SuperSport Schools Plus

Paarl Meisies se seisoen van groei: ‘Die dogters het leer kophou…’

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-09-21 Tags:

Vir Paarl Meisies se eerste-netbalspan was 2025 ’n jaar wat oor veel meer gegaan het as bloot wedstryde en uitslae.

Dit was ’n seisoen van gesamentlike groei, die bereik van doelwitte, die omhelsing van uitdagings en die trots om as ‘n hegte familie die baan te deel. Onder leiding van afrigter, Marli Visagie, het die span nie alleen hul stempel op die netbalbaan afgedruk nie, maar ook as mense en spanmaats gegroei.

Een van die hoogtepunte van die jaar was hul deelname aan die gesogte Wildeklawer-toernooi – ’n platform waarop die topskole in Suid-Afrika mekaar die stryd aansê.

“Om daar uit te draf en jouself in die geselskap van die land se topspanne te bevind, is ’n groot voorreg,” vertel Visagie.

“Dat ons voorts tot die eindstryd kon deurdring en met slegs een doel teen Paarl Gim verloor het, wys die mate van karakter en gees waaroor hierdie groep dogters beskik.”

Nog ’n oomblik wat uitstaan, was hul deelname aan die groot Paarl Interskole – ’n tradisie wat diep in die gemeenskap gewortel is. Alhoewel die oorwinning by hierdie geleentheid aan die ander kant van die dorp opgeëindig het, is die ervaring op sigself iets wat volgens die afrigter nie in woorde vasgevang kan word nie.

“Om deel te wees van daardie besonderse atmosfeer en trots, is iets wat die spelers vir altyd sal bybly.”

Die span se sukses het egter nie net in groot wedstryde gelê nie. Visagie verduidelik dat hulle die seisoen opgebreek het in kleiner mikpunte wat deurgaans gestel en bereik is.

“Elke keer wanneer ons ’n doelwit afgemerk het – of dit nou groot óf klein was – was ’n hoogtepunt. Ons het geleer dat dit nie slegs oor trofeë of punte gaan nie, maar oor die reis om daar te kom. Elke toer, elke oefensessie en elke wedstryd het die jaar spesiaal gemaak.”

Volgens Visagie lê die span se grootste groei in hul veerkragtigheid.

“Ek hou daarvan om van mental toughness te praat. Hierdie dogters het geleer om kop te hou onder die moeilikste omstandighede. Hulle het kalm gebly in naelbyt-oomblikke en hul beste gelewer, ongeag hoe groot die druk was. Dit het die meisies regtig onderskei.”

Wat haar ongelooflik trots maak, is die menslike groei binne die groep. Met ’n netjiese balans tussen ervare seniors en jonger spelers het daar natuurlike mentorskap en samewerking ontwikkel.

“Ons het vroeg ’n hegte eenheid gevorm. Om elke speler se ontwikkeling te sien – nie bloot as netbalspeler nie, maar as mens – was merkwaardig. Hulle het mekaar se ondersteuningsraamwerk gevorm, en ek glo dit is juis daardie ‘familieband’ wat ons deur taai tye gedra het.”

Al was daar nederlae en teleurstellings, het dit die span eenvoudig sterker gemaak. Hulle het vasgebyt, harder gewerk en telkens sterker teruggekeer. Dit is hierdie eienskap wat Paarl Meisies se 2025-span gedenkwaardig maak: ’n groep dogters wat die waarde van samewerking, vasberadenheid en karakter verstaan.

Soos die afrigter dit saamvat: “Elke speler het ’n beter weergawe van haarself geword. Uiteindelik is dit die grootste oorwinning van die jaar.”

Paarl Meisies Netbal 2025: Uitslae

Sportmans Warehouse-toernooi

  • Wen teen Oranje (gestop weens reën) 5–1

  • Reën teen Outeniqua

  • Wen teen Nico Malan 20–10

  • Verloor teen Paarl Gim 12–23

  • Wen teen Sentraal 13–11

  • Wen teen Augsburg 37–5

  • Wen teen Pearson (gestop weens reën) 11–9

  • Wen teen Collegiate 27–10

  • Wen teen Bellville 22–17

  • Wen teen Tygerberg 27–13

Menlo-toernooi

  • Wen teen Duineveld 29–19

  • Verloor teen Helpmekaar 15–18

  • Gelykop teen Monnas 15–15

  • Wen teen Secunda 30–9

  • Wen teen Dr Malan (gestop weens weerlig) 19–7

  • Wen teen Outeniqua 29–10

  • Reën teen Northclift

  • Wen teen Oranje 21–14

  • Wen teen Potch Gimnasium 20–11

  • Verloor teen Menlopark 18–30

  • Wen teen Rand Park 21–10

Liga-wedstryde

  • Wen teen Worcester Gimnasium 33–7

  • Wen teen Parel Vallei 27–18

  • Verloor teen Paarl Gim 22–23

  • Wen teen Oranje 26–15

  • Hugenote (nie gespeel nie)

  • Wen teen Charlie Hofmeyer (met 20 doele)

  • Wen teen Bloemhof 34–21 en 34–29

  • Wen teen La Rochelle 30–25

Wildeklawer-toernooi

  • Wen teen Marais Viljoen 26–16

  • Wen teen Framesby 32–19

  • Wen teen La Rochelle 26–21

  • Wen teen Menlopark 20–18

  • Wen teen Diamantveld 37–9

  • Verloor teen Oranje 18–20

  • Wen halfeind teen Helpmekaar 20–19

  • Verloor eindstryd teen Paarl Gim 18–19

  • Eindig 2de

Topskole Wes-Kaap

  • Wen teen Swellendam 33–19

  • Wen teen Manzaomtambu 40–8

  • Wen teen Punt 43–15

  • Wen kwarteind teen Tygerberg 46–21

  • Wen halfeind teen La Rochelle 28–20

  • Verloor eindstryd teen Paarl Gim 20–28

  • Eindig 2de in Wes-Kaap

Topskole Nasionaal

  • Wen teen Oranje 24–20

  • Wen teen Veritas 42–2

  • Wen teen Tshiawelo 36–6

  • Verloor kruiswedstryd teen La Rochelle 12–18

  • Wen teen HTS Middelburg

  • Verloor teen Shayomoya 19–21

  • Wen teen Pietersburg 26–8

Paarl Interskole

  • Verloor teen Paarl Gim 16–24

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.