SuperSport Schools News

Oos-Moot draf Pretoria-Noord maklik kaf

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-05-07

31392 VS SCHOOL OF RUGBY HEADER v1

NewsGOos MootDie Blou Bulle se Grootskole-kampioen, die Hoërskool Oos-Moot, het sy aanslag in vanjaar se kompetisie met ‘n oortuigende oorwinning van 69-6 oor Pretoria-Noord op Die Wilgers se hoofveld afgeskop. Die wenspan se binnesenter, Edmund Ludick, het spel dikteer. 

Ludick het 29 van sy span se punte in die sege aangeteken. Hy het drie keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak en ook sewe van sy span se 11 drieë verdoel. Die senter verdien gewis ‘n kans om sy staal teen die bestes van die Makroskole tydens die Blou Bulle se provinsiale proewes te meet. 

Die haker, Eduan Swart, het ook met sy spel beïndruk. Hy was woelig in die los en het elke keer wat hy in besit geplaas was ‘n hele paar verdedigers besig gehou. Hy is vir sy puik spel met twee drieë beloon. Die agtsteman, Burger Sandenbergh, en vleuel Morné Bedford het elk ook twee keer die doellyn oorgesteek. 

Midstream College se linkervleuel, Jean-Louis Brand, het ‘n driekuns aan drieë in sy span se sege van 46-24 oor Die Wilgers behaal. Hoewel Midstream College die beste span op die veld was, vlei die telling hom wel ‘n bietjie. Twee van Midstream College se drieë was onderskep-drieë. 

Die Hoërskool Tuine se losskakel, Ruben Lazerus, was met 21 punte aan die voorpunt van sy span se oorwinning van 56-26 oor Overkruin. Tuine het teen lemoentyd op Die Wilgers se veld ‘n voorsprong van 28-21 geniet. 

Puntemakers: 

Oos-Moot 69 (38) – Drieë: Edmund Ludick (3), Burger Sandenbergh (2), Morné Bedford (2), Eduan Swart (2), Conrad van Deventer, Marco Venter. Doelskoppe: Ludick (7). Pretoria-Noord 6 (6) – Strafdoele: Jason Engelbrecht (2). 

Hoërskool Tuine 56 (28) – Drieë: Justine Joubert (2), Stefan Gouws, Ruben Lazerus, Adriaan Swart, Hendrico Snyman, Rudi Bezuidenhout, Louis van Wyk. Doelskoppe: Lazerus (8). Overkruin 26 (21) – Drieë: Abel Sefako, Juan-Hugo Snyman, Heinrich Lemmer, Salum Bizoza. Doelskoppe: Jako Pittendrich (3). 

Midstream College 46 (34) – Drieë: Jean-Louis Brand (3), Ruan Duvenage, Heinrich Botha, Rohann Rorich. Doelskoppe: Charl Niemand (5). Strafdoele: Niemand (2). Die Wilgers 24 (12) – Drieë: Hennie de Vos, Jannies Blignaut, Gustav Smit, Tyrique Ferris. Doelskoppe: De Vos (2).

Ander spanne: 

o.16: Oos-Moot 19, Pretoria-Noord 15; Midstream College 46, Die Wilgers 0; Overkruin 44, Tuine 8.

o.15: Oos-Moot 19, Pretoria-Noord 5; Midstream College 43, Die Wilgers 13; Overkruin 22, Tuine 14.

o.14: Oos-Moot 40, Pretoria-Noord 12; Midstream College 47, Die Wilgers 0; Overkruin 34, Tuine 12.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.