Results – St. John’s College Easter Festival 2016 – Day 1
Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch se eerste rugbyspan het met hul spel op die eerste dag van die 21ste jaarlikse St. John’s College Paastoernooi in Johannesburg die meeste van al die spanne beïndruk. Die span van die Eikestad het Hilton College met 67-6 behoorlik laat les opsê.
Dit was veral die spel van Paul Roos se twee SA Skole-spelers, Damian Willemse en Joshua Vermeulen, wat die meeste beïndruk het. Albei het twee keer die doellyn oorgesteek, terwyl Willemse ook met sewe doelskoppe en ’n strafdoel geslaag het. Willemse het dus ’n persoonlike bydra van 27 punte gelewer.
Paul Roos kom Saterdag op die tweede dag van die toernooi teen ’n veel groter toets in die vorm van Monument van Krugersdorp te staan. Monnas se senter Dandré Prinsloo het ’n driekuns aan drieë in sy span se sege van 47-0 oor die Italiaanse toerspan van Viadana. Sy sentermaat, MJ Pelser, het self twee keer die doellyn oorgesteek.
Paul Roos se buksie vleuel, David-Ley Moses, het self drie drieë vir sy span in minder as tien minute in die tweede helfte gedruk. Hy het met sy vaart vir Hilton College probleme besorg.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool het meeste van die plaasvervangers speelkans in sy beginspan teen Parktown Boys’ High gegee. Affies het steeds met gemak met 49-7 koning gekraai.
Parktown Boys’ High se Cravenweek-vleuel van die Leeus, Madosha Tambwe, het vroeg in die wedstryd sy span met 7-0 laat voorloop danksy sy vaart. Tambwe beman die laaste vesting vir Parktown Boys’ High.
Die Hoër Jongenskool Paarl het ook nie nodig gehad om na sy hoogte rat te verwissel om die Goue Leeus XV-tal met 54-0 te klop nie. Boishaai was verlede jaar die voorste skolespan in Suid-Afrika en behoort vanjaar weer onder die voorste vyf spanne in die land te tel.
In die hoofwedstryd onder spreiligte het Hoërskool Nelspruit die gasheer, St. John’s College, met 21-5 verslaan. St. John’s College se haker, Sibya Sibya, het in die laaste beweging ’n welverdiende drie gedruk.
Puntemakers:
Hoërskool Nelspruit 21 (9) – Drieë: Wium Barnard, Chris van der Merwe. Doelskop: Francois Esselen. Strafdoele: Esselen (2), Stephan van der Bank. St. John’s College 5 (0) – Drie: Sibya Sibya.
Affies 49 (28) – Drieë: Johan van Zyl (2), Marnus Potgieter, Henk Pretorius, Carel Koch. Doelskoppe: Charles Goedhals (5). Parktown Boys’ High 7 (7) – Drieë: Madosha Tambwe. Doelskop: Ethan Anderson.
Paul Roos Gimnasium 67 (22) – Drieë: David-Ley Moses (3), Joshua Vermeulen (2), Damian Willemse (2), Corné Wium, Gerado Jaar, Tristan Leitch. Doelskoppe: Willemse (7). Strafdoel: Willemse. Hilton College 6 (3) – Penalties: Angus Curtis (2).
Helpmekaar 36 (14) – Drieë: Sherman Rayners (2), Dameon Venter, Zandré Kruger, Chris Pieterse, David Cary. Doelskoppe: Tristan Oosthuizen (3). Strafdoel: Oosthuizen. St. John’s College (Harare) 10 (3) – Drie: Tanyaradzwa Chambati. Doelskop: Matthew Hart. Strafdoel: Hart.
Monument 47 (33) – Drieë: Dandré Prinsloo (3), MJ Pelser (2), Brendon Buitendag (2). Doelskoppe: Luke Rossouw (6). Viadana (Italië) 0.
Hoër Jongenskool Paarl 54 (14) – Drieë: Michael Visser (2), Wilhelm Barnard, Cameron Dorfling, Charl Serdyn, Daniel Jooste, Francke Horn, Gianni Lombaard. Doelskoppe: Lombaard (7). Goue Leeus XV 0.




