SACS, ‘Bosch wil wraak neem teen Boland Landbou en Boishaai

Nadat hulle verlede naweek ‘n loslootjie geniet het sal Boland Landbou weer oorgehaal wees vir aksie wanneer hulle Saterdag vir SACS in die Agter-Paarl welkom heet.
Beleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou
Verlede jaar het die boere met 32-22 in die moederstad geseëvier, dus sal SACS vasberade wees om die bordjies te probeer verhang wanneer hulle hierdie naweek op die plaas gaan kuier.
Verlede Saterdag het SACS beïndruk deur Milnerton se segetog tot ‘n einde te bring met ‘n wegholoorwinning van 59-19. Hulle pak egter hierdie naweek se uitdaging aan sonder hul kaptein, Seth Bradford, vleuel, Quewinn Lackay, en flank, Tashriq Bailey.
Buitesenter, Nic Reynolds, neem die leisels oor met Max Bester wat in die nr. 9-trui begin. Imtiaz Abrahams draf uit op die vleuel en Qawe Sawuka sak langs die skrum na ‘n rits beserings aan die SACS-vyftiental.
Met gevaarmanne soos Reynolds, heelagter, Jack Benade en losskakel, Rayaan Solomons op hul pos sal die Boland-span egter steeds wakker moet wees om die besoekers se agterlyn in toom te hou.
Hans Verster trek elke week aandag met sy kragtige spel in die Boland-trui, terwyl die tuisspan self oor genoegsame spoed agterlangs beskik, met Wehan Lume en Enslin Claasen op die vleuels.
Rondebosch Boys’ High soek ook wraak in Brugstraat wanneer hulle vir die Hoër Jongenskool Paarl die stryd aansê.
In 2023 het Boishaai met 12-7 koning gekraai na ‘n rillerstryd in die Kaap. Teen halftyd was dit nog net ‘Bosch wat punte kon aanteken, en hulle sal hul lippe aflek vir die geleentheid om hierdie naweek enduit vir die Paarl-reuse te kasty.
Die enigste verandering aan die Boishaai-span wat verlede naweek vir Bishops Diocesan College met 73-6 afgeransel het is Christiaan Grundling, wat terugkeer op haker.
Die besoekers word ook versterk deur die terugkeer van hul haker, Justin Amos, maar is sonder hul ster-skrumskakel, Caleb Belelie, en buitesenter, Randall-John Davids. Travis van den Berg begin Saterdag op skrumskakel en Ewan Lawrie neem Davids se plek in.
‘Bosch het verlede naweek ook ‘n blaaskans geniet na ‘n goeie vertoning die vorige Saterdag, toe hulle vir Paarl Gimnasium laat sweet het. Die Gimmies het uiteindelik met 19-12 gewen en daardie stryd het definitief ‘n swaar tol geëis op die span van die suidelike voorstede.
Hul groot agsteman, Collin Paul Kemp, is nietemin ‘n speler om fyn dop te hou, aangesien hy elke naweek sy span op die voorvoet plaas met sy kragtige dryfspel en klipharde verdediging. Hierdie naweek kom hy egter te staan teen een van die sterkste lostrio-kombinasies in die land, met Douw Wessels, Rubin Dames en Steph van der Merwe wat tot dusver uitblink vir Boishaai.
Die spanne is:
Boland Landbou t. SACS om 12:30 – Skakel na die wedstryd
Boland Lanbdou: 15 Lyle Lewis, 14 Wehan Lume, 13 Xavier Vorster, 12 Juan Swart, 11 Enslin Claasen, 10 Pieter Bergh, 9 Jayden Brits, 8 Daniel Blom, 7 Blake de Kock, 6 Hans Verster, 5 Ruan Viviers, 4 Chad Meintjies, 3 Henry Rudder, 2 Thiaan van Zyl, 1 Derick du Preez.
SACS: 15 Jack Benade, 14 Quewinn Lackay, 13 Nic Reynolds, 12 Matt Carrick, 11 Endi Sidinile, 10 Rayaan Solomons, 9 Max Bester, 8 Daniel Grant, 7 Qawe Sawuka, 6 Zac Wilson, 5 Pierre van Selm, 4 Callum Hirst, 3 Ikhona Maxegwana, 2 Sango Zangqa, 1 Ethan Combrink.
Hoër Jongenskool Paarl t. Rondebosch Boys’ High om 13:30 – Skakel na die wedstryd
Hoër Jongenskool Paarl: 15 Francois van der Merwe, 14 Aiden Jacobs, 13 Tristan Joubert, 12 Viaan Mentoor, 11 Shane Lee Simonse, 10 Jeneal Davids, 9 Keagan Smith, 8 Douw Wessels, 7 Rubin Dames, 6 Steph van der Merwe, 5 Jayden Joubert, 4 Gershom Pieters, 3 Cruz Davey, 2 Christiaan Grundling, 1 Jordan Jooste.
Rondebosch Boys’ High: 15 Dylan Miller, 14 David Kadima, 13 Ewan Lawrie, 12 Alutha Wesi, 11 Shakeel Abrahams, 10 David Simon, 9 Travis van den Berg, 8 Collin Paul Kemp, 7 Joshua Neill, 6 Matthys du Plooy, 5 Tom Barnard, 4 Danil Nicolas Oosthuizen, 3 Matthew van der Merwe, 2 Justin Amos, 1 Luke Pretorius.