Nelspruit se Rhinos is 2017 se Puma-kampioene
Hoërskool Nelspruit se Rhinos het HTS Middelburg in Saterdag se Virsekerbeker Puma-eindstryd, op eersgenoemde se tuisveld, in ‘n baie gelykop stryd met 22-17 verslaan.
HTS Middelburg se voorspelers het voorlangs sake in die eerste helfte oorheers en dit was veral hul kragspel rondom die afbreekpunte wat hulle op die voorvoet geplaas het. Hulle het Nelspruit ook behoorlik opgekeil in die skrums. Dit was die vernaamste redes hoekom die Rooi Bulle met die telling op 7-0 in hul guns kon gaan rus het, danksy ‘n drie deur die flank Tiaan de Beer.
Na rustyd het die Nellies met Nellie Guts die stryd aangepak en daar is ‘n uitstekende drie deur die vleuel Reinhardt Roets. Die Rhinos het die bal meer lug gegee en ook meer na die buitekant gespeel in die tweede helfte. Hulle het hulself onderdruk geplaas deur hanteerfoute te begaan en swak skoppe te skop.
Andre Vosloo wat Stefan Smit (binnesenter) vervang het ‘n groot impak gehad op die spel. Nelspruit het ‘n hele paar spelers gehad wat puik gespeel het, Chris van der Merwe, Renier Troskie, Wuim Barnard en Albe de Nysschen is die spelers wat die meeste hul lyf op die spel geplaas het.
Die speler van die wedstryd was beslis Nelspruit se skrumskakel, Joao Christovam. Hy het skitterende spel gelewer en sy bygedra tot die sege van 22-17 was goud werd.
HTS Middelburg het dit nie vir die Nellies maklik gemaak om in die tweede voor tekom nie. Carlo Nortje(loskopstut), Riekert Barnard(losskakel) en Uys du Preez(heelagter) is van die wat die hele wedstryd deur hulle man gestaan het.
Die kapteine en hakers van albei spanne, Sp Muller (Nelspruit) en Duart Willemse (HTS Middelburg) het hulle spanne met voorbeeld gelei in die taai stryd.
Die laaste paar minute van die wedstryd was senutergend met HTS Middelburg op die aanval en Hoërskool Nelspruit wat soos tiere verdedig het om die Rooibulle van hul doellyn af weg te hou.
In die B-afdeling van die Goue Leeus/Valke en Luiperds se Makroskole-liga het Marais Viljoen van Alberton sy goeie spelpeil voortgesit deur Die Anker van Brakpan met 42-24 te klop berig Hannes Nienaber. Die wenspan se agtsteman, Franco du Plessis, het Die Anker se doellyn vier keer oorgesteek.
Noordheuwel het in dieselfde liga nie veel probleme ondervind om Jeugland van Kempton Park met 57-7 die loef af te steek nie.
PUMAS
MAKROSKOLE EINDSTRYDE
Hoërskool Nelspruit 22 (0) – Drieë: Reinhardt Roets,Renier Troskie, Joao Christovam Doelskoppe: Stephan van der Bank(2) Strafdoele: Van der Bank. HTS Middelburg 17 (7) – Drieë: Tiaan de Beer, Uys du Preez Doelskoppe: Riekert Barnard Strafdoele: Barnard.
Ander spanne:
o.16: Nelspruit 46, HTS Middelburg 31.
o.15: Hoërskool Middelburg 17, HTS Middelburg 17 (Hoërskool Middelburg druk eerste en dring deur as nr. 1)
o.14: Nelspruit 17, HTS Middelburg 0.
MAKROSKOLE
Marais Viljoen 42 – Drieë: Franco du Plessis (4), AJ Meyer, Paul Parsons. Doelskoppe: Brendon Marchbank (6). Die Anker 24 – Drieë: PJ de Beer, Wihan Viljoen, Franco Breedt. Doelskoppe: Lionel Ueckermann (3). Strafdoel: Ueckermann.
Ander spanne:
Eerstespanne: Noordheuwel 57, Jeugland 7.
o.16: Marais Viljoen 38, Die Anker 19; Noordheuwel 22, Jeugland 20.
o.15: Marais Viljoen 25, Die Anker 10; Noordheuwel 14, Jeugland 0.
o.14: Marais Viljoen 45, Die Anker 5; Noordheuwel 39, Jeugland 5.