Skild-wedloop nog wawyd oop

Die wedloop in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling is steeds wawyd oop met ‘n aantal spanne wat, voor hierdie naweek se ronde, steeds ses wedstryde het om te speel.
Volg al die Skild-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Een só ‘n span is Hoërskool Die Anker, wat Saterdag vir die gevaarlike Heidelberg Volkskool op sy tuisveld in Brakpan welkom heet.
Die Volkies het reeds vyf wedstryde agter die rug en lê tans tweede op die afdeling se puntelys, met 17 ligapunte, een meer as Hoërskool Ben Vorster se 16 in die derde posisie. Die manne van Brakpan, daarenteen, beklee die sesde plek, met agt ligapunte.
Die Anker sal dus oorgehaal wees vir sy tweede sege in vanjaar se kompetisie, nadat hy verlede naweek tuis in ‘n rillerstryd teen Hoërskool Lichtenburg met 36-36 gelykop gespeel het.
Die Volkies het kort voor die vakansie ‘n taamlike terugslag beleef met vier groot name wat Saterdag afwesig is in Brakpan as gevolg van beserings. Die vernaamste hiervan is agsteman, Juandré Pretorius, wat deur stut, Dean Last, vervang word, terwyl Dyllan Baird, Last se plek in die voorry ineem. Losskakel, Marco Botha, laat ook ‘n groot leemte, maar die ervare Hein Oelofse skuif oor van skrumskakel na losskakel om die toutjies agterlangs te trek.
Die tuisspan het een verandering aangebring aan die span wat in die boksgeveg met die Liggies betrokke was, met die beseerde steelkantflank, Markus Herbst, wat deur die bekwame Vian Strydom vervang word. Strydom sluit dus aan in die lostrio by Die Anker se inspirerende agsteman en kaptein, Ruben Herbst, en haastige oopkantflank, Byron van Zyl.
In Springs, verwelkom Hoërskool Hugenote vir Hoërskool Lictenburg. Die Liggies, tans in die vyfde plek, het nog slegs drie wedstryde in vanjaar se reeks gespeel, waarvan hulle twee gewen het, terwyl die Hugies nog op soek is na ‘n eerste sege. Boonop het die jaarlikse wintergriep posgevat in die span van Springs en is die afrigtingskorps nog besig om te beraadslaag oor hul span.
Die Liggies, daarenteen, betree Saterdag se stryd met slegs een verandering, met hul Cravenweek-agsteman en kaptein, KG Legodi, wat las ervaar van ‘n ligte dyspierbesering. Afrigter, Michael Bondesio, het dit goed gedink om vir Legodi ‘n blaaskans te gee, met Tiaan Booysen wat van steelkantflank na agsteman oorskuif en deur Tydian Williams aan die kant van die skrum vervang word.
In Piet Retief is dit die stryd van die “Pieties” met Hoërskool Pietersburg wat op die Jack Botes, tuisveld van Hoërskool Piet Retief, besoek aflê. Nuus uit die Piet Retief-kamp is dat hy vir ‘n derde agtereenvolgende week met dieselfde beginspan op die veld draf, iets wat hoofafrigter, Herman Schlebusch, opgewonde maak, aangesien sy puntemasjien, Vuyani Tshabalala, uitstekend op dreef is.
Die span van Pietersburg lek nog wonde na ‘n nederlaag van 15-39 teen Hoërskool Ben Vorster verlede naweek in Tzaneen. Die Pieties het egter reeds vanjaar gewys dat hulle nie ligtelik opgeneem moet word nie, vernaam direk ná ‘n nederlaag. ‘n Uiters opwindende stryd word dus in Piet Retief verwag.
Die spanne:
Die Anker t. Heidelberg Volkskool om 12:20 in Brakpan:
Die Anker: 15 Paul Schutte, 14 Dyllon le Roux, 13 Arno Krugel, 12 Edrick Pienaar, 11 Jonothan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Troy Joubert, 8 Ruben Herbst, 7 Vian Strydom, 6 Byron van Zyl, 5 Brendan van Lutterveld, 4 Marco Groenewald, 3 Xavier Momberg, 2 Rico Goosen, 1 Branden Sauerman.
Heidelberg Volkskool: 15 JV Badella, 14 Jason Brits, 13 Theuns van der Merwe, 12 Tristan Munro, 11 Pieter Greyling, 10 Hein Oelofse, 9 Kyle Hutchinson, 8 Dean Last, 7 Klaas Venter, 6 Jaco Botha, 5 Jano Dietrechsen, 4 Werner Grobler, 3 Dyllan Baird, 2 Henru Coetzer, 1 Reuben Bothma.
Hoërskool Hugenote van Springs t. Hoërskool Lichtenburg om 13:30 in Springs:
Hugenote (Springs) (moontlik): 15 Christaan Basson, 14 Andile Dhlamini, 13 Yovan Prinsloo, 12 Dylan Nel, 11 Kyle de Klerk, 10 George Lucas, 9 Thanyani Mokiri, 8 Euan Venter, 7 Luan Pretorius, 6 Arné Marais, 5 André Coetzee. 4 Tristan de Beer, 3 Wian Rudolph, 2 Luan Smit, 1 Franko Neuhoff.
Lichtenburg: 15 Xander Blom, 14 Tehan Potgieter, 13 Oratile Sekoto, 12 WJ Liebenberg, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 Tiaan Booysen, 7 Tydian Williams, 6 MC Shanahan, 5 Darius Lombard, 4 George Bingudzu, 3 Juan van Rhyn, 2 David Passetti, 1 Ruben Pretorius.
Hoërskool Piet Retief t. Hoërskool Pietersburg om 12:30 in Piet Retief:
Piet Retief: 15 Owethu Shabalala, 14 De Klerk Ferreira, 13 Bubele Ngubane, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Kyle Stock, 9 Domenic Coetzer, 8 Marnus Thomas, 7 SJ van Barneveld, 6 Lethu Hlope, 5 Harold Gevers, 4 Abongwe Maduna, 3 Aza Phakathi, 2 Mario de Oliveria, 1 Sfundo Mayisa.
Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armand Venter, 13 Zuhan Labuschagne, 12 Siya Mahlangu, 11 Basson Wolmarans, 10 Juan Randall, 9 Celliers van der Merwe, 8 FC Smith, 7 Juan Jansen van Vuuren, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Elardus Erasmus, 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.