Rooi Bulle takel onheilspellende Arende

Soos die effense byt in die lug en reuk van varsgesnyde rugbyvelde die 2025 rugbyseisoen aankondig, het die tyd aangebreek vir die jaarlikse NWU Sportreeks om af te skop.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoër Tegniese Skool Middelburg heet die gevaarlike Hoërskool Dr EG Jansen van Boksburg op sy tuisveld welkom vir wat beloof om ‘n taai stryd af te gee.
Die Rooi Bulle het in 2024 sy stempel afgedruk as een van die topspanne in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling. Hulle het in die eindstryd met 24-24 gelykop gespeel teen Hoërskool Transvalia om die titel in dié afdeling te deel.
Hoofafrigter, Jano Venter, en die res van sy span het sedert hulle die leisels oorgeneem by die trotse rugbyskool in Middelburg ‘n reuse verskil gemaak.
Die Jansies was ook kookwater en het, onderleiding van Rudi Dames en sy afrigtingspan, ‘n hele paar groot kanonne van regoor die land die skrik op die lyf gejaag. Vanjaar bied ‘n gulde geleentheid vir die volgende generasie Jansies om hul merk te maak.
Daar rus ‘n taamlike verantwoordelikheid op die skouers van haker, Marco Ventura, as straks die span van Boksburg se mees ervare speler vanjaar. Ventura is verlede seisoen weens ‘n rits beserings reeds ‘n aantal keer deur Dames op oopkantflank ingespan, wat sy veelsydigheid beklemtoon.
Die skakelpaar bestaande uit JP Jooste (skrumskakel) en Jeandré Reynders (losskakel), wat albei verlede jaar vir die Jansies op die plaasvervangerbank diens verrig het, sal sleutelrolle vertolk op die aanval.
Die Rooi Bulle spog daarenteen met 16 spelers wat vanjaar weer hul stewels vir eerste span aantrek, waarvan Johnny dos Santos die grootste naam is. Dié binnesenter, wat in 2024 groot opslae regoor die land met sy kragtige barslopies en ongenaakbare verdediging gemaak het, voer vanjaar die Middelburgers aan.
Die klipharde Tercius Bezuidenhout maak ook sy terugkeer in die nr. 8-trui, terwyl die ervare WJ Enslin weer op heelagter diens doen. Die Rooi Bulle het ‘n verdere aanwins in Marinus Oberholzer. Oberholzer, wat op stut uitdraf, het verlede jaar die veld aan die brand gespeel vir Hoërskool Montana.
Die spanne:
HTS Middelburg t. Hoërskool Dr EG Jansen om 13:45 in Middelburg:
HTS Middelburg: 15 WJ Enslin, 14 Kwnele Mkhize, 13 Jacques Greyling, 12 Johnny Dos Santos, 11 CJ Miller, 10 Nathan Janse van Vuuren, 9 Reece Botha, 8 Tercius Bezuidenhout, 7 Ethan de Kock, 6 Dewan Coetzee, 5 Griffin Devonish, 4 Janco Aucamp, 3 Marinus Oberholzer, 2 Hanro Terblanche, 1 Janco Botha.
EG Jansen: 15 Deshean Pieterson, 14 Jayden du Preez, 13 Chops Combrink, 12 Egan Pretorius, 11 Zulu Otlotleng, 10 Jeandré Reynders, 9 JP Jooste, 8 Slade Mowbray, 7 Jacques van Tonder, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Clayton du Buisson, 3 Deveraux Weideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Russouw.





