SuperSport Schools Plus

Nasionale erkenning vir Bayisa en Moloise weerspieël Middies se sukses

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-09-30 Tags: ,

Middelburg eerstes 2025.

Hoërskool Middelburg se 2025-netbalseisoen het nie alleen prestasies op die baan opgelewer nie, maar ook die geleentheid gebied vir elke speler om te groei en vir die span om ’n hegte familie te word.

Volgens afrigter Marli Nel was die seisoen oor die algemeen ’n groot sukses, met vernaam die indrukwekkende verteenwoordiging van Middies se dogters in provinsiale en nasionale spanne.

“Ons het goeie verteenwoordiging geniet in die Mpumalanga-spanne,” sê Nel.

“Boonop was Olwethu Bayisa in die oefengroep vir die SA o.19-span ingesluit, terwyl Thelma Moloi gekies was vir die SA o.17-span wat na Swaziland getoer het vir die Cossasa Games.”

Hierdie prestasies beklemtoon die hoë gehalte van talent wat by die skool ontwikkel word, en dien as ’n inspirasie vir jonger spelers wat droom om dieselfde hoogtes te bereik.

Die seisoen het nietemin ook sy uitdagings gehad.

“Die eerste wedstryd wat ons verloor het in die liga was teen HTS Middelburg in die Mpumalanga-haleindstryd,” vertel Nel. “Dus was ons kans om na die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deur te dring daarmee heen en het ons derde in Mpumalanga geëindig.”

Alhoewel dié nederlaag uiteraard ’n groot teleurstelling was, het dit die spelers se vasberadenheid en gees versterk. Die feit dat die span steeds die derde plek in Mpumalanga verower het, getuig van harde werk en die gehalte van hul spel.

Een van die uitstaande kenmerke van die seisoen was egter nie net die kragmetings op die baan nie, maar die bande wat van die baan af gesmee is.

“Die wyse waarop die dogters saam gegroei het om onafskeidbare vriendskapsbande op te bou en op die baan as ’n eenheid gespeel het, was pragtig om te sien,” sê Nel.

Hierdie vriendskappe het die fondament vir die span se prestasie gelê en gewys dat sport soveel meer behels as bloot punte op die telbord. Die span se spelpeil het nietemin ook heelwat groei getoon.

“Ons aanvallende spel het die meeste verbeter deur die loop van die jaar, terwyl ons ook regtig geseënd was met ’n uitstekende verdedigende span.”

Die kombinasie van kragtige verdediging en ’n ontwikkelende aanval het die nodige balans geskep wat die span se sukses gedryf het. Juis daarom is dit moeilik vir Nel om individue uit te sonder.

“As ’n eenheid het die span bitter hard gewerk om bo uit te kom. Elke speler het insette gelewer tot en ’n sleutelrol gespeel in die wonderlike uitslae van 2025.”

Hoërskool Middelburg se eerste span van 2025 sal onthou word vir spelers wat op nasionale vlak presteer het, ’n span wat bo hul uitdagings uitgestyg het en ’n kultuur van ware spanwerk, wat ‘n stewige grondslag lê vir die toekoms.

Hoërskool Middelburg se uitslae van 2025:

Wen Ermelo 20-13

Wen Piet Retief 22-9

Verloor PHS 15-24

Gelykop Ben Vorster 21-21

Verloor Nelspruit 13-18

Verloor Affies 8-3

Wen Merensky 33-4

Verloor Garsfontein 17-22

Wen Nelspruit 16-13

Wen Kempton Park 28-15

Verloor Transvalia 17-28

Wen Eldoraigne 29-18

Wen Ben Vorster 16-7

Wen Steelcrest 62-14

Wen HTSW 43-15

Wen Eldoraigne 29-28

Wen Ben Vortser 16-7

Wen Delmas 43-18

Wen HGH 54-20

Wen Lydenburg 20-15

Wen Ligbron 24-7

Wen Lambalati 28-10

Wen Kleinwater 16-10

Wen HTS W 19-10

Verloor HTS Middelburg 19-22

Wen Ermelo 26-18

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.