Riller in die Laeveld
Die vreugdevure brand hoog in die Laeveld nadat die Hoërskool Nelspruit se Rhinos die eerste keer die Beeldtrofee vir makroskole gewen het.
Nelspruit het Garsfontein gistermiddag in ’n spannende eindstryd met 20-19 geklop. Die rustydtelling was 10-7 in die nuwe kampioen se guns.
Nelspruit se ondersteuners het in die laaste minuut kwaai naels gekou toe Conree Poole van Garsfontein gaan druk het. Die doelskop was egter skeef en die eindfluitjie het geblaas – tot groot verligting en vreugde van die tuisspan.
In die geheel gesien het die Laevelders verdien om dié senutergende stryd te wen. Die wedstryd was ’n mooi advertensie vir skolerugby en Garsfontein verdien ook eer vir sy bydra tot dié skouspel.
“Dit is ’n geskiedkundige dag vir ons skool,” het die Rhinos se kaptein, Oscar Schuld, ná die sege gesê.
Volgens Gerhard Holzhausen, een van Nelspruit se afrigters, sal die sege met een punt “ ’n groot verskil in hierdie seuns se lewe maak”.
Nelspruit se losskakel Wessel Muller het 15 van punte aangeteken. Die slot Riaan le Roux is as die speler van die wedstryd aangewys.
) Die Hoërskool Klerksdorp het Transvalia se planne bederf om sy titel in die afdeling vir grootskole te behou.
Klerksdorp het met 27-15 gewen en die eerste keer sedert 2009 die Beeldtrofee verower. Die kampioen se losskakel, Elrich Hough, het sy skopskoen aangehad en ook sy agterlyn seepglad weggestuur.
Die tuisspan se vleuel Riaan Scholtz het met sy vaart beïndruk en twee keer gaan druk. Hy sluit dié seisoen met 20 drieë vir sy skool af.
Transvalia het nog goed opgeweeg totdat sy losskakel, Sean Ritter, die veld met ’n besering moes verlaat. Klerksdorp het toe ’n voorsprong van 27-3 opgebou.
Vir die besoekers het skrumskakel, Werner van Zyl, ’n goeie wedstryd beleef.
) Vryburg het sy vlekkelose vertoningslys in eindstryde van die Beeldtrofee behou deur Hans Strijdom met 29-21 in die afdeling vir mediumskole te klop.
Die Noordwesters se losskakel, BF van Staden, het 19 punte met die stewel bygedra. Die vleuel Joe van Huysteen het twee keer agter Hansies se doellyn gekuier.
) Schweizer-Reneke het op sy tuisveld Kosterskool as die Beeldtrofee se kleinskole-kampioen met 27-10 onttroon.