Naellopers blink uit tydens die jaarlikse Bestmed Egoli-byeenkoms
Die Hoërskool Kempton Park se Cassidy Bosman het haar seisoen met ‘n goeie vertoning in die 3 000m vir meisies o.17 tydens die jaarlikse Bestmed Egoli-byeenkoms in die UJ-stadion in Johannesburg afgeskop.
Bosman het die wedloop in tien minute en 10.56 sekondes voltooi. Dit het aan haar ‘n stewige 916 punte op die puntestelsel verdien. Bosman het ook in die 1 500m koning gekraai toe sy in vier minute en 42.22 sekondes oor die wenstreep is.
Haar tyd in die korter nommer sou aan haar verlede jaar ‘n goue medalje tydens die SA Junior- en Jeug-kampioenskappe verower het.
Kempies se Carla Muller (o.14) het ook in die 90m-hekkies gewys dat sy nog in die toekoms haar stem dik kan maak. Sy het dié nommer in 13.57 sekondes gewen.
Dominique Nel (Helpmekaar) is ook ‘n atleet om in die toekoms dop te hou. Sy het die gewigstoot vir meisies o.14 met ‘n poging van 13.11 meter gewen. Dit het aan haar 902 punte besorg.
Noordheuwel se Charné Fourie was ‘n lid van die Bestmed Uitnodigingspan en het soos gewoonlik vir heelwat opwinding in die 200m vir meisies o.14 gesorg. Fourie was in 2023 die SA Skole-kampioen in dié nommer.
Sy het tydens die Egoli byeenkoms dié nommer in 24.98 sekondes afgeblits om goud te verower.
Nog ‘n naelloper van die Bestmed Uitnodiging-span Oluchi Ndubueze (Northcliff) het die 200m vir meisies o.15 in 24.89 sekondes afgeblits.
In die o.16-afdeling het Marais Viljoen se Luanne du Plooy (24.94) hakskene vir haar teenstanders gewys, terwyl die Hoërskool Klerskdorp se Jenna van Dyk in die o.17-afdeling in ‘n tyd van 24.81 sekondes koning gekraai het.
Nog ‘n atleet van die uitnodigingspan Matsidiso Makgato (Secunda) het vir ‘n blink vertoning in die verspring vir meisies o.17 gesorg toe sy op 6.06 meter in die sandput geland het. Dit het aan haar 943 punte besorg.
Marais Viljoen se verspringer Janine Berry (o.15) het goud in haar ouderdomsgroep met ‘n sprong van 5.66m verdien.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16