SuperSport Schools Plus

Monties sluit aan by Affies, Parkies en Garsies in Gauteng-uitdunne

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-06-09 Tags: , , , , , , , ,

Met die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Menlopark en Garsfontein wat reeds hul plekke vir die Gauteng-uitdunne in die Jubilee-liga verseker het, het die fokus verskuif na die oorblywende spanne wat meegeding het om die laaste, waardevolle plek. Die afgelope week se uitspeelwedstryde was dus van kritieke belang vir spanne soos Montana, Oos-Moot, Waterkloof en Midstream, met Monties wat uiteindelik die pyp gerook het.

Montana, wat die vierde posisie in die liga beklee, het puik vertoon om ál hul uitspeelwedstryde te wen en uiteindelik die eindstryd teen Oos-Moot met 26-20 te beklink. Hulle het met elke kragmeting momentum opgebou, onder andere met ’n indrukwekkende sege van 36-25 oor Midstream in die halfeindstryd, en vroeër met oortuigende seges oor DSG (30-6) en Oos-Moot (25-13) in die groepfase.

Oos-Moot, wat vyfde op die puntelys lê, het hulself as sterk aanspraakmakers onderskei deur Waterkloof in die halfeindstryd met 16-14 uit te skakel. Dit was ’n dramatiese en klipharde stryd waarin Oosies se verdediging en deursettingsvermoë uiteindelik die deurslag gegee het. Hoewel hulle uiteindelik teen Montana vasgeval het, het Oos-Moot se pad na die eindstryd getuig van karakter en verbeterde spanwerk.

Waterkloof en Midstream het elk oomblikke van briljantheid gehad tydens die uitspeelrondes. Klofies het beïndruk met vroeë seges oor Centurion (35-13) en Gerrit Maritz (34-11). Oos-Moot se veerkragtigheid het egter hul aspirasies in die halfeindstryd beëindig. Midstream het met Gerrit Maritz en Centurion afgereken, maar kon nie Montana se aanvalskrag weerstaan in die halfeindstryd nie.

Met die finale uitslae van die uitspele nou bekend, is dit duidelik dat Montana hul regmatige plek onder die top vier verdien, terwyl Oos-Moot hul seisoen met trots kan afsluit.

Eerskomende naweek kom ál die top skole van Gauteng bymekaar om die top-vier skole te bepaal wat deurdring na die nasionale ronde. Dit beloof uitmuntende netbal en wedywering van hoogstaande gehalte.

Uitslae:

Groepfase:

Montana 24, Cornwall 20

Oos-Moot 32, DSG 14

Waterkloof 35, Centurion 13

Midstream 29, Gerrit Maritz 9

Gerrit Maritz 29, Centurion 10

Waterkloof 26, Midstream 16

DSG 10, Cornwall 25

Montana 25, Oos-Moot 13

DSG 6, Montana 30

Centurion 16, Midstream 23

Cornwall 17, Oos-Moot 25

Gerrit Maritz 11, Waterkloof 34

Halfeindronde:

Montana 36, Midstream 25

Waterkloof 14, Oos-Moot 16

Eindstryd:

Montana 26, Oos-Moot 20

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.