Rautenbach aan spits van Grey-kollege sege
BLOEMFONTEIN. – Die Vrystaatse talentwerwer, André Tredoux het waarskynlik weer raakgevat. Dit blyk uit die vertoning van Grey-kollege se buitesenter, Stephen Rautenbach Saterdag in sy span se sege van 50-21 oor sy naamgenoot Grey Boys’ High School van Port Elizabeth.
Buiten die feit dat Rautenbach ‘n persoonlike bydrae van 23 punte tot sy span se totaal bygedra het, het hy ook die mees indrukwekkende vertoning van Grey se agterspelers in die kragmeting opgedis. Die senter sal volgende jaar sy loopbaan in die Rosestad voortsit.
Dié wedstryd het een van die slegste beserings nog op ‘n rugbyveld in die streek gesien. Die besoekers se Cravenweek-slot, Martin Groenewald het sy been sleg gebreuk waarna die wedstryd amper stopgesit is. Die feit dat die kragmeting regstreeks op SuperSport uitgesaai is, het waarskynlik daartoe bygedra dat spel voortgesit is.
Buiten Rautenbach was die Suid-Afrikaanse Skole-heelagter, EW Viljoen weer ‘n goed op die aanval. Hy het twee keer gaan druk en ook die aanvoorwerk vir sy kaptein en flank Marius Louw se eerste drie gedoen. Dit was Viljoen en die stut Ruan Kramer se laaste wedstryde vir hulle skool se eerstespan op sy tuisveld.
Grey PE se kaptein en Cravenweek-flank, CJ Velleman sou die wedstryd weens ‘n besering misloop. Hy het egter wonderbaarlik herstel en gespeel. Dit was egter nie genoeg om sy span van ‘n loesing te red nie.
Duineveld het met ‘n sege oor Sentraal in Bloemfontein verseker dat sy busrit terug na Upington op ‘n geselliger not plaasgevind het. Velties het rustyd 13-10 voorgeloop, hoewel Tralies met die wind van agter in die eerste helfte gespeel het.
Die tweede helfte was ‘n wipplankstryd, maar Duineveld se losskakel Cobus van Niekerk het met uitmuntende skopwerk sy span op die voorvoet gehou. Vir die wenspan het sy vleuel Chris Opperman, senter Brendan-Lee Faro, flank Petri van der Merwe en slot Rayno Nel goeie vertonings gelewer. Du Plessis was egter sy span se beste speler.
Zastron het verlede Dinsdag op sy tuisveld 29-24 teen Brandfort gewen. Die besoekers was egter rustyd 17-10 voor. Die tuisspan het egter heelwat spelers ruskans gegun, terwyl Brandfort sonder sy staatmakers die agtsteman Jan Serfontein, flank Jaco Erasmus en slot Eugene Slater moes klaarkom.
Die twee spanne sal mekaar weer in die halfeindstryd van die Vrystaatse B1-liga ontmoet. In die ander halfeindstryd van die liga sal President Steyn en St. Andrew sake uitspook.
Fichardtpark het na Aliwal-Noord gereis en kon daarin slaag om sonder sy gereelde kaptein Morné de Beer ‘n sege van 24-15 te behaal. Vir die wenspan het sy flanke Krappies Labuschagné en Douw Joubert goeie spel gelewer.
Jim Fouché het te veel skietgoed vir Sand du Plessis gehad. JF het die kragmeting 51-12 gewen. Sannies het egter met ‘n moedige poging in die eerste helfte vorendag gekom. Die wenspan het met lemoentyd slegs 17-12 voorgeloop. Die tempo van die A1-liga wedstryd is iets waaraan Sannies nog moet gewoont raak. Die span behoort egter volgende jaar te verbeter op vanjaar se vertonings.
Vir Sannies kan sy flank JB la Cock, vleuel Marno Janse van Rensburg en slot Brandon Terblanché vandag breebors na hulle vertonings rondloop.