SuperSport Schools Plus

Skole-bielies in Kimberley slaags

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-04-30

Wanneer olifante baklei is dit die gras wat die swaarste daarvan afkom.

Die spreekwoord van die Kikuyu-stam van Kenia is gepas vir die jaarlikse Wildeklawer-rugbytoernooi waar al die swaargewigte van die Suid-Afrikaanse skolerugby mekaar op die Hoërskool Diamantveld se Kikuyu-gras van vandag af sal pak.

Meer as 60 persent van die Suid-Afrikaanse Skole-span van verlede jaar was ook op die Wildeklawer-toernooi in aksie. Vanjaar sal geen uitsonodering wees nie. Vanjaar is daar ses spelers in die Diamantstad in aksie wat reeds verlede jaar die nasionale skolespan gehaal het.

Hulle is Joshua Vermeulen, Damian Willemse (albei Paul Roos), Manuel Ras, Salmaan Moerat (albei Hoër Jongenskool Paarl), Cabous Eloff (Affies) en Embrose Papier (Garsfontein).

Nog vyf spelers Earll Dowrie (Menlopark), Phillip Krause (Affies), Khanya Ncusane (Boishaai), PJ Steenkamp en Abner van Reenen (albei Garsfontein) het verlede jaar die SA Skole se A-span verteenwoordig.

Van die voorste tien skole in die land op die oomblik is dit slegs Jeppe Boys’ High en Glenwood wat nie in Kimberley in aksie is nie. Glenwood neem tans aan die jaarlikse Sanix-toernooi in Japan deel.

Daar bestaan geen twyfel dat die wedstryd Maandag tussen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria en Boishaai beloof om die hoogtepunt van die toernooi te wees nie. Boishaai spog met ’n onoorwonne rekord in sy laaste 27 wedstryde.

Die wedstryd tussen Grey-kollege en Garsfontein beloof om een van die hoogtepunte vandag te wees. Garsies beskik oor ’n opwindende agterlyn waar sy skrumskakel, Papier, en die heelagter, Van Reenen, van die gevaarlikste aanvallende spelers op skolevlak in Suid-Afrika is.

Grey is bekend dat hy nie bang is om die bal lug te gee nie. Sy senter Rikus Pretorius, heelagter Jandré de Beer en die veelsydige agterspeler Janco van Heyningen is spelers om dop te hou.

Op die jaarlikse rugbyweek wat Oakdale Landbou net buite Riversdal aanbied was daar vanjaar slegs twee spanne wat die toer onoorwonne kon afsluit. Dit was Oakdale Landbou en Welkom Gimnasium. Die twee spanne kry vandag die kans om die argument wie eintlik die beste span op die week was te bepaal.

In die hoofwedstryd van die dag tussen die gasheer, Diamantveld, en Boland Landbou behoort die rugby ook van hoogstaande gehalte te wees. Albei spanne beskik oor ’n gedugte agttal, terwyl albei spanne se senterpare was hoogstaande gehalte is.

Die tweestryd tussen Boland Landbou se Henlo Marais en JJ Janse van Rensburg en Diamantveld se Etdeon Greyvenstein en De-an Ackermann kan vir hope vuurwerk sorg.

Die bepalings is:

08:00: EG Jansen t. Louis Botha; 09:10: Oakdale Landbou t. Welkom Gimnasium; 10:20: Stellenberg t. Noord-Kaap; 11:30: Monument t. Selborne College; 12:40: HTS Middelburg t. Paul Roos Gimnasium; 13:50: Paarl Gimnasium t. Menlopark; 15:00: Hoër Jongenskool Paarl t. Waterkloof; 16:10: Grey-kollege t. Garsfontein; 17:20: Affies t. Outeniqua; 18:30: Diamantveld t. Boland Landbou.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.