Noord-Kaap se o.15’s bo in Volksblad-liga
DIE o.15-rugbyspan van Hoërskool Noord-Kaap het geen gelyke in die sentrale streek nie. Northerns het sy eweknie van Hoërskool Sentraal van Bloemfontein op Shimlapark 23-8 in die eindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Volksblad-liga (vir o.15-spanne) uitgestof. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.
Die twee spanne het in 2010 gelykop in die eindstryd gespeel. Die span van Noord-Kaap van 2013 het egter totale rugby gespeel en dit was van die begin af duidelik dat hulle nie sommer geklop sou word nie.
Die span se losskakel Bernu Engelbrecht en die binnesenter Wian van Niekerk se samespel is een van sy sterk punte. Die span van die Diamantstad het die eerste helfte oorheers en die voorsprong van slegs 13-3 vertel nie die hele verhaal van die eerste helfte nie. Engelbrecht het ‘n hele paar keer verby verdedigers geglip, terwyl sy verspreiding ook van hoë gehalte was. Van Niekerk het telke male die voordeellyn oorgesteek.
Northerns se agttal het onder ‘n spreekwoordelike kombers gespeel. Die span het ‘n oorgrote meerderheid van die balbesit en gebiedsvoordeel danksy sy voorspelers in die eerste helfte geniet.
Die agtsteman Adam Mkosana het met ‘n hele paar indrukwekkende lopies in dié helfte vorendag gekom. Die flank Rian Kotze het ook met sy spel beïndruk.
Tralies se heelagter, Miguel da Silva het deurgans ‘n moedige vertoning gelewer. Hy het probeer walgooi en ook ‘n paar keer goeie lopies met die bal in die hand ingekry. Sentraal se vaskopstut, Marco Rademeyer is ‘n man van vele talente. Hy het vir sy span pale toe geskop, by die lynstane die bal ingegooi asook stewig in die skrums vertoon.
Engelbrecht is die seun van die voormalige provinsiale speler en afrigter, Frankel Engelbrecht. Laasgenoemde is ook die afrigter van die nuwe Volksblad-kampioen.
Puntemakers:
Noord-Kaap 23 (13) – Drieë: Adam Mkosana, Wian van Niekerk, Bernu Engelbrecht, Danie Marais. Strafdoel: Marc Aitken. Sentraal 8 (3) – Drie: Henk Cilliers. Strafdoel: Marco Rademeyer.