SuperSport Schools Plus

Netbalkoors loop hoog aan die vooraand van DStv Schools Challenge

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-06-12 Tags: , , , , , , , ,

Vanjaar se DSTV Schools Netball Challenge vind dié naweek in Gauteng plaas en beloof om een van die mededingendste skoletoernooie van die seisoen af te gee.

Met spanne van regoor Gauteng, van gevestigde netbalkragte soos Menlopark, Helpmekaar, Affies en Volkskool tot opkomende spanne soos Garsfontein, Transvalia en Rand Park, is die tafel gedek vir ‘n uitmuntende tentoonstelling van talent, vaardigheid en vasberadenheid.

Topwedstryde om dop te hou

Die aksie skop Saterdagoggend om 8.00 vm af met die A-afdeling (o.19 A), wat kragmetings soos Marais Viljoen teen Rand Park en Montana teen Shoshunguve insluit. Hierdie wedstryde bied ‘n vroeë blik op watter spanne hul stempel kan afdruk. Menlopark en Monument pak mekaar aan in die o.19 B-groep, terwyl Garsfontein en Diepdale sake uitspook in o.19 C.

Helpmekaar se o.19 D-span sal daarop uit wees om hul reputasie gestand te doen wanneer hulle teen Phahama en later Edenvale te staan kom, terwyl Transvalia hul veldtog in die o.19 F-groep loods teen Tswelopele, met Noordheuwel wat daarna volg. Volkskool en Oos-Moot, albei bekende name in Gauteng-netbal, sê mekaar die stryd aan in die o.19 H-groep, met Volkskool wat ook teen Redhill te staan kom later.

Halfeind- en eindronde

Die uitspeelrondes neem die middag in aanvang, met oorkruiswedstryde tussen die toppresteerders in elke groep (A1 teen B2 en C1 teen D2). Die spanne sal derhalwe uithaal om ‘n plek in die halfeindronde te verseker. Die kompetisie verskerp Sondag met die eindstryd wat geskeduleer is vir 10.15 vm, waar die uiteindelike kampioenspanne in die onderskeie ouderdomsgroepe gekroon sal word.

Die DSTV Challenge is meer as bloot ‘n toernooi en bied ’n platform waarop Gauteng se beste jong netbalspelers hulle talent voor afrigters en ondersteuners kan uitstal. Nie alleen word spanne se tegniese vaardighede getoets nie, maar ook hul uithouvermoë, spanwerk en strategiese insig.

Met strawwe kompetisie, hope talent en ‘n volgepakte program oor twee dae, is die DSTV Schools Netball Challenge beslis nie ‘n geleentheid om mis te loop nie.

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.