SuperSport Schools Plus

Rooiskool oorrompel Blouskool 52-0

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-08-04

GOUDVELD-HOËRSKOOL se eerste rugbyspan het met sy sege van 36-18 oor Welkom-Gimnasium in hul jaarlikse derby ook sy aartsvyand uit die uitklopwedstryde geboender.

Gouties buitesenter, Carlton Coeries en losskakel Shakille Adams, het albei skitterende vertonings opgedis. Die span se kaptein en flank, Michael Herbert, het self in die los gewoel. Sy flankmaat, Malcolm Britz, het ook ’n waardevolle bydrae tot die sege gelewer. Adams het twee van die wenspan se drieë gedruk.

Voortrekker, Hentie Cilliers, die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad en Goudveld het tot die halfeindstryde van die Griffon-liga deurgedring.

) Die AHS Kroonstad het sy grootste oorwinning nog oor Hoërskool Kroonstad in die skole se derby Saterdag behaal.

Rooiskool was 52-0 baas met sy Cravenweek-kaptein en senter, Francois Stemmet, wat twee keer die doellyn oorgesteek het.

Hy was ook sy span se beste speler in die kragmeting.

Die slot, Erik Knoetze, het baie van Blouskool se besit in die lynstane afgeneem wanneer hulle die bal grond toe gebring het. Hy het ook elke keer wat hy die bal in die hand gehad het meters ver veld gewen.

Die agtsteman Johan Steyn en skrumskakel Duncan Horak verdien ook elk ’n klop op die skouer vir hulle spel in die wedstryd. Horak het onder moeilike omstandighede sy agterlyn van gehalte diens voorsien.

Die vleuel, Louis Steyn, het met sy lopies ook probleme vir Blouskool se verdediging besorg.

Blouskool kon nog nie sedert 2007 se interskole ’n sege oor Rooiskool te behaal nie.

) Voortrekker het sy interskole teen Witteberg op sy tuisveld in Bethlehem ook op ’n drafstap gewen.

Die span se skrumskakel Phillip Maré en agtsteman Junior Oosthuizen het elk ’n driekuns aan drieë in dié sege van 57-14 behaal.

Die span se losskakel, Tokkie van Zyl, het 17 punte tot die totaal bygedra. Hy het een van sy span se nege drieë gedruk en ook met ses van die doelskoppe geslaag.

Die span se flank, Clinton Moloi, het ook ’n uitstaande vertoning gelewer.

) Hentie Cilliers se skrumskakel, Jaywinn Juries, het op die beste manier moontlik op sy weglating uit die Suid-Afrikaanse Skole-span gereageer.

Juries het drie keer in sy span se oorwinning van 60-3 oor HTS Welkom gaan druk.

Sy bydrae tot die oorwinning was 25 punte. Hy het ook vyf doelskoppe oorgeklits.

AHS Kroonstad 52 (17) – Drieë: Francois Stemmet (2), Kobus Kleyn, JP Kalp, Jeandré Uys, Louis Steyn, Burnett Staal. Doelskoppe: Reuben Aucamp (7). Strafdoel: Aucamp. Hoërskool Kroonstad 0.

Voortrekker 57 – Drieë: Phillip Maré (3), Junior Oosthuizen (3), Clinton Moloi, Boeta Vermaak, Tokkie van Zyl. Doelskoppe: Van Zyl (6). Witteberg 14.

Goudveld-Hoërskool 36 (19) – Drieë: Shakille Adams (2), Carlton Coeries, Gregan Hull, Jaco Conradie, Aldo van Zyl. Doelskoppe: Adams (3). Welkom-Gimnasium 18 (8) – Drieë: SJ Malherbe, Byron Ferreira, Tristan Rothman. Strafdoel: Bernard Erasmus.

Hentie Cilliers 60 – Drieë: Jaywinn Juries (3), Benji Muller (2), Luan James, Urzill Speelman, Melton Wentzel, Ezrick Alexander. Doelskoppe: Juries 5. HTS Welkom 3.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.