SuperSport Schools Plus

Pieties, Heidelberg Volkies krap die Skild deurmekaar

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-10 Tags: , , , , , , , , , ,

FOTO: Hoër Volkskool Heidelberg op Facebook.

Met Hoërskool Pietersburg en Heidelberg Volkskool se onderskeie seges in die tweede laaste ronde van die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling, is die kat nou behoorlik los in die duiwehok.

Herleef al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die Pietersburgers het vir ietwat van ‘n opskudding gesorg deur vir Hoërskool Lichtenburg in ‘n naelbytstryd met 27-24 in Lichtenburg te troef.

Dit het hulle na vyfde op die puntelys geneem, slegs een punt agter Hoërskool Secunda (23), in die vierde plek, en twee voor Hoërskool Die Anker (20), wat sesde lê. Laasgenoemde se ontmoeting met die Pieties eerskomende Saterdag beloof dus om ‘n riller te wees.

Die Pieties se liefling, Ryno Mienie, was weer ‘n sleutelfiguur, met sy skopskoen wat uiteindelik deurslaggewend in Lichtenburg was. Dié heelagter het in ‘n winderige toestande ál drie sy span se drieë verdoel en ook met twee kritieke strafdoele geslaag.

Voorlangs het die besoekers se Cravenweek-voorry, met vaskopstut, Stephan Jansen van Rensburg, aan die spits, die pap dik aangemaak. Dit was verál in die skrums waar dié drietal die botoon gevoer het.

Liggies-kaptein, KG Legodi, en slot, George Bingudzu, was egter nie in ‘n bui om die sege op ‘n skinkbord aan te bied nie. Bingudzu het in die tweede helfte vurig ingeklim en is met ‘n welverdiende tweekuns aan drië beloon.

Heidelberg Volkskool het vir Secunda in sy laaste rondomtalie-wedstryd tuis met 31-24 verslaan. Volkies was met die omdraaislag nog met 12-17 agter, maar flank en kaptein, Jaco Botha, wat as speler van die wedstryd aangewys is, het die tuisspan in die tweede helfte op die voorvoet geplaas met sy kragtige dryfspel.

Die Volkies beklee nou die derde plek op die puntelys, met 24 punte, en sal asem ophou om te sien wat die laaste ronde gaan oplewer. Die nederlaag het veroorsaak dat Secunda eerskomende Saterdag teen Hoërskool Ben Vorster moét wen, en verkieslik met ‘n bonuspunt, om in die halfeind-wedloop te bly.

Hoërskool Montana het sy posisie as voorloper versterk deur vir Hoërskool Die Anker met 31-17 in Brakpan om te dop. Binnesenter, Hendrew Schoeman, het ‘n kapteinsbeurt gespeel in ‘n afgeronde spanvertoning, met sy visie in die middeveld wat die Monties in staat gestel het om meer as een keer af te rond. Losskakel, Rubel Bester, se visier was ook ingestel om ál vier sy span se drieë te verdoel.

Hoërskool Hugenote van Springs het sy seisoen op ‘n hoë noot afgesluit met ‘n sege van 39-27 oor Hoërskool Piet Retief, en sodoende sy eerste sege in vanjaar se reeks behaal. Die Hugies het vroeër ook met 18-18 gelykop gespeel teen Ben Vorster.

Hugenote se se haker, Luan Pretorius, het sy matriekjaar afgesluit deur vier keer agter die besoekers se doellyn te gaan draai. Regtervleuel, Kyle de Klerk, en die Pieties se Kyle Stock het elk ook ‘n tweekuns behaal.

Puntemakers: 

Hoërskool Pietersburg 27 (10) – Drieë: FC Smith (2), Ziahn Lombard. Doelskoppe: Ryno Mienie (3). Strafdoele: Mienie (2). Hoërskool Lichtenburg 24 (7) – Drieë: George Bingudzu (2), KG Legodi, Oratile Sekoto. Doelskoppe: Luan Snyman (2).

Heidelberg Volkskool 31 (12) – Drieë: Jano Dietrechsen, Jaco Botha, Jeandré Pretorius, Tristan Munro, Marco Botha. Doelskoppe: Marco Botha (2). Hoërskool Secunda 24 (17) – Drieë: JD van Coller, Ryan Lottering, Dillon Grundling. Doelskoppe: Alonzo Blackenberg (3). Strafdoel: Blackenberg.

Montana 31 (21) – Drieë: Ulrich van Biljon. Braam Schutte. Marq de Villiers. Ashton Vorster. Doelskoppe: Rubel Bester (4). Strafdoel: Jandré Stoltz. Die Anker 17 (10) – Drieë: Arno Krugel, Rico Goosen, Charl Coetzee. Doelskop: Edrick Pienaar.

Hugenote (Springs) 39 – Drieë: Luan Pretorius (4), Kyle de Klerk (2), Zander Janen van Vuuren. Doelskoppe: Yovan Prinsloo (2). Hoërskool Piet Retief 27 – Drieë: Kyle Stock (2), Sfiso Methula, Vuyani Tshabalala. Doelskoppe: Owethu Shabalala (2). Strafdoel: Shabalala.

Ander spanne: 

o.16: Lichtenburg 9, Pietersburg 5; Heidelberg Volkskool 36, Secunda 19; Montana 24, Die Anker 12; Piet Retief 53, Hugenote (Springs) 7.

o.15: Pietersburg 22, Lichtenburg 7; Heidelberg Volkskool 28, Secunda 14; Montana 24, Die Anker 10; Piet Retief 48, Hugenote (Springs) 5.

o.14: Pietersburg 15, Lichtenburg 14; Heidelberg Volkskool 14, Secunda 14; Montana 54, Die Anker 5; Piet Retief 43, Hugenote (Springs) 7.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.