SuperSport Schools News

Paul Roos beste sewesspan in die land

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-10-22

NewsGMontanaPaul Roos Gimnasium van Stellenbosch is die eerste kampioen van die Hoërskole Sewesreeks. 

Die span van die Eikestad het Saterdag op Camp Discovery net noord van Pretoria vir Waterkloof met 21-17 in die eindstryd verslaan om met die kroon weg te stap. Daar was nie veel tussen die twee spanne te kies nie. 

Paul Roos moes ook hard werk om in sy halfeindstryd vir Montana van Pretoria met 19-14 te klop. Daar was na gewone speeltyd met die telling op 14-elk niks tussen die twee spanne te kies nie. Montana het amper eerste bloed in die drie minute ekstra speeltyd geruik wat die span tot die eindstryd sou laat deurdring. Paul Roos het geen tyd gemors nie en dadelik ‘n aanval geloots en die bal wyd tot by Remey Engelbrecht gekry wat oor te veel vaart vir Montana se verdediging beskik het. 

Waterkloof het danksy ‘n drie deur PJ Krugell in die doodsnikke vir Durban High School met 24-19 in die ander halfeindstryd verslaan. Buiten Krugell het Gustav de Jager ook deurgans vir Klofies uitstekende spel gelewer. 

Die kampioen se Reagan van der Westhuizen, Kade Wolhuter en Tiaan Pretorius het ook goeie toernooie beleef. 

Die groepwedstryde van die toernooi sou reeds Vrydag beslis geword het. ‘n Tipiese Hoëveld donderstorm het egter enige spel verhoed. Al die wedstryde moes toe Saterdag gespeel word. 

Paul Roos het ook ‘n taai kwarteindronde beleef. Glenwood het teen Montana in hulle groepwedstryd met 24-19 die knie gebuig. Die kampioen en Glenwood se paaie het in die kwarteindronde gekruis en Paul Roos het met 19-14 in ‘n senutergende kragmeting as oorwinnaars van die veld gestap. 

Twee van Glenwood se spelers, Siyanda Cele en Dylan Pretorius, het hulle gister in Stellenbosch vir ‘n oefenkamp as deel van ‘n nasionale o.17-groep aangemeld. Albei die spelers asook Rynardt Jonker het goeie toernooie beleef. Glenwood het in die Plaat-afdeling met die louere weggestap deur die Hoërskool Rustenburg met 31-10 in die eindstryd te verslaan.

In die Bowl-eindstryd het Noordheuwel van Krugersdorp vir Brandwag van Benoni met 23-0 ore aangesit, terwyl Diamantveld as kampioen van die Skild-afdeling gekroon is. Diamonds het Merensky met 28-21 in die eindstryd van die afdeling geklop. 

Al die uitslae: 

Groep A: Paul Roos Gimnasium 31, Noordheuwel 5; Westville Boys’ High 21, Noordheuwel 14; Paul Roos Gimnasium 17, Westville Boys’ High 5.

Groep B: Montana 19, Diamantveld 14; Glenwood 35, Diamantveld 7; Montana 24, Glenwood 19.

Groep C: Hoërskool Rustenburg 17, Brandwag 0; Goudveld 33, Brandwag 21; Goudveld 17, Hoërskool Rustenburg 10.

Groep D: Waterkloof 22, Merensky 0; Waterkloof 33, Durban High School 26; Durban High School 31, Merensky 14.

Kwarteindronde: Paul Roos Gimnasium 19, Glenwood 14; Montana 24, Westville Boys’ High 19; Durban High School 24, Goudveld 21; Waterkloof 26, Hoërskool Rustenburg 7.

Halfeindronde – Bowl: Noordheuwel 21, Diamantveld 19; Brandwag 19, Merensky 17. Plaat: Glenwood 38, Westville Boys’ High 19; Hoërskool Rustenburg 26, Goudveld 0. Beker: Paul Roos Gimnasium 19, Montana 14; Waterkloof 24, Durban High School 19.

Eindstryde – Skild: Diamantveld 28, Merensky 21. Bowl: Noordheuwel 23, Brandwag 0. Plaat: Glenwood 31, Hoërskool Rustenburg 10. Beker: Paul Roos Gimnasium 21, Waterkloof 17.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.