Schoeman skitter in Monties se terugvegpoging teen Pieties


Hoërskool Montana het hul rekening in die Skild-afdeling van die Noordvaal Cup seëvierend afgeskop danksy ‘n skitterende terugvegpoging Saterdag in Pretoria.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Monties het ‘n rustydagterstand van 17-22 uitgewis met ‘n uitstaande vertoning in die tweede helfte om uiteindelik met 36-25 teen Hoërskool Pietersburg as oorwinnaars uit die stryd te tree.
Die Monties, óók bekend as die Wit Bulle, se Sam Schoeman (linkervleuel) het oorgeduik vir twee van sy span se vyf drieë en sy ervaring, dis Schoeman se tweede jaar van eerstespan-rugby, het sterk deurgekom. Voorlangs het die werkesel-slot, Kyle Bronkhorst, vir die besoekers deurgaans besig gehou met sy inklimspel.
Alhoewel die Pieties met ‘n nederlaag huiswaarts moes keer, het hulle steeds beïndruk teen ‘n goed afgerigte Montana-span, en kan kan hulle heelwat selfvertroue uit die vertoning put vir die pad vorentoe.
Ryno Mienie gaan van krag tot krag op heelagter en hy was persoonlik verantwoordelik vir 20 van sy span se 25 punte. Nes Schoeman, het Mienie ook tweekeer agter die doellyn gaan kuier en ook met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag.
Hoërskool Secunda se agsteman, Franko Rossouw, het van voor gelei in sy span se sege van 39-13 oor Hoërskool Hugenote van Springs, in Secunda. Rossouw het sy aanvalsvernuf benadruk met ‘n tweekuns aan drieë en terselftertyd ‘n platform help skep vir die gevaarlike senter-kombinasie van Bismark Jansen en Armand Underhay, wat ook twee keer gedruk het, om hul vaardighede uit te stal.
Rossouw en oopkanflank, Sifiso Hlungwane, is albei nog sterk aanspraakmakers vir plekke in die Pumas se Cravenweekspan.
Hoërskool Ben Vorster het in Tzaneen die bordjies teen Hoërskool Die Anker verhang deur met 26-12 oor die besoekers van Brakpan koning te kraai. Die kragmeting was in gebroke spel beslis, waar die Buffels straks op sy gevaarlikste is, en dit pas vir buitesenter, Tumi Ramohlale, wat nie net soos ‘n wafferse losvoorspeler die bal jag nie, maar ook uitblink op die aanval.
Hoërskool Piet Retief het ‘n koue verwelkoming in die Skild-afdeling ontvang, met Heidelberg Volkskool wat hom met 57-15 slae gegee het. Haker, Henru Coetzer, was vernietigend en het met die Skild-afdeling se eerste driekuns aan drieë vorendag gekom. Agterlangs het linkervleuel, Pieter Greyling, ook die besoekers al hul dae gegee.
Puntemakers:
Montana 36 (17) – Drieë: Sam Schoeman (2), Braam Schutte, Kyle Bronkhorst, Dixie Sethuga. Doelskoppe: Rubel Bester (4). Strafdoel: Bester. Hoërskool Pietersburg 25 (22) – Drieë: Ryno Minie (2), Ziahn Lombard. Doelskoppe: Mienie (2). Strafdoele: Mienie (2).
Hoërskool Secunda 39 (24) – Drieë: Franko Rossouw (2), Armand Underhay (2), Sifiso Hlungwane, Bismark Jansen. Doelskoppe: Alonzo Blackenberg (3). Strafdoel: Blackenberg. Hugenote (Springs) 12 (8) – Drie: Luan Pretorius. Doelskop: George Lucas. Strafdoel: Lucas.
Ben Vorster 26 – Drieë: Tumi Ramohlale, Kobus de Beer, Chifu Banda. Doelskop: Shelton-Ray Primo. Strafdoele: Primo (3). Die Anker 12.
Heidelberg Volkskool 57 (31) – Drieë: Henru Coetzer (3), Pieter Greyling, Dean Last, Theuns van der Merwe, Hein Oelofse. Doelskoppe: Marco Botha (6). Hoërskool Piet Retief 15 (8) – Drieë: Kyle Stock, Vuyani Tshabalala. Doelskop: Olwethu Shabalala. Strafdoel: Shabalala.
Ander spanne:
o.16: Montana 15, Pietersburg 14; Hugenote (Springs) 19, Secunda 17; Ben Vorster 36, Die Anker 14; Piet Retief 31, Heidelberg Volkskool 21.
o.15: Pietersburg 20, Montana 19; Secunda 46, Hugenote (Springs) 22; Ben Vorster 36, Die Anker 3; Piet Retief 27, Heidelberg Volkskool 10.
o.14: Montana 24, Pietersburg 7; Secunda 12, hugenot (Springs) 0; Ben Vorster 54, Die Anker 0; Heidelberg Volkskool 13, Piet Retief 7.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




