SA Skole-span kan vanjaar so lyk
Die Suid-Afrikaanse Skole-span word lankal nie meer slegs op grond van vertonings tydens die jaarlikse Cravenweek vir hoërskole gekies nie.
Die keurders woon deesdae toernooie soos Wildeklawer en die Paastoernooie by om hulle van die talent wat beskikbaar is te vergewis. Daar was byvoorbeeld drie van die SA Skole-keurders op die jaarlikse Noordvaal Bondedag in Pretoria te sien.
Hulle was Nollie de Beer, Johan Calitz en Geral Pyoos. Die ander SA Skole-keurders is Henkie Green (sameroeper), Danie Slabbert en Roelf Meyer.
Die keurders het vanjaar ook na beeldmateriaal van verskeie spelers se wedstryde gekyk om seker te maak dat hulle die room van Suid-Afrika se rugbytalent van 2016 sal skep.
Dit beteken nie dat spelers wat van vandag af aan die Cravenweek en Akademie-week op Kearsney College se velde net buite Durban nie steeds skitterspel hoef te lewer indien hulle vir een van die twee uitsoekspanne in aanmerking wil kom nie.
Die keurders sal soos verlede jaar twee spanne kies wat in Augustus in aksie sal wees.
School of Rugby het vanjaar besluit om sy hand te waag om voor die Cravenweek ’n SA Skole-span te kies.
Sewe spelers Damian Willemse, Manny Rass, Wandile Simelane, Salmaan Moerat, Khwezi Mafu, Cabous Eloff en Dewald Maritz het reeds verlede jaar ’n SA Skole-pet ontvang. Hulle behoort vanjaar die kern van die nasionale skolespan te vorm.
Ons het besluit om die Goue Leeus se slot Ruan Vermaak te kies al sal hy nie vanjaar op enige van die jeugweke in aksie wees nie. Vermaak sou een van die Leeus se staatmakers op die Cravenweek gewees het, maar sal die toernooi weens ’n besering misloop.
Hy behoort weer fiks te wees wanneer die SA Skole-span sy reeks van drie internasionale wedstryd speel. Die keurders het al voorheen in 2013 na die Cravenweek in Polokwane besluit om JD Schickerling vir die nasionale skolespan te kies al het hy die toernooi weens ’n besering misgeloop.
School of Rugby se span is:
Agterspelers: Gianni Lombaard (WP), Abner van Reenen (Blou Bulle), Muller du Plessis (WP), Cameron Hufke (Griekwas), Sihle Njezulu (OP), Wandisile Simelane (Leeus), Louritz van der Schyff (Blou Bulle), Manny Rass (WP), Vaughn Isaacs (OP-platteland), Damian Willemse, Deon Carstens (almal WP), Rewan Kruger (Vrystaat).
Voorspelers: Khanya Ncusane (WP), Khwezi Mafu (OP), Luke Fortuin (Blou Bulle), Muller Uys (WP), JC Pretorius (Pumas), Ryno Pieterse (Blou Bulle), Salmaan Moerat (WP), Ruan Vermaak (Leeus), PJ Steenkamp (Blou Bulle), JJ van der Mescht (KwaZulu-Natal), Dewald Maritz (Pumas), Cabous Eloff (Blou Bulle), André van der Merwe (Valke), Gugu Nelani (KwaZulu-Natal), PJ Botha (Leeus), Daniel Jooste (WP).
‘n Geredigeerde weergawe van die berig het oorspronklik op Netwerk24 verskyn.




