Parkies wil momemtum behou teen Rhinos in NWU Sport-reeks

Die tyd om die koring van die kaf te skei in vanjaar se NWU Sportreeks het aangebreek.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools. Skakel na die wedstryde.
Menlopark sal op hul hoede moet wees wanneer hulle Saterdag teen Nelspruit op die Rhino-park te staan kom.
Die Rhinos het tot dusver vanjaar nie net by St John’s se Paastoernooi beïndruk nie, maar ook ‘n besliste waarskuwing aan die Parkies gerig met ‘n eersteklas vertoning verlede naweek toe hulle vir Eldoraigne se Drake met 53-10 verslaan het.
Die span van Pretoria beklee die boonste posisie op die reeks se punteleer.
Die Parkies se afrigtingspan, onderleiding van breier, Andries Ferreira, het egter ‘n paar veranderinge vir die Pretorianers se groot kragmeting in Mbombela aangebring.
Ruben Rudolf, die staatmaker op binnesenter loop die kragmeting mis, met Leskin Samuels wat ‘n geleentheid kry om moontlik vir hom ‘n plek in die res van die jaar se beginspan los te speel.
Die ander groot terugslag is dat Menlopark sonder hul spelskepper op skrumskakel, Phillipus de Bruin, se dienste sal moet klaarkom. De Bruin is nie slegs ‘n gevaarlike wapen op die aanval nie, maar het tot op hede ook die Parkies se stelskopwerk waargeneem. Gustav Schaffner vervang vir De Bruin in die nr. 9-trui.
Die Nellie-breiers het besluit om nié te karring aan dit wat nie gebreek is nie en die Rhinos betree dus Saterdag se stryd met ‘n onveranderde span. Jordan Pretorius, wat verlede naweek op linkervleuel diens gedoen het, skuif egter terug na sy gewone posisie op regtervleuel, en Tinyiko Shilubane terug na linkervleuel.
Die twee drieëvrate hou ‘n groot bedreiging in vir die Parkie-verdedigers, terwyl binnesenter Divan de Kock ook ‘n deurslaggewende rol het om te speel met sy skopstewel, indien die tuisspan hoop om Menlopark te troef.
In die Jakarandastad gaan die skote behoorlik klap wanneer Eldoraigne se Drake teen Oos-Moot in Centurion te staan kom. Die Drake sal oorgehaal wees om hul laaste wedstryd in vanjaar se reeks met slegs hul tweede oorwinning van 2024 af te sluit. Die span van Centurion het geen rede om kop onderstebo uit die reeks te tree nie, siende dat hulle hoofsaaklik met die groter honde in die Noordvaal moes meeding.
Oos-Moot gaan egter nie ‘n maklike hekkie wees om te oorkom nie, en pronk reeds met ‘n paar puik uitslae in die betreklike jong seisoen – soos hul spogsege van 37-29 teen die einste Rhino-span, wat die Drake verlede naweek gelooi het.
Die spanne:
Nelspruit t. Menlopark om 13:00 in Nelspruit:
Nelspruit: 15 Chritiaan van Deventer, 14 Jordan Pretorius, 13 Ian Wood, 12 Divan de Kock, 11 Tinyiko Silubane, 10 Theuns Meyer, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Banele Ngwenya, 6 Tiaan de Beer, 5 Ronaldo van Rensburg, 4 Bradley Claasen, 3 WJ Botha, 2 Regard Vermaak, 1 Siya Gama.
Menlopark: 15 Divan Nel, 14 Reinhardt Herbst, 13 Ruben Fourie, 12 Leskin Samuels, 11 Stefan van Niekerk, 10 Andru Kuhn, 9 Gustav Schaffner, 8 Rocco Myburgh, 7 JN van Wyk, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Keagen Pretorius, 3 Philip du Plessis, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.
Eldoraigne t. Oos-Moot om 12:40 in Centurion:
Eldoraigne: 15 Hendro van Zyl, 14 Cappie Mashabela, 13 Ivan Vermeulen, 12 Kevin Earl, 11 Tristan Lee, 10 JP Meyer, 9 Darren Bruwer, 8 Jaydon Niehaus, 7 SW Liebenberg, 6 Cameron Killian, 5 MC Scheepers, 4 Rikus Rheeder, 3 Jaco Fourie, 2 Marnus Prinsloo, 1 Wian White.
Oos-Moot: 15 Naylan Albertus, 14 Jayden Pretorius, 13 Jeandre Venter, 12 Dewron Aford, 11 Drew Williams, 10 Ruwan Allen, 9 Franco O’Neale, 8 Deon Badenhorst, 7 Wade Williams, 6 Berus van Dyk, 5 Jaydon Botha, 4 Connor de Jager, 3 Christiaan Smith, 2 Clayton de Bruyn, 1 Jandre de Beer.




