Parkies, Klofies deel titel in titaniese Sportreeks-eindstryd

Ná 70 minute van klipharde rugby was daar steeds niks te kies tussen die twee Pretoriaanse spanne in vanjaar se NWU Sportreeks-eindstryd nie.
Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – www.supersportschools.com
Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof moes Saterdag die Sportreeks-titel deel met ’n gelykopuitslag van 23–23 in die eindstryd by Hoërskool Dr EG Jansen in Boksburg.
Klofies sluit dus vir die tweede agtereenvolgende jaar die reeks as kampioen af.
Dit was ’n effense bitter pil vir die Parkies om te sluk, aangesien hulle vanuit die staanspoor en vir die grootste gedeelte van die eerste helfte die botoon gevoer het. Die streeptruie se Keagen Pretorius (slot) en Balden Pietersen (regtervleuel) het in ’n oogwink elkeen agter die Klofies se doellyn gaan draai vir hul span om ’n vroeë voorsprong van 10–0 op te bou.
Waterkloof het egter meer ritme begin vind namate die kragmeting gevorder het, met haker, Ruan Jacobs, wat sy Parkie-eweknie, Declan Pelser, behoorlik die stryd aangesê het, terwyl die vuurvreter-agsteman, Marko Kok, ook besig is om sy beste spelpeil te herwin. Pelser was aan die stuur van die Parkies se gedugte dryfmaalbewegings wat die Klofies dikwels in trurat geforseer het.
Agterlangs het Parkies se Leskin Samuels soos verwag die verdediging beproef, maar Aiden Bester, wat besig is om die Klofies se nr. 12-trui sy eie te maak, het nie teruggestaan nie en met ’n paar kragtige lopies en groot duikslae gehelp om sy span in die wedloop te hou.
In die voorwedstryd het Hoërskool Transvalia, met losskakel, Jay-Dee Maree, wat uitgeblink het, met 21–10 geseevier oor Hoër Tegniese Skool Middelburg. Maree se balverspreiding het die ligbloues op die voorvoet gehou, ten spyte van ‘n rooi en geel kaart wat hul taak bemoeilik het in die tweede helfte.
Die Rooi Bulle se loskopstut, Janco Botha, verdien ’n klop op die skouer vir sy uitstaande vertoning, en sy hoë werkverrigting is met ’n tweekuns aan drieë beloon.
In die eerste wedstryd van die dag het die gasheer, Hoërskool Dr EG Jansen, danksy puik aanvallende rugby met 34–27 teen ’n vasberade Hoërskool Kempton Park koning gekraai. Die kombinasie van regtervleuel, Otlatleng Zulu, en heelagter, Deshean Pietersen, het die Kempies se verdedigers deurentyd aan die raai gehou en ook vir twee van die Jansies se vyf drieë gesorg.
Puntemakers:
Waterkloof 23 (12) – Drieë: Ruan Jacobs, Gustav Mienie, Aiden Bester. Doelskop: Ronan Bastiaanse. Strafdoele: Bastiaanse (2). Menlopark 23 (15) – Drieë: Keagen Pretorius, Bladen Peterson, Reinhardt Herbst, Declan Pelser. Strafdoel: Andru Keun.
Transvalia 21 (14) – Drieë: Wihandré Kruger, Dihan Crause, Nog Een. Doelskoppe: Jay-Dee Maree (3). HTS Middelburg 10 (5) – Drieë: Janco Botha (2).
EG Jansen 34 (17) – Drieë: Joseph Diesel, Dian Botha, Deveraux Weideman, Otlatleng Zulu, Jaco Engelbrecht, Deshean Pietersen. Hoërskool Kempton Park 27 (10) – Drieë: Ettienne Stroebel, Louis Mouton, Strafdrie. Doelskoppe: Stiaan de Villiers (2). Strafdoele: De Villiers (2).
Ander spanne:
o.16: Hoërskool Middelburg 27, Ben Vorster 12; EG Jansen 33, Piet Retief 33; Menlopark 29, Waterkloof 24; Transvali 41, HTS Middelburg 19; Kempton Park 34, Nelspruit 20; Oos-Moot 38, Eldoraigne 6.
o.15: Waterkloof 17, Menlopark 10, Transvalia 18, Nelspruit 12; Oos-Moot 45, Eldoraigne 7; EG Jansen 38, Hoërskool Middelburg 5; Ben Vorster 39, Piet Retief 21; Kempton Park 25, HTS Middelburg 18.
o.14: Hoërskool Middelburg 24, Waterkloof 17; EG Jansen 18, Menlopark 15; Kempton Park 32, HTS Middelburg 0; Ben Vorster 26, Piet Retief 5; Nelspruit 31, Transvalia 14; Oos-Moot 22, Eldoraigne 0.