Nicola van Heerden: Paarl Gim se rots op verdediging

Wanneer topverdedigers in skolenetbal ter sprake kom, staan die naam Nicola van Heerden voorop.
Dié ster van Paarl Gimnasium het in graad een haar eerste tree op ’n netbalbaan gegee, destyds slegs aangesien dit die wintersport was waarvoor sy ingeskryf was. Met elke jaar wat verbygegaan het, het die sport egter vir haar veel meer geword as bloot ’n aktiwiteit.
Dit het ’n gemeenskap geword, ‘n plek waar sy behoort, groei, verbind en floreer. Daardie samehorigheidsgevoel en groter doel is wat haar liefde vir die spel laat ontbrand het.
‘n Verdediger wat die spel lees soos min…
Nicola is in haar element wanneer sy verdedig – dit is daar waar sy die vrugte pluk van ure se harde werk en oefening, nie net haar eie nie, maar ook dié van haar span. Om ’n wedstryd te kan swaai met ’n deurslaggewende omkeer van besit of ’n strategiese lees van die spel, is waaroor dit vir haar gaan.
“Om daardie tipe impak te kan maak is baie spesiaal,” sê sy, en haar spel wys dit elke keer.
Een van haar uitstaande oomblikke van die seisoen was teen Oranje tydens die jaarlikse derby, waar haar briljante lees van die spel ’n beduidende rol gespeel het in haar span se momentum. Dit het ook as die perfekte voorbereiding gedien vir die Wildeklawer-toernooi. ’n Verdere hoogtepunt was die Gauteng-wedstryd by die TNC, waar sy op HV gekies is en haarself bewys het as ’n verdediger van formaat.
Paarl Gim se eerste span bestaan uit uiteenlopende persoonlikhede, maar juis daarin lê hul krag. Nicola onthou hoe haar spanmaats mekaar voortdurend gedra het, op goeie én slegte dae. Wanneer sy ’n afdag beleef het, het die span haar gemotiveer en aangevul.
“Hulle het gesorg dat dit wat ek nie kon doen nie, gedoen word,” vertel sy met waardering. Hierdie kultuur van samehorigheid was die fondament van hul sukses.
Nicola het ambisie, vasbeslotenheid en ’n duidelike visie vir die pad vorentoe. Twee van haar grootste doelwitte is om Suid-Afrika op senior nasionale vlak te verteenwoordig en om professionele netbal oorsee te speel. Met haar talent, werksetiek en geestelike fokus, is dit duidelik dat sy stewig op pad is om hierdie drome waar te maak.
Aan jong netbalspelers het sy eenvoudige, maar kragtige raad: speel omdat jy daarvan hou, nie omdat jy voel jy móét nie. En onthou dat jy altyd vir iets groter as jouself speel – vir jou span, jou skool, jou provinsie en om die Here te eer met jou talente.
Sy leef self volgens die aanmoediging van een van haar afrigters: “Brand die skepe” en “Maak jou tenk leeg”. Gee alles. Elke keer. Of dit nou ’n wedstryd of ’n oefening is. Dit is ’n les wat sy ook in haar daaglikse lewe toepas.
Buite die baan is haar grootste inspirasie haar ma, ’n vrou met ’n indrukwekkende uithouvermoë, ’n werksetiek van 120%, en ’n hart vol omgee. “Sy maak klaar wat sy begin,” sê Nicola met trots.
Op die baan kyk sy op na haar afrigter, Juline van der Merwe, wie se passie vir netbal aansteeklik is. Juline het Nicola en haar span daagliks harder gedruk en altyd meer van hulle verwag, maar nooit op ’n wyse wat hulle oorweldig het nie. Sy het die perfekte balans gehandhaaf tussen dissipline en ondersteuning, en dit het Nicola geleer om enige uitdaging, op of van die baan af, met vasberadenheid en wysheid aan te pak.
- Nicola van Heerden: Paarl Gim se rots op verdediging - 2025-11-21
- Shiloh Berardelli: Fierce and fearless - 2025-11-12
- Nadine van Hoogdalem droom hoog - 2025-11-10




