SuperSport Schools Plus

Sentraal kan nie bekostig om vandag te verloor nie

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-05-16

Die eerste rugbyspan van Hoërskool Sentraal kan nie bekostig om nog kragmeting in vanjaar se Vrystaatse A1-liga te verloor nie.

Dié span van 2014 het groot belofte getoon om die eerste span van sy skool te word om daarin te slaag om as kampioen gekroon te word. Maar na nederlae teen die Cherries (50-17) en Fichardtpark (33-29) sal die Bloktruie Saterdag op sy tuisveld met sy rug teen die muur in sy jaarlikse ENB Classic Clash teen Jim Fouché uitdraf. Dit is ook ’n ligawedstryd.

“Ons kan nie nou nog bekostig om nog een in die liga te verloor nie. Ek dink ons sukkel om momentum op te bou na ons lank nie in aksie was nie en nou weer drie wedstryde kort op mekaar gespeel het,” het Jorrie Grobler, afrigter van Sentraal, gesê.

Tralies sal hoop dat sy tuisveld vir hom ’n bondgenoot is. Hoewel Jim Fouché bo in die laaste drie kragmetings tussen die twee spanne was, kon hy laas in 2008 vir Sentraal op sy tuisveld troef. JF was op die dag oortuigend 62-14 baas. Die Springbok-sewesspeler, Jamba Ulenga was nog daardie dag die wenspan se held.

Sentraal sal ook die wedstryd sonder sy staatmaker slot, SJ Wessels aanpak. Hy het sy enkelligamente beseer en sal minstens die volgende twee weke die spel van die kantlyn af moet dophou. Hennie Terblanche wat in Wessels se plek uitdraf kry ’n geleentheid wat aan die begin van die seisoen onmoontlik gelyk het. Hy het aan die begin van die seisoen nie rugby gespeel nie en nog onlangs vir Sentraal se derde span uitgedraf. 

Jim Fouché se span in onveranderd vir die wedstryd na hy hom verlede week teen Marlow Landbou (27-23) vasgeloop het. JF moes vroeër vanjaar ook hard werk om Fichies 21-20 onder te kry.

Die span sal hoop sy agterhoede vuur op alle silinders in die kragmeting. Die heelagter Danneel Stone, vleuel Thiardt Ingram en senterpaar JP Steyn en Ruan Wasserman kan enige verdediging op hulle dag aan flarde skeur.
Grey-kollege sal op sy tuisveld teen Selborne-kollege van Oos-Londen sy onoorwonne status wil behou.

Vandag se bepalings (tuisspanne eerste vermeld):

10:10: Hoopstad t. Welkom High; 11:00: Paul Erasmus t. Harrismith; 11:00: Prieska t. Hartswater; 11:30: Riebeeckstad t. Bothaville; 11:30: Hennenman t. Wessel Maree; 11:30: Ladybrand t. Vrede; 11:30: Zastron t. Hoërskool Bloemfontein; 11:40: Welkom-Gimnasium t. Hoërskool Kroonstad; 11:50: AHS Kroonstad t. Voortrekker; 12:00: Witteberg t. HTS Welkom; 12:00: Hentie Cilliers t. Goudveld-Hoërskool; 12:00: Hopetown t. De Aar; 12:00: Ficksburg t. Wilgerivier; 12:30: Louis Botha t. Fichardtpark; 12:30: St. Andrew t. St. Alban-kollege; 12:30: Brandfort t. President Steyn; 12:40: Grey-kollege t. Selborne-kollege; 13:10: Sandveld t. Theunissen; 13:30: Sentraal t. Jim Fouché; 16:00: Vaalharts t. HLNK Jan Kempdorp.

Koffiefontein – 11:45: Kimberley Boys’ High t. Martie du Plessis; 14:15: Hendrik Potgieter t. NJ Heyns; 16:45: Koffiefontein t. Boshof.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.