SuperSport Schools Plus

SA Skole neem soete wraak teen Engelse

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-08-16

In Curwin Bosch en Hendré Stassen het die Suid-Afrikaanse Skolespan gister genoeg skop en vuur voorlangs gehad om die Engelse se o.18-span in Kaapstad met 23-16 die loef af te steek.

Die Rose se bloeisels het die jong Suid-Afrikaners verlede jaar met 30-22 getroef. Die jong Bokkies het deeglik met dié sege wraak vir die nederlaag verlede jaar geneem. Stassen het aan die SA Skole-keurders gewys dat hulle ‘n fout begaan het om hom uit die uitsoekspan te laat. Hy is slegs tot die SA Skole-span opgeroep na ‘n besering tydens die internasionale reeks.

Stassen het in die lynstane gehalte balbesit vir die wenspan verseker en ook sy fisieke spel by die afbreekpunte het die Engelse so paar tree laat terugstaan. Die nederlaag verlede jaar teen die Rose was die eerste loesing wat die SA Skole-span sedert 2009 op die lyf geloop het.
Bosch wat die hoogste aanbiedings nog deur ‘n Suid-Afrikaanse skolespeler ontvang het, het met sy lang lynskoppe die verloorspan op die agtervoet gehou. Sy agttal het ook sake voorlangs oorheers met die vaskopstut, Carlu Sadie, wat in die skrum die Engelse opgekeil het.

Bosch het glo reeds besluit om sy loopbaan volgende jaar by die Blou Bulle voort te sit.

Sy akkurate stelskopwerk in moeilike toestande was gister goud werd vir die nasionale skolespan. Hy het op ‘n nat veld met ‘n meer as lastige wind spel met sy skopskoen gedikteer.

Daar moet ook genoem word dat Zain Davids met sy verskyning op die veld vanaf die plaasvervangersbank ‘n belangrike rol by die afbreekpunte gespeel het. Davids draf eintlik op senter vir sy skoolspan, Rondebosch Boys’ High, uit. Die kantman wat hy vervang het, Johan Visser, het self nie ‘n slegte wedstryd by die afbreekpunte beleef nie. Davids is ook eers nader getrek tot die SA Skole-span na Cobus Wiese weens ‘n besering moes uitsit.

Die SA Skole-span se naasbestes het 20-elk teen Wallis se o.18-span gelykop gespeel. Bishops se senter, Cornel Smit, het welverdiend sy kans in die wedstryd gekry. Hy was aanvanklik uit albei verteenwoordigende spanne gelaat. Smit was een van die Westelike Provinsie se sleutelspeler op die Cravenweek in Stellenbosch.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.