SuperSport Schools Plus

Oakdale bobaas op die plaas teen Paul Roos

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-05-15

NewsG Oakdale

Dit was tydens die tradisionele Akkerfees op Riversdal dat Paul Roos met 25 rugbyspanne aan ʼn besige sportdag teen die Hoër Landbouskool Oakdale deelgeneem het.

Die eerstespan wedstryd het aan alle verwagtinge van ʼn opwindende en aanskoulike o.19 skolewedstryd voldoen en was Paul Roos eerste op die telbord gevolg deur Darren Adonis, Oakdale se heelagter, met ʼn strafskop.

Gedurende die eerste helfte het Oakdale twee strafskoppe aangeteken deur Darren Adonis terwyl Paul Roos twee keer agter die doellyn gaan kuier deur onderskeidelik, Johan Joubert no. 7 flank en Hanré du Toit, flank verdoel deur Joshua Vermeulen die heelagter. Damian Willemse, losskakel het ook met ʼn strafskop; geslaag.

Na die halftyd telling 15-6 in die guns van Paul Roos het Oakdale vroeg in die tweede helfte teruggeslaan met loskopvoorry Dian Bleuler se drie wat verdoel is deur die heelagter Darren Adonis. ʼn Drie deur Tiaan Coetzee, skrumskakel van Paul Roos het na tien minute die telbord laat aanskuif na 20-13 vir Paul Roos.

ʼn Vinnige drie deur die vleuel Zinedine Booysen en verdoel deur Darren Adonis het die telling op ʼn mespunt gebalanseer op 20 elk.

Adonis het ʼn strafskop deur die pale gehaag om die wedstryd met 23-10 in Oakdale se guns te maak.

Dit was veral ʼn begeesterde Oakdale-span wat in die tweede helfte die tempo verhoog het en die meeste op die aanval was. Vir Paul Roos het die slot Ben-Jason Dixon sake moeilik gemaak in die lynstaan. Oakdale se beste spelers op die dag was Dian Bleuler, loskopstut, wat ʼn barshou in die vastelos gespeel het en Nicolus van Eeden, buitesenter, wat die Paul Roosers aan die raai gehou het.

Monument het op ’n sopnat Ras van Rooyen-veld in Krugersdorp teen Waterkloof nie veel probleme ondervind om met 37-7 as oorwinnaars van die veld te stap nie. Dit was weer Monnas se kaptein en haker, PJ Botha, wat met sy inklimspel voorlangs die grootste aandeel in sy span se sege behaal het. Botha het twee van sy span se sewe drieë gedruk.

Die agtsteman, PJ Jacobs, het ook goed in die modderbad vertoon en met sy span se enigste doelskop geslaag toe hy naderby was en daar slegs 45 oor was om die doelskop waar te neem.

HTS Middelburg se Rooi Bulle het sy grootste sege ooit oor sy aartsvyande die Hoërskool Middelburg in hul jaarlikse Classic Clash behaal. Die Rooi Bulle het op sy tuisveld vir Middies met 67-6 oorrompel.

Die Rooi Bulle se kaptein en kantman, JC Pretorius, het soos verlede jaar drie keer Middelburg se doellyn oorgesteek. Pretorius was verlede jaar ook aan die voorpunt van sy span se sege van 41-26. Daar is nie ’n beter oopkantflank in Suid-Afrika op skolevlak as Pretorius nie. Hy is reeds verlede jaar ’n onreg aangedoen deur nie vir die SA Skole-span gekies te word nie.

Die losskakel, Riekert Barnard, het 22 punte met sy skopskoen tot sy span se totaal bygedra. Hy het met agt doelskoppe en twee strafdoele geslaag.

Grey-kollege het in Bloemfontein ’n indrukwekkende sege van 48-17 oor Selborne College behaal. Die span van die Rosestad moes sonder heelwat van sy eerstekeuse spelers weens beserings klaarkom. Dit was veral die buitsenter, Janco van Heyningen, wat met sy vaart in die tweede helfte vir Selborne probleme besorg het. Hy het twee keer die doellyn oorgesteek.

Selborne se senter Sango Xamlashe het ook ’n paar goeie breekslae ingekry en een van sy lopies vir ’n uitstekende individuele drie afgerond.

Die Hoër Jongenskool Paarl se agtsteman, Khayna Ncusane, het met vier drieë gesorg dat sy span hul 30ste oorwinning op ’n streep behaal. Boishaai het Stellenberg oortuigend met 41-3 die loef afgesteek.

Die wedtryd tussen Boishaai en Grey volgende week in die Paarl beloof om een van die hoogtepunte van die skoleseisoen te wees.

In die Rosestad se Classic Clash tussen Sentraal en Jim Fouché het die twee spanne die louere met 22-elk gedeel.

Albei die ligawedstryde van die Griffon-liga in Welkom het uitgereën. Die twee onoorwonne spanne in die liga, Welkom Gimnasium en Voortrekker van Bethlehem, se wedstryde teen HTS Sasolburg (60-10) en die Hoërskool Kroonstad (71-17) het wel plaasgevind.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.