Papier pronk dalk gou in Bul-trui
Hy is nie die beste skrumskakel op papier in Suid-Afrika nie, hy is die Papier.
Kenners van skolerugby meen die Hoërskool Garsfontein se skrumskakel, Embrose Papier, is die mees belowendste jong rugbyspeler uit die Jakarandastad sedert die beroepsera.
’n Reuse kompliment as daar in ag geneem word dat Springbokke soos Fourie du Preez, Pierre Spies (albei Affies), Gary Botha, Rohan Janse van Rensburg (albei Waterkloof) almal hul skolerugby in die hoofstad gespeel het.
Papier laat hom egter nie deur al die praatjies grootkop kry nie. “Ek moet nog baie aandag aan my aangeewerk gee asook my taktiese skopwerk wat meer belangrik raak hoe hoër jy speel,” het Papier gesê.
Hoewel Papier alles moontlik in sy skolerugbyloopbaan bereik het is dit opvallend hoe nederig hy oor al sy prestasies is. Met sy voete plat op die aarde het hy ook duidelik ’n idee oor die werk wat hy nog sal moet insit indien hy die hoogste sport in die spel wil bereik.
Hy is in die Bulle se Superrugby-groep vir hul oefenkamp in George ingesluit. Dit sal nie ’n verrassing wees indien hy tydens volgende jaar se reeks reeds ondanks die teenwoordigheid van die twee Bok-skrumskakels, Piet van Zyl en Rudy Paige, sy buiging maak nie.
“My ma Sharol het die grootste invloed op my loopbaan gehad. Sy is my grootste ondersteuner en het al ’n hele paar opgevlieg om van my wedstryde te kyk. Sy hou nogal baie van rugby. Mnr. Gustav Theunissen het ook ’n berlangrike rol saam met my twee afrigters Tjaart van der Walt en Johan du Plessis gespeel,” het Papier gesê.
Sy rugbygene kom van sy pa Edwill wat self op sy dag ’n bedrewe skrumskakel in die Bolandse klubligas was. Edwill is deesdae ’n sjef in Nieu-Seeland.
Papier bly die afgelope jaar lank al saam met die Theunissens. “Sy werksetiek is ongelooflik, terwyl sy nederigheid nog meer is,” het Theunissen gesê.
Papier kom oorspronklik van Lambertsbaai, maar het op die klein Weskus dorpie Darling groot geword. Hy het intussen die darling van Garsieland geword.
Papier het ’n beduidende rol gespeel in sy skool se verowering van die Virseker Beeldtrofee die afgelope twee jaar. Hy het in 2015 in die eindstryd teen HTS Middelburg ’n drie gedruk wat die gang van die wedstryd geswaai het.
In vanjaar se eindstryd het hy waarskynlik een van die beste drieë nog op skoolvlak gedruk toe hy vanuit sy eie doelgebied teen EG Jansen gebreek het en 100 meter verder sierlik oor die doellyn geduik het.
Albei die drieë tel vir Papier onder sy voorste vyf wat hy op skolevlak gedruk het. Sy drie vanjaar teen Grey-kollege op die Wildeklawer-toernooi in Kimberley is volgens hom ook ’n hoogtepunt.
Hy het in 2014 teen Waterkloof met só ongelooflike drie aangekondig dat hy ’n speler is om dop te hou. Hy het met die uitslag op ’n mespunt vanaf ’n skrum vanaf sy span se kwartgebied deurgebreek en verskeie verdedigers geflous om te gaan druk.
Sy drie vanjaar vir die Junior Bokke (o.20) tydens die Wêreldkampioenskap teen Frankryk is ook een van sy beste vyf drieë tot dusver volgens hom.
“Ek dink fiksheid speel ’n belangrike rol in my vermoë om ’n gaping te sien. Hoe fikser jy is hoe skerper is jy,” het Papier gesê.
Buiten Papier se manjifieke vermoë op die aanval is daar min spelers in sy posisie wat ook op dekverdediging soveel vir hul span werd is.
Papier se vaart help hom gewis in die afdeling van die spel. Sy vinnigste tyd in die 100m is ’n skitterende 10.6 sekondes wat hy in graad 11 opgestel het. In matriek het hy slegs aan die aflos deelgeneem. Hy het saam met Henk de Leeuw, Shaun Williams en Ruan Damons kragte op die Jakaranda Interhoër vir die 4x100m saamgespan om te sorg dat Affies vir slegs die tweede keer in nege jaar op hul neuse kyk.
Papier het sy hoërskoolloopbaan by Swartland in Malmesbury begin. Hy is daarna vir sy graad nege jaar na Die Wilgers in Pretoria toe. Hier het hy reeds vir dié skool se eerste span uitgedraf.
Papier het sy eerste impak vir Garsies gemaak toe hy vir die skool se o.16-span in sy graad nege jaar tydens Paarl Gimnasium se jaarlikse toernooi ’n impak gemaak het. Hy was toe reeds by Garsies ingeskryf, maar het teen daardie tyd nog nie ’n enkele skooldag by sy nuwe skool bygewoon nie.
“Ek kan nie sê hoe dinge sou uitdraai as ek in die Kaap gebly het nie, maar ek is vandag baie bly oor my besluit om Pretoria toe te kom,” het Papier gesê.
Papier het twee jaar die SA Skole-span verteenwoordig en was ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Jeugspan wat Goud op die Statebondspele in Samoa se sewestoernooi verower het.




