SuperSport Schools Plus

Oosthuizen laat die paaltjies spat tydens die Kovsie Smash 

By Hannes Nienaber , in Cricket | News , at 2024-01-08 Tags: , , , , , , ,

Die gasheer van die Kovsie Smash, die Hoërskool Fichardtpark, het sy aanslag op die titel met ‘n klinkende sege van 94 lopies oor die Hoërskool Overvaal van Vereeniging afgeskop.  

Die Twintig/20-toernooi in Bloemfotnein is ter viering van Fichies se 40ste bestaansjaar. Al die aksie kan regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com) gevolg word.  

Die Fichies se Marno Smith (41) en MJ Herbst (34) het ‘n vennootskap van 50 lopies om die tweede paaltjie gedeel. Dit het aan hul span die grondslag gegee om een van slegs twee spanne te wees wat meer as 140 lopies in die eerste ronde aangeteken het.  

Davyd Oosthuizen (4/9) het egter te veel vrae met sy boulwerk aan Overvaal se kolwers gevra. Die snelbouler is goed deur Devanté Claassen (2/5) en Stian Kruger (2/20) ondersteun.  

HTS Middelburg wat ook saam Fichies en Overvaal in Groep A geloot is, se WJ Enslin (50*) her met sy vyftigtal sy span tot ‘n sege van 29 lopies oor Goudveld-Hoërskool van Welkom gehelp. is die enigste ander span wat meer as 140 lopies kon aanteken.  

Hoërskool Middelburg was die enigste ander span wat meer as 140 lopies in die eerste ronde kon aanteken. Dit is vermag meestal danksy die vennootskap van 91 lopies om die derde paaltjie tussen Reuben Brandmuller (58) en Christian Jansen (52*).  

Jansen het daarna om die vierde paaltjie ook ‘n onoorwonne vennootskap van 48 lopies met Shaun Taljaard (30*) gedeel.  

Oos-Moot moes hard werk om die Hoërskool Sasolburg met 18 lopies te verslaan. Dit was die boulwerk van Ewoudt van Niekerk (4/5) wat op die ou einde die deurslag gegee het.  

Die span van Pretoria se laaste vyf paaltjies het almal in Van Niekerk se boulskof geval. Eers is Jan-Hendrik Espach (12) se paaltjies herrangskik in die 16de boulbeurt en daarna het hy ook in die 18de boulbeurt Wian Landsberg (2) se paaltjies raakgeboul.  

In die 20ste boulbeurt was Ahmad Richards (0) en Tyron Roux (0) slagoffers van sy boulewerk, voordat Stephan Roets (9) met die voorlaaste aflewering uitgeloop is.   

Hoërskool Trio van Kroonstad se Miguel Menino (80*) het met sy vyftigtal die hoogste telling van die eerste ronde aangeteken. Dit was egter nie genoeg om sy span van ‘n nederlaag van een paalttjie teen die Hoërskool Kalahari van Kuruman te red nie. 

Die beste boulsyfers het boonop ook aan ‘n speler van Trio, Bokang Mohasa (4/14), behoort.   

Hoërskool Despatch se Dragons het hul toernooi ook met ‘n sege van vier paaltjies oor Hoërskool Sentraal van die Rosestad afgeskop. Die span van die Oos-Kaap het danksy goeie boulwerk deur Arno van Eck (3/21) en Tyron Smit (2/23) die Tralies tot 110/7 ingeperk.  

Die Tralies se Jayden Venter (48*) was die enigste kolwer wat weerstand kon bied. Vir Despatch het Ewald Brown (43) goed gekolf om sy span by die aangepaste Duckworth/Lewis-teiken te kom.  

Hoewel die Hoërskool Witteberg ‘n loesing van ses paaltjies teen die Hoërskool Pietersburg op die lyf geloop het, kan Lesego Mosikidi sy kop vir die verloorspan omhoog hou.  

Hy het eers die meeste weerstand gebied toe hy 19 lopies tot sy span se skamele totaal van 44 lopies bygedra het. Daarna het hy ook van drie Pietie-kolwers vir net 14 lopies ontslae geraak.  

Die Pieties se boulaanval met Stephan Swanepoel (3/3), Nicolas Oerlemans (2/4) en Hanno van Zyl (2/6) aan die spits was vuurwarm.  

Beknopte telkaarte:  

Fichardtpark 141/8 (Marno Smith 41, MJ Herbst 34; Alexander Jacobs 3/15, EW Botes 2/17, Zander Olivier 2/35); Overvaal 47 (EW Botes 19; Davyd Oosthuizen 4/9, Devanté Claassen 2/5, Stian Kruger 2/20). Fichardtpark wen met 94 lopies. 

HTS Middelburg 127/5 (WJ Enslin 50*, Ekstras 21; Hendro Boardman 2/19, Janco Maass 2/26); Goudveld-Hoërskool 98/7 (Ruben Crous 22, Eldonn Bodenstein 22, Ekstras 21; Darius Breytenbach 2/7, Jaden Knoessen 2/15, Marinus Enslin 2/25). HTS Middelburg wen met 29 lopies. 

Hoërskool Middelburg 148/3 (Reuben Brandmuller 58, Christian Jansen 52*, Shaun Taljaard 30*; André Heunis 2/20); Voortrekker 51/2 in 12 bbe (André Heunis 20, Juan Theunissen 12*; Katlego Baloyi 1/8). Hoërskool Middelburg wen met 30 lopies (D/L-metode). 

Wesvalia 122/5 (M Dreyer 33, L Vermeulen 25; Franco de Necker 2/14); Jim Fouché 89 (Adrian de Necker 15; R van Deventer 3/17). Wesvalia wen met 33 lopies. 

Oos-Moot 115/8 (Ewaldus van Wyk 39, Ekstras 25; Meyer Pretorius 4/24, Ahmad Richards 3/11); Hoërskool Sasolburg 97 (Wiandré Singleton 32, Nathan Swanepoel 23; Ewoudt van Niekerk 4/5, Elrich Visagie 2/26). Oos-Moot wen met 18 lopies 

Sentraal 110/7 (Jayden Venter 48*, Ekstras 20; Arno van Eck 3/21, Tyron Smit 2/23); Despatch 106/6 (Ewald Brown 43, Ekstras 22; Aldo Bezuidenhout 2/21, Reshe Wales 2/25, Daniel Buys 2/29). Despatch wen met vier paaltjies (D/L-metode). 

Hoërskool Trio 136/3 (Miguel Menino 80*, Gabriel Mochabela 21*; Franco Bester 2/20); Hoërskool Kalahari 137/9 (Louhan Noeth 47, Ekstras 27, Leander Smit 22*; Bokang Mohasa 4/14, Gabriel Mochabela 4/22). Hoërskool Kalahari wen met een paaltjie. 

Witteberg 44 (Lesego Mosikidi 19, Extras 15; Stephan Swanepoel 3/3, Nicolas Oerlemans 2/4, Hanno van Zyl 2/6); Hoërskool Pietersburg 45/4 (Celliers van der Merwe 10*; Lesego Mosikidi 3/14). Hoërskool Pietersburg wen met ses paaltjies.   

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.