SuperSport Schools Plus

Rugby uit die boonste rakke op Riversdal


FOTO: Lunchbox Photography

Die eerste dag by vanjaar se Klein Karoo Saadproduksie-rugbyweek het weereens alle verwagtings oortref.

Vyftien kookwater-wedstryde het op die plaas in Riversdal afgespeel, met deurlopende aksie reg deur die dag op albei velde.

Hoër Landbouskool Oakdale se verteenwoordigende vyftiental het hul veldtog goed afgeskop met ‘n sege van 28-12 oor Hoërskool Bredasdorp in die hoofwedstryd, maar daar was ‘n hele paar oomblikke gedurende die dag wat aandag getrek het.

Beleef die wedstryde regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou

Oakdale het vroeg reeds druk geplaas op die besoekers, met twee strafdoele deur losskakel, Tyrese Plaatjies. Dit het egter 20 minute geneem voordat haker, Daniël Joubert, die eerste drie kon aanteken vanaf ‘n netjiese lynstaanbeweging.

Die span van Riversdal se heelagter, Zack Malherbe, het ‘n tweede hou ingekry toe hy ‘n skop afgestorm en die bal opgeraap het om tussen die pale te druk.

Bredasdorp se haastige flank, Prosper Kaitano, het hul rekening kort voor halftyd oopgemaak deur sy hakke te wys vir die tuisspan, vir sy span se eerste drie.

Bredasdorp het na die breuk weer gedruk om hul agterstand na slegs vier punte te laat krimp toe flank, Norte Mintoor, ‘n skop op Oakdale se doellyn afgestorm en die bal toegeduik het.

Die tuisspan het egter hergroepeer om weer beheer te neem van die wedstryd in die laaste kwart, en na ‘n periode van volgehoue druk kon Mardo Wasserman en Tian Kemp kort na mekaar die doellyn oorsteek om ‘n sege voor die tuisskare te verseker.

In die voorlaaste wedstryd van die eerste dag het Hoërskool Sentraal vir Pietersburg Hoërskool kwaai laat sweet vir ‘n naelskraapse oorwinning van 18-12. Die Bloemfonteinse span was teen halftyd met slegs drie punte agter, maar Pietersburg se losskakel, Hanno van Zyl, het die enigste punte in die tweede helfte aangeteken om die nodige buffer vir sy span daar te stel.

Die Tralies was egter tot op die eindfluitjie nog in die geveg en die manne van Pietersburg moes bontstaan om hul doellyn te verdedig.

Hoërskool Strand het ‘n uiters indrukwekkende sege van 14-10 oor Hoërskool Middelburg behaal, met drieë deur vleuels, Heinrich April en Lyle Julies, wat genoeg was om die Middies te laat struikel op die eerste dag.

Hoërskool Vryburg se kaptein, Keenan Joseph, het ‘n ongelooflike vertoning gelewer om sy span tot ‘n oorwinning van 31-21 oor Hoërskool Robertson te lei. Die fris agsteman het ál vier Vryburg se drieë gedruk, terwyl  losskakel, Jayden Starke, se visier ingestel was om al vier te verdoel, en ook ‘n strafdoel by te dra in hul sege oor die Wynlanders.

Ceres se verteenwoordigers, Hoërskool Charlie Hofmeyr, het hul spiere gebult teen Hoërskool Die Anker van Brakpan. Kaptein en ster-losskakel, Luan Giliomee, het 20 punte vir die Charlies aangeteken met twee drieë en vyf doelskoppe, terwyl Philip du Plessis, Tyrone Davids, Izha Vin van Wyk, Zepinith Sass en Deolyn Isaac die res van die vernietigingswerk verrig het in hul wegholsege van 45-12 .

Langenhoven Gimnasium het ewe oortuigend met Hoërskool Wagpos afgereken, met ‘n telling van 48-12. Skrumskakel, Jayden Arends, het die veld volgespeel en eiehandig 24 punte aanteken met ‘n driekuns en nege punte vanaf sy stewel.

Die grootse oorwinning van die dag het aan Merensky Landbou Akademie behoort, wat vir Hoërskool Hermanus met 50-12 die loef afgesteek het. Die Tzaneeners se senterpaar was weer witwarm in die middeveld, met Ulrich Maré wat ‘n driekuns behaal het en Jens Bezuidenhout wat ook gaan druk het.

FOTO: Lunchbox Photography

Saterdag pak Charlie Hofmeyr en Merensky mekaar in die hoofwedstryd om 19:10, en geoordeel aan hul vertonings op die eerste dag beloof dit ‘n opwindende kragmeting af te gee.

Nadat Hoërskool Swartland teen halftyd reeds met 17-0 voorgeloop het teen Hoërskool Lichtenburg, het die Liggies mooi teruggeveg in die tweede helfte. Hul agsteman, Abrie Coetzee, het twee drieë gedruk om die momentum te help swaai, maar ‘n strafdoel deur Swartland se binnesenter, Carlo van der Merwe, was nét genoeg om vas te klou vir ‘n oorwinning van 20-19.

Parel Vallei High School het ook nét te laat aan die gang gekom teen Hoërskool Oosterlig. Die Boksburgers het teen die breuk gelyk of hulle die oorhand geniet met ‘n voorsprong van 13-0 , maar die span van Somerset-Wes het in die tweede skof blitsig 21 punte opgestapel deur hul skakelpaar, Shudley Roda en Michael Kent, om binne trefafstand van hul opponente te eindig.

Oosterlig se heelagter, Jayden Bouwers, se 13 punte, danksy ‘n drie en drie suksevolle pogings pale toe, het op die einde die verskil beteken.

Bepalings vir Dag Twee, 23 Maart:

De Eike-veld: 08:45 – Westering t. Bredasdorp; 09:55 – Vryburg t. Upington; 11:05 – Lichtenburg t. Strand; 12:15 – Swartland t. Kempton Park; 14:00 – Langenhoven Gimnasium t. Potchefstroom Gimnasium; 15:10 – Hugenote t. Hoërskool Middelburg; 16:20 – Brackenfell t. Pietersburg; 18:00 – Oakdale XV t. Overberg; 19:10 – Charlie Hofmeyr t. Merensky.

Populierbos-veld: 08:45 – Hermanus t. Oosterlig; 09:55 – Labori t. Augsburg; 11:05 – Zwartkop t. Robertson; 12:15 – Parel Vallei t. Die Anker; 14:00 – Wagpos t. Montagu; 15:10 – Sentraal t. Hoër Volkskool Graaff-Reinet.

Die uitslae en puntemakers op Dag Een:

Oakdale XV 28 (16) – Drieë: Daniël Joubert, Zack Malherbe, Mardo Wasserman, Manny Gomes. Doelskoppe: Tyrese Plaatjies. Strafdoele: Plaatjies (2). Hoërskool Bredasdorp 12 (5) – Drieë: Prosper Kaitano, Norte Mintoor. Doelskop: Kyle Willeman.

Hoërskool Pietersburg 18 (15) – Drieë: Divan Brown, Celliers van der Merwe. Doelskop: Hanno van Zyl. Strafdoel: Van Zyl (2). Hoërskool Sentraal 12 (12) – Drieë: Steven Smith, CJ Hertzog. Doelskop: SJ Coetzee.

Hoërskool Strand 14 (7) – Drieë: Heinrich April, Lyle Julies. Doelskoppe: Tyron Nicholas (2). Hoërskool Middelburg 10 (10) – Drie: Matthew Abbey. Doelskop: Abbey. Strafdoel: Abbey.

Hoërskool Hugenote 31 (21) – Drieë: Cullen Ruiters (2), Strafdrie, Kieran de Villiers, Xavier Gertse. Doelskoppe: Lian Wiid (2).  Hoërskool Zwartkop 17 (3) – Drieë: Jayden Lee Cronwright, Logan Knott. Doelskoppe: Luhardt Booysens (2). Strafdoel: Booysens.

Potchefstroom Gimnasium 10 (7) – Drie: Jaco Nel. Doelskop: Jhanco de Beer. Strafdoel: De Beer. Hoërskool Upington 8 (5) – Drie: Sylvester Hoffman. Strafdoel: Hercules Hudson.

Hoërskool Brackenfell 34 (19) – Drieë: Cwenga Ntsapho (2), Matthew Wyngaard, Liam Lucas, Graigan Matroos. Doelskoppe: Junior Louw (3). Strafdoel: Louw. Hoërskool Kempton Park 27 – Drieë: Deon Mulligan, Tiaan Delport, Preston Smith, Joshua Meyer. Doelskoppe: Delport (2). Strafdoel: Delport.

Langenhoven Gimnasium 48 (36) – Drieë: Jayden Arends (3), Stephane du Plessis, Sinclair Lottering, Tamrin Peterson, Kevin Kennedy. Doelskoppe: Arends (3), Camron Avontuur, Cade Ayford. Strafdoel: Arends. Hoërskool Wagpos 12 (7) – Drieë: Tiaan van der Merwe, Franco Dippenaar. Doelskop: JG Olckers.

Hoërskool Charlie Hofmeyr 45 (31) – Drieë: Luan Giliomee (2), Philip du Plessis, Tyrone Davids, Izha Vin van Wyk, Zepinith Sass, Deolyn Isaac. Doelskoppe: Giliomee (5).  Hoërskool Die Anker 12 (0) – Drieë: Tian Mills, Danie Smit. Doelskop: Ruan Smith.

Hoër Volkskool Graaff-Reinet 18 (10) – Drieë: Jan Theo van Tonder, Lreese Stuurman. Doelskop: Elrico Prins. Strafdoele: Prins, AJ de Jager. Hoërskool Montagu 12 (0) – Drieë: Xolani Stevens, Algurvine Everson. Doelskop: Ronaldo Koker.

Hoërskool Overberg 12 (0) – Drieë: Lorenzo Kroutz, Andrew Erasmus. Doelskop: Favian Arendse. Augsburg Landbougimnasium 7 (7) – Drie: Greyton van Maroe. Doelskop: Hanre Swart.

Hoërskool Oosterlig 23 (13) – Drieë: Joël Jordaan, Kevin Koen, Jaydon Bruwer. Doelskop: Bruwer. Strafdoele: Bruwer (2). Parel Vallei High School 21 (0)- Drieë: Shudley Rhoda (2), Michael Kent. Doelskoppe: Rhoda (3).

Westering High School 24 (10) – Drieë: Lukholo Duna (2), Lemuel Kent, Siphosethu Dzwedzi. Doelskoppe: Avumile Katu (2). Labori 20 (8)- Drieë: Dante Muller, Johan Gerber, Joshua Gempies. Doelskop: McNiel Thomas. Strafdoel: Christiaan Beukes.

Hoërskool Merensky 50 (33) – Drieë: Ulrich Maré (3), Jens Bezuidenhout, Ruan Marcos, Hardus Terblanche, Tirelo Mashapa, Andreas Honiball. Doelskoppe: JD Boshoff (3), Byron Hendricks (2). Hoërskool Hermanus 12 (0) – Drieë: Lucion Fortuin (2). Doelskop: Giano da Kosta.

Hoërskool Vryburg 31 (24) – Drieë: Keenen Joseph (4). Doelskoppe: Jayden Starke (4). Strafdoel: Starke. Hoërskool Robertson 21 (14) – Drieë: Ethan Fourie, Bernardo Diedericks, Jaydan van Niekerk. Doelskoppe: Van Niekerk (3).

Hoërskool Swartland 20 (17) – Drieë: Kailen Kotze, Deven Bocks. Doelskoppe: Carlo van der Merwe (2). Stafdoelle: Van der Merwe (2). Hoërskool Lichtenburg 19 (0) – Drieë: Abrie Coetzee (2), Juan van Rhyn. Doelskoppe: Albert Joubert (2).

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.