SuperSport Schools Plus

Potch Volkies en Gimmies, Wessies wys hul staal op netbalbaan

By Shane Labuschagne , in Netball | News , at 2025-03-17 Tags: , , , , , ,

Hoër Volkskool Potchefstroom, Wesvalia en Potchefstroom Gimnasium het as die sterkste spanne na vore getree tydens die afgelope naweek se netbalaksie in die NWU Prestige-reeks.

Die reeks wedstryde tussen Potch Volkies en Bergsig was uiters mededingend, met die twee skole wat mekaar met mening uitgedaag het.

Volkies het op die einde van die dag die oorhand verkry met vyf oorwinnings uit nege wedstryde, insluitende die belangrike o.19 A en B-wedstryde. In die eerstespan-kragmeting het hulle naelskraaps met 28-25 die botoon gevoer. Bergsig kan nietemin trots voel met oorwinnings in die o.14 B, o.15 B, o.16 B en o.17 A-wedstryde, wat wys dat hul jonger spanne groot potensiaal toon.

Wesvalia het die ontmoeting met Wagpos oorheers deur agt van die 10 wedstryde te wen. Valia het verál indrukwekkend vertoon in die o.16 en o.15-afdelings, waar hulle groot tellings opgestapel het. Wagpos het egter ‘n paar blink oomblikke beleef, vernaam in die o.19 B-kragmeting, waar hulle ‘n naelbytstryd met 10-9 deurgetrek het.

Potchefstroom Gimnasium het skoonskip gemaak teen Die Anker deur in ál 10 wedstryde as oorwinnaars uit die stryd te tree. Hulle oorwinning met 58-1 in die o.17 B-wedstryd was een van die grootste tellings van die dag en het hul oorheersing en diepte, regdeur al die ouderdomsgroepe, beklemtoon.

In die eerstespan-wedstryd het Die Anker met 10-38 die onderspit gedelf teen die talentvolle Gimmies.

Al die uitslae:

o.19: Potch Volkskool 28, Bergsig 25; Wesvalia 29, Wagpos 19; Potch Gim 38, Die Anker 10.

o.17: Potch Volksool 12, Bergsig 17; Wesvalia 23, Wagpos 15; Potch Gim 26, Die Anker 6.

o.16: Potch Volkskool 25, Bergsig 16; Wesvalia 40, Wagpos 6; Potch Gim 36, Die Anker 15.

o.15: Potch Volkskool 22, Bergsig 18; Wesvalia 35, Wagpos 6; Potch Gim 26, Die Anker 10.

o.14: Potch Volkskool 22, Bergsig 15;  Wesvalia 28, Wagpos 8; Potch Gim 28, Die Anker 20.

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.