Parkies, Affies oorheers in Jubilee-liga; Klofies-kaptein vier 150ste
Die Jubilee-liga het weer gesorg vir aksiebelaaide netbal, met Menlopark en Affies wat oortuigende seges behaal het, terwyl Garsfontein in ‘n klipharde stryd vir Oos-Moot getroef het.
Die Parkies het uitmuntend vertoon teen Eldoraigne om met 45–12 as oorwinnaars uit die stryd te tree. Hulle het van die eerste afgooi af die botoon gevoer met presiese aangeewerk, blitsige spel en verdediging wat die opposisie haas geen ruimte toegelaat het nie.
Affies het ‘n ewe indrukwekkende sege van 40–16 oor Waterkloof behaal, deur elke fout van die opposisie genadeloos uit te buit met hul ongenaakbare verdediging.
Dit was egter ook ’n spesiale dag vir Waterkloof, en vernaam hul kaptein en veelsydige ster op doel en verdediging, Zoey Smit, wat haar 150ste eerstespan-wedstryd gespeel het.
Dit is ’n merkwaardige mylpaal. As kaptein het Smit nie net haar span aangevoer met uitsonderlike leierskap nie, maar ook haar merk gelaat met besielende spel. Haar onblusbare passie, toewyding en deursettingsvermoë maak van Smit ’n ware voorbeeld vir alle jong spelers.
Garsfontein het met ’n welverdiende sege van 25–18 oor Oos-Moot hul vaardigheid en strukturele spel uitgestal. Die Garsies het deurgaans kalm maar doelgerig gespeel met hul verdediging wat waardevolle balle teruggewen het, terwyl hulle op die aanval netjies afgerond het. Oos-Moot het taai weerstand gebied, maar Garsfontein se spanwerk en akkuraatheid in die sirkel het die verskil tussen wen en verloor beteken.
Uitslae o.19A:
Garsfontein 25, Oos-Moot 18
Menlopark 45, Eldoraigne 12
Affies 40, Waterkloof 16
- Karakter, groei dra Klofies deur uitdagende seisoen - 2025-10-28
- Toekoms lyk rooskleurig vir Rand Park na deurbraakseisoen - 2025-10-27
- Middies sluit 2025 op ’n hoë noot af - 2025-10-22





