Monnas laat EG op neus kyk en Boland Landbou troef Gimmies
Dit gaan keer kos of die Wit Bulle van Monument vanjaar van die titel as kampioen van die Virsekerbeker vir Makroskole weg te hou.
Monnas het Saterdag ‘n klinkende sege van 52-18 oor sy naaste teenstander, EG Jansen van Boksburg, in die Valke/Leeus se Luiperds se liga vir Makroskole behaal. Die span van Krugersdorp se heelagter, Dandré Prinsloo, was op sy stukke en het ‘n driekuns aan drieë behaal. Hy was giftig op die aanval.
Monnas moet wel nog twee ligabepalings nakom, maar behoort na die oorwinning as die liga se voorste span tot die Virsekerbeker se kwarteindronde deur te dring.
Monnas se breier, Tjaart van der Walt, sal veral oor sy span se vertonings in die vaste fassette tevrede voel. Die span het boonop vier keer vanaf vooraf beplande bewegings van skrums en lynstane af gaan druk.
Buiten Prinsloo het die flank Larko Lindes, senter Luke Rossouw en skrumskakel, Tinus Combrinck, ook ‘n leeue-aandeel tot die oorwinning gelewer.
Wat ook belangrik was, is die feit dat Monnas baie goed daarin geslaag het om EG Jansen se gevaarlike losskakel, Ruben Beytell, in toom te hou. Beytell het vanjaar al 21 drieë gedruk
Waterkloof het sy enigste ligawedstryd in die Blou Bulle se Makroskole-liga vir Menlopark met 46-23 die loef afgesteek. Klofies se vleuel, PJ Krugell, het vir die eerste drie van die wedstryd binne die eerste twee minute oorgedraf.
Krugell het daarna nog drie keer die doellyn oorgesteek. Die linkervleuel spog al met 22 drieë vir sy skoolspan vanjaar. Hy het al twee keer vantevore vanjaar teen Montana en Goudveld ook daarin geslaag om vier drieë in ‘n wedstryd te druk.
Interresant is dat Klofies se eerste rugby wedstryd ooit in 1979 teen Menlopark plaasgevind het. Die twee spanne het op ‘n geleentheid voor die wedstryd die vriendskapsbande tussen die twee skole versterk. Die Springbok-hulpafrigter, Franco Smith, was Vrydag die gasspreker op die geleentheid, terwyl Andriette Norman ‘n paar liedjies gesing het.
Klofies se binnesenter, Ruan Allers, het sy vyftigste wedstryd die skool se eerstespan gespeel. Sy sentermaat, Jandré Pretorius, het aan sy buitekant so bietjie van sy glans met ‘n spogvertoning gesteel.
In die kwarteindronde van die Pumas se Grootskole-liga op Piet Retief het Secunda die mees indrukwekkendste vertoning van die dag opgedis. Die span het sy plek in die halfeindronde met ‘n klinkende sege van 53-5 oor Generaal Hertzog van Witbank bespreek.
Dit was veral die span se agtsteman, Evan Wessels, wat met sy kraglopies ver ente veld gewen het. Die tempo waarteen die wenspan gespeel het asook die feit dat hy deurgans struktuur behou het, het die meeste beïndruk.
Secunda sal in die halfeindronde teen verlede se kampioen, Ligbron Akademie, te staan kom. Die twee spanne het mekaar verlede jaar in die eindstryd ontmoet.
Ligbron moes harder as verwag sweet om Lydenburg met 28-21 te troef om sy plek in die volgende ronde te bespreek. Die span se kaptein en losskakel, Isaac Pedro, het die voordeellyn hard aangeval en was grootliks daarvoor verantwoordelik dat sy span op die voorvoet speel. Die binnesenter, Message Nkosi, het ook ‘n blink vertoning opgedis.
Piet Retief se flank, Menzi Dlamini, het die vonk verskaf in die tweede helfte om aan sy span ‘n oorwinning van 32-10 oor Rob Ferreira te besorg. Die twee spanne het met die telling op 5-elk gaan rus. Dlamini het twee keer vroeg in die tweede helfte deur ‘n hele paar duikslae gebars en ook gewys dat hy oor hope vaart beskik om vir die dekverdediging weg te hardloop.
Piet Retief sal in die halfeindronde teen Ermelo te staan kom. Ermelo moes teen die einde behoorlik wal gooi om HTS Witbank met 18-14 uit te skakel.
Brandwag van Uitenhage se linkervleuel, Gavin Kriel, het die punte behoorlik in sy span se weghol-oorwinning van 105-8 oor Otto du Plessis opgestapel. Kriel het tien van sy span se drieë verdoel en self ook ‘n draai agter die doellyn gemaak.
Die wenspan se losskakel, Chadwin November, het ‘n hele paar keer soos ‘n nat koekie seep deur gapings geglip en drie keer die doellyn oorgesteek. Brandwag het in totaal 16 drieë gedruk.
November is ‘n man wat self met ‘n volmaakte driekuns aan paaltjies op die jaarlikse Khaya Majola-krieketweek spog. Hy het dit verlede jaar as lid van Griekwas se o.19-span op die nasionale week in Bloemfontein behaal.
Boland Landbou het op ‘n sopnat veld op sy tuisveld in die Agter-Paarl daarin geslaag om sy eerste oorwinning oor Paarl Gimnasium sedert 2009 te behaal. Boland Landbou het beter tot die weer aangepas en ook ‘n beter taktiese wedstryd gespeel om Gimmies met 24-15 te klop.
Dit was veral die taktiese spel van die skakelpaar, Gavin Mills (skrumskakel) en Darren Hendricks (losskakel), wat die knoop deurgehaak het. Mills het ook uitstekend pale toe gekorrel. Boland Landbou het teen rustyd na ‘n helfte met die wind van voor ‘n voorsprong van 12-7 geniet.
Die Hoër Jongenskool Paarl het sy 47ste agtereenvolgende sege op ‘n sopnat Piley Rees in Kaapstad teen Bishops met 25-0 behaal. Die span se agtsteman, Cornell Kotze, het twee keer die doellyn oorgesteek.
Stellenberg begin sy voete tussen die WP se Premier A-spanne vind. Stellies het Wynberg Boys’ High oortuigend met 47-5 kaf gedraf. Die span het teen rustyd ‘n gerieflike voorsprong van 33-0 opgebou. Stellenberg het alle aspekte oorheers en dit was veral die slot Janko Swanepoel, flank Johann van der Merwe, haker Josh Muller en senter Corné van Romburgh wat puik vertoon het.
Al die uitslae:
NOORDVAAL
Blou Bulle: Waterkloof 46, Menopark 23; Eldoraigne 53, Montana 17; Zwartkop 38, HTS John Vorster 19; Oos-Moot 52, Pretoria-Noord 0; Hoërskool Tuine 34, Midstream College 31; Pretoria THS 33, Erasmus (Bronkhorstspruit) 13; Gerrit Maritz 26, Curro Hazeldean 25; Southdowns College 52, Pretoria THS 5; Pretoria Boys’ High 30, St Alban’s College 8.
Goue Leeus: Monument 52, EG Jansen 18; Marais Viljoen 29, Noordheuwel 21; Randburg 29, Dinamika 22; Hoërskool Alberton 28, Riebeeckrand 13; King Edward VII 57, St John’s College 19.
Limpopo: Frikkie Meyer 62, Ellisras 12; Hoërskool Pietersburg 67, Louis Trichardt 5; Ben Viljoen 38, Piet Potgieter 25; Hans Strijdom 27, Nylstroom 9; HTS Tom Naudé 31, Ben Vorster II 7.
Luiperds: Potchefstroom Gimnasium 19, Hoërskool Klerksdorp 17; Lichtenburg 60, Potchefstroom Volkskool 10; Fochville 42, Benoni High 17; Wolmaransstad 26, Zeerust 12.
Pumas: Ligbron Akademie 28, Lydenburg 21; Piet Retief 32, Rob Ferreira 10; Ermelo 18, HTS Witbank 14; Secunda 53, Generaal Hertzog 5; Volksrust 40, Uplands College 10; Hoogenhout 65, Barberton 15; Carolina 64, Curro Bakenveld 5.
Valke: Kempton Park 29, Florida 23; Hans Moore 22, Heidelberg Volkskool 19; John Vorster (Nigel) 23, Hoërskool Sasolburg 17; Dr. Malan 37, Oosterlig 11; Driehoek 47, Springs Boys’ High 0.
OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL
Dale College 28, Grey High School 27; Maritzburg College 50, Westville Boys’ High 15; Brandwag (Uitenhage) 105, Otto du Plessis 8; Kearsney College 64, St Benedict’s College 22; Michaelhouse 27, St Charles College 17; Graeme College 18, Queen’s College 11; Kingswood College 35, Hoërskool Grens 10.
WES-KAAP
Hoër Jongenskool Paarl 25, Bishops 0; Boland Landbou 24, Paarl Gimnasium 15; Paul Roos Gimnasium 27, Oakdale Landbou 10; Stellenberg 47, Wynberg Boys’ High 5; SACS 14, Rondebosch Boys’ High 14; Hoërskool Bellville 13, Durbanville 7; Swartland 45, Vredenburg 11; DF Malan 28, Hugenote (Wellington) 7; Parel Vallei 79, Westerford 7; New Orleans 24, Labori 13.




