Rooi Bulle wag op Transvalia in Middelburg
Die eersterugbyspan van die Hoërskool Transvalia sal Saterdag op sy momentum van die eerste ronde van die Tuks-reeks wil voortbou. Die span van Vanderbijlpark het met 31-elk gelykop teen die verdedigende kampioen, Monument van Krugersdorp, gespeel.
Transvalia kan egter nie te oorgerus na Middelburg reis, waar die Rooi Bulle van HTS Middelburg op hom sal wag nie. Almal weet die Rooi Bulle word nie maklik getem op sy tuisveld nie. HTS Middelburg het reeds verlede week in Pretoria teen Garsfontein gewys dat hy nie sommer net ‘n stryd gewonne sal gee nie.
Garsfontein het die wedstryd met 47-40 gewen na hy ‘n voorsprong van 30-14 teen rustyd geniet het. Garsies speel sy Tuks-wedstryd van die naweek teen Kempton Park eers Dinsdag. Die Turkoois Bere kom Saterdag teen Boland Landbou in die Agter-Paarl in die hoofwedstryd van laasgenoemde se jaarlikse sportdag te staan.
Dié wedstryd kan asa ‘n wraak-wedstryd gesien word na Garsies verlede jaar tydens die Noord/Suid-toernooi vir Boland Landbou danksy ‘n reuse terugveg-poging met 43-41 getroef het.
Monument sal op sy tuisveld, die Ras van Rooyen-veld in Krugersdorp, op al sy silinders teen die Hoërskool Pietersburg wil vuur. Monnas was gewis nie op sy beste teen Transvalia nie en die Pieties mag dit dalk ontgeld.
Die Hoërskool Menlopark het nie ‘n goeie eerste week van die seisoen beleef nie. Hoewel Menlopark vir die Hoërskool Rustenburg met 32-28 getroef het, sal die span nie tevrede met die vertoning voel nie. Die Parkies het ook verlede week teen Boland Landbou op die Blou Bulle se Prestige Rugbydag met 10-45 in die stof gebyt.
Menlopark reis na Mbombela waar hy nie enige gunsies van die Hoërskool Nelspruit se Rhinos te wagte moet wees nie. Menlopark se eerstespan bestaan uit spelers wat op o.16-vlak in onderskeidelik 2016 en 2017 as kampioene van die Virsekerbeker gekroon is. Daar word dus baie van die span verwag.
Eldoraigne se Groen Drake sal sy nederlaag van Helpmekaar-kollege (21-64) agter hom wil sit voor hy op die bus vir sy kragmeting Saterdag teen Rustenburg klim.
Die bepalings is (tuisspanne eerste vermeld):
12:30 – Monument vs Hoërskool Pietersburg; 13:15 – Hoërskool Nelspruit vs Menlopark.
- Athletics Rankings 2026 | Girls u19 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Girls u17 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Boys u17 - 2026-02-05




