka Tonitz. Doelskoppe: Dehan Neethling (3). Hoërskool Bellville 17 (10) – Drieë: James Parker, Nathan van Tonder. Doelskoppe: Ashwin Cox (2). Strafdoel: Cox.
Hoërskool Durbanville 31 – Drieë: Tiaan Kearns (2), Ruvan van der Westhuizen, Divan Gravett. Doelskoppe: Tobie Roelofse (2), Claydon Carls. Hoërskool Brackenfell 21 – Drieë: Matthew Wyngaard, Cwenga Ntsapho. Doelskop: Junior Louw. Strafdoele: Louw (3).
Ander tellings
o.19 – Stellenberg II 71, Hoërskool Bellville II 0.
o.16 – Stellenberg A 40, Hoërskool Bellville A 10.
o.15 – Stellenberg A 33, Hoërskool Bellville A 6.
o.14 – Stellenberg A 31, Hoërskool Bellville A 10.
