Nories skok Monnas, Helpies oorrompel Florida
Die JOMO-liga in Gauteng het weer netbal van hoogstaande gehalte, ‘n paar dominante vertonings en ook ‘n skoksege opgelewer.
Die verrassing van die week was ongetwyfeld Noordheuwel se naelbytsege van 20–19 oor die magtige Monument. Die kragmeting was van meet af aan gelaai met spanning, met die spanne wat mekaar minimum beweegruimte toegelaat het op die baan.
Die Nories se koelkopbenadering in die doodsnikke het uiteindelik die deurslag gegee in ’n kragmeting wat beslis as een van die hoogtepunte van die seisoen beskou kan word.
In ’n kragmeting van totaal verskillende karakter, het Helpmekaar hul stempel afgedruk met ’n wegholsege van 57–4 oor Florida.
Helpies het van die eerste fluitjie af momentum opgebou, met vinnige oorgange, presiese spelpatrone en doeltreffende afronding. Florida kon eenvoudig nie die tempo hanteer nie en het gesukkel om enige vatplek aan die kragmeting te kry.
Rand Park het ook hul staal gewys met ‘n deeglike oorwinning van 31–19 oor Linden. Hayley Jose het uitmuntend gevaar op hulpdoel (HD) met haar dinamiese vertoning op die aanval, puik ondersteunende spel en akkuraatheid met elke doelpoging. Sy het ’n beduidende rol gespeel in Rand Park se dominante vertoning, met die span wat met georganiseerde struktuur en selfvertroue hul oorheersing bevestig het.
Uitslae o.19A:
Helpmekaar 57, Florida 4
Monument 19, Noordheuwel 20
Rand Park 31, Linden 19
- Parkies se seisoen van glorie - 2025-10-06
- Nasionale erkenning vir Bayisa en Moloise weerspieël Middies se sukses - 2025-09-30
- Top-4 Rusties leef hul droom - 2025-09-29