SuperSport Schools Plus

Parkies gee Eldos pak, Samuels skitter met driekuns

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-05 Tags: , , ,

Leskin Samuels, Die Hoërskool Menlopark se buitesenter, was reeds in 2024 ‘n angel vir die Parkies. Hier duik hy oor in die kragmeting met Nelspruit in verlede jaar se NWU Sportreeks. FOTO: Johan Orton

‘n Driekuns deur Die Hoërskool Menlopark se buitesenter, Leskin Samuels, het die Parkies gehelp om ‘n vyftigtal reeds in hul eerste wedstryd van die 2025-seisoen te behaal.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Hoewel dit geensins ‘n foutlose begin was nie, het Menlo nietemin goed genoeg vertoon om agt drieë in te ryg en Hoërskool Eldoraigne gemaklik tuis met 52-13 die loef af te steek.

Samuels, wat weer een van Menlopark se gevaarmanne vanjaar behoort te wees, het gewys hoekom hy reeds verlede jaar vir die Blou Bulle op die Cravenweek uitgedraf het. Met goeie visie en bedrieglike voetwerk het hy die besoekers se middeveld gereeld oorhoeks betrap, terwyl hy ewe uitmuntend op die verdediging was en ‘n paar reuse duikslae uitgevoer het.

Die grondslag vir die groot sege is voorlangs gelê, waar die ervare Declan Pelser, wat vir ‘n tweede seisoen in die Parkies se eerste span op haker uitdraf, die tuis-agttal begeesterd gelei het om die Drake se vuur te blus. Die slotpaar van Xander Roets en Keagen Pretorius het ook beïndruk met hul fisieke teenwoordigheid.

Dit het die nodige platform gebied vanwaar skrumskakel, Gustav Schäffner, en losskakel en kaptein, Andru Keun, vir Samuels en Kie op die voorvoet kon plaas. Die skakelpaar is ook terug vir ‘n tweede jaar van eerstespan-rugby. Keun het boonop met ses doelskoppe geslaag.

Die Drake, wat goed afgeskop het, is deur skrumskakel, Darren Bruwer, gelei. Bruwer, wat verlede jaar reeds uitgeblink het vir die Eldos, het die Parkies se verdedigers dikwels om die afbreekpunte getoets, en sy taktiese skopwerk kan ook vorentoe vir teenstanders hoofbrekens besorg.

Puntemakers:

Menlopark 52 (31) – Drieë: Leskin Samuels (3), Dylan Stumke, Gustav Schaffner, Lucian Read, Declan Pelser, Reinhardt Herbst. Doelskoppe: Andru Keun (6). Eldoraigne 13 (6) – Drie: Marnes Prinsloo. Doelskop: MJ Buitendag. Strafdoele: Buitendag (2).

Ander spanne:

o .16: Menlopark 64, Eldoraigne 0.

o .15: Menlopark 40, Eldoraigne 7.

o .14: Menlopark 41, Eldoraigne 0.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.