SuperSport Schools Plus

Nadine van Hoogdalem droom hoog 

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-11-10 Tags: , ,

Nadine in aksie by die SA Skole.

Nadine van Hoogdalem het vanaf die ouderdom van slegs ses jaar die netbalbaan haar tweede tuiste gemaak.

Wat aanvanklik begin het as ’n stokperdjie, het spoedig ontwikkel in ’n diep passie, wat haar vandag dryf om haar drome na te jaag.

“My liefde vir netbal het werklik eers op o.9-vlak posgevat” vertel sy. “Die mense wat saam met my die sport beoefen het, asook my afrigter Suzette van Zyl se passie en liefde vir die spel, het ’n groot impak op my as speler gehad.”

Haar eerste jaar in die eerste span as o.16-speler.

As ’n verdediger is Nadine se rol op die baan van uiterste belang, en sy leef vir daardie deurslaggewende oomblikke.

“Aangesien daar van my as ’n verdediger verwag word om balbesit om te draai, is daardie gevoel van satisfaksie elke keer ongelooflik. Ek raak nooit moeg daarvoor nie,” glimlag sy.

Nadine verteenwoordig Hoërskool Noordheuwel, en vanjaar se derby teen Monument was ‘n hoogtepunt.

“Ek het die voorreg gehad om vir die eerste span te speel, en elke keer as ek die bal gedraai het, het ons ondersteuners dit luidkeels toegejuig. Dit het my hoendervleis gegee. Ek kon nie ophou glimlag nie, en ons het daardie wedstryd gewen!”

Hoewel sy die jongste speler in die span was, het Nadine gou haar plek gevind.

“Ek was aanvanklik bekommerd dat ek nie sou inpas nie, maar ek kon nie vir beter spanmaats gevra het nie. Hulle was daar vir my deur goeie en moeilike tye; ek was waarlik geseënd met sulke ongelooflike mense.”

Nadine se drome vir die toekoms is groot – en haar geloof hou haar gefokus.

“Ek wil volgende jaar my prestasies ewenaar of verbeter, en my groot droom is om eendag vir die Proteas te speel as verdediger,” vertel sy vasberade.

“Wanneer ‘n mens voel asof daar nie meer hoop is nie, bid eenvoudig en vra die Here vir krag. Al bereik jy nie jou doelwitte hierdie jaar nie, streef weer daarna volgende jaar. Moenie moed opgee nie; die Here het ’n plan vir ons almal.”

Nadine deflekteer ‘n bal in die lug.

Wanneer dit kom by rolmodelle, kyk Nadine op na sportsterre soos Bongi Msomi en Makazole Mapimpi, wat beide groot uitdagings oorkom het om sukses te behaal.

“Hulle wys vir my dat wanneer ‘n mens hard werk en gemotiveerd bly, jy enigiets kan bereik.”

Met haar passie, geloof en vasberadenheid is Nadine van Hoogdalem beslis ’n naam om dop te hou – ’n jong verdediger wat haar drome met moed en oortuiging nastreef.

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.