Paarl Gim span kroon op spogseisoen met Interskole-sege

Die immergewilde Interskole tussen Paarl Gimnasium en Paarl Girls High het die afgelope naweek die Boland aan die gons gehad, met klipharde kragmetings regdeur die ouderdomsgroepe.
Die dag, wat op Paarl Gim se velde plaasgevind het, het ‘n gepaste klimaks beleef toe die tuisspan in die o.19A-wedstryd koning gekraai het met 24-16 om die seisoen in styl af te sluit.
Paarl Gim, wat tans tweede op die nasionale ranglys pryk en as die voorste skool in die Wes-Kaap beskou word, het met oorgawe hul talent tentoongestel en afrigter, Juline van der Merwe, het haar trots uitgespreek oor haar span se puik vertoning regdeur die jaar.

“Hierdie groep het deurgaans netbal van hoogstaande gehalte gelewer. Ek is ongelooflik trots op hul vasberadenheid, dissipline en passie vir die spel,” het sy gesê.
Slegs drie spelers van die o.19A-span sluit vanjaar hul skoolloopbane af, met agt kernspelers wat oorbly. Dit is inderdaad ‘n fantastiese vooruitsig vir Paarl Gim, maar dié stabiliteit en ondervinding bied ook ‘n taamlike kopseer vir die skole wat volgende jaar teen hulle te staan kom.
Die Interskole was besonder betekenisvol vir ‘n aantal spelers wat mylpale bereik het. Anja Arangies, Mari Snyman en Kyla Smit het elkeen hul 50ste wedstryd vir Paarl Gim se eerste span gespeel – ‘n bewys van hul toewyding en volgehoue prestasie – terwyl Anja Smit geskiedenis gemaak het deur haar 100ste wedstryd vir die skool te speel.
Met drie oorwinnings teenoor Paarl Girls se twee, het Paarl Gim hulle reputasie as een van die top-netbalskole in die land gestand gedoen. Voorts was die interskole nie bloot ‘n viering van sport nie, maar ook van gemeenskapsbetrokkenheid, lojaliteit en skooltrots – waardes wat diep gewortel is in beide hierdie Bolandse instansies.
Uitslae:
o.14A: Paarl Gim 30, Paarl Girls 18
o.15A: Paarl Gim 15, Paarl Girls 17
o.16A: Paarl Gim 22, Paarl Girls 18
o.17A: Paarl Gim 20, Paarl Girls 22
o.19A: Paarl Gim 24, Paarl Girls 16
- Parkies se seisoen van glorie - 2025-10-06
- Nasionale erkenning vir Bayisa en Moloise weerspieël Middies se sukses - 2025-09-30
- Top-4 Rusties leef hul droom - 2025-09-29