SuperSport Schools News

Shimla-liga kry nuwe kampioen danksy Diamonds

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-08-17

NewsG JancoCloeteDanksy die Hoërskool Diamantveld sal daar vanjaar vir die eerste sedert 2009 ‘n nuwe kampioen in die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) gekroon word. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.

Diamonds het daarin geslaag om in sy jaarlikse ENB Classic Clash vir Noord-Kaap sy eerste drag slae sedert 2008 op sy tuisveld, Pirates, toe te dien. Hulle het met 16-10 as oorwinnaars van die veld gestap.

Die wenspan was laas in 2007 op Pirates teen Noord-Kaap baas. Sedert die ontstaan van die streekkompetisie kon nog net die Harmony-Sportakademie (2007-08) en Noord-Kaap (2009-14) die titel as kampioen dra.

Die laaste speler van Noord-Kaap wat ‘n rooikaart in die Classic Clash gekry het, was interresant genoeg die losskakel, Tiaan van Wyk, in 2007. Gister het die buitesenter, Zayne Farmer, ook na vuilspel vroeg in die tweede helfte die trekpas gekry. Northerns was toe met 10-7 voor na hy rustyd ‘n voorsprong van 10-0 geniet het.

Die grondslag vir die sege is deur Diamonds se rotsvaste verdediging gelê. Die span se kaptein en flank, Janco Cloete, het by die afbreekpunte vir Northerns probleme besorg. Hy het ‘n hele paar keer omgekeerde besit bewerkstellig.

Die agtsteman, Johan “Skema” Joubert, het buiten sy twee drieë ook met sy inklimspel beindruk. Die losskakel, Gerco Nortjé, se besluitneming was van hoogstaande gehalte, terwyl hy ook met ‘n reuse-strafdoel van 55m geslaag het.

Vir Norherns kan sy agtsteman, Gerhard Holtzhausen, en die stut Stefan Smit tevrede met hul vertonings voel.
In die eindstryd van Griekwas se mediumskole-liga op GWK-park in Kimberley het Kathu die bordjies teen die Leeus van die Hoërskool Kalahari van Kuruman met 22-15 verhang. Die Leeus was in die twee spanne se ligawedstryd met 22-19 baas.

Kathu se haker, Mardus Botha, en flank JP Pienaar was voorlangs uitmuntend, terwyl die skrumskakel, Robert Wessels, en die losskakel en kaptein, Arno Meyer, agterlangs blink vertonings gelewer het.

Kathu sal in die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) teen die Vrystaatse kampioen, St. Andrew, in die halfeindstryd te staan kom.

In die Colts-liga sal Bultfontein vir Sand du Plessis wag, terwyl Brandfort teen die Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas in die ander halfeindstryd sal speel.

Puntemakers:

Diamantveld 16 (5) – Drieë: Johan Joubert (2). Strafdoel: Gerco Nortjé (2). Noord-Kaap 10 (10) – Drie: Cameron Hufke. Doelskop: Wilfred Bowers. Strafdoel: Bowers. 

Kathu 22 – Drieë: Arno Meyer, Celest Mazzosi, JP Pienaar, Samuel Muzzasa. Doelskop: Meyer. Kalahari (Kuruman) 15 – Drieë: Brian Whitehead, Kaylen Griqua. Doelskop: Griqua. Strafdoel: Griqua.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.