Monnas, Garsies, EG Jansen en Klofies dring deur tot Beeldtrofee halfeind
Die Virseker Beeldtrofee vir Makroskole sal vanjaar by Garsfontein, Monument, EG Jansen of Waterkloof staanplek kry.
Die verdedigende kampioen, Garsies, het ’n indrukwekkende oorwinning van 43-16 oor die Hoërskool Rustenburg in die kwarteindronde van die reeks behaal. Dit was veral die Turkoois Bere se heelagter, Shaun Williams, wat vir Rusties probleme besorg het.
Williams het sy beste vertoning van die jaar gelewer. Hy het slegs na die laaste vesting vanaf vleuel geskuif omdat Garsies se eerstekeuse heelagter, Abner van Reenen, vir die SA Skole A-span op diens is. Williams het boonop die Blou Bulle se Cravenweek-span se oond skoon gemaak.
Monument het op sy tuisveld in Krugersdorp genoeg gedoen om die Hoërskool Nelspruit se Rhinos met 25-21 te troef. Monnas sal nou in die halfeindstryd teen Garsies te staan kom.
Dit was ’n tipiese uitklopwedstryd in Krugersdorp. Die rugby was nie altyd mooi nie, maar die twee spanne het behoorlik onder mekaar ingeklim. Monnas se agtsteman, PJ Jacobs, en die skrumskakel, Tinus Combrink, het die meeste met hul spel beïndruk.
Monnas se slot Ruan Vermaak het hom gister by die SA Skole A-span aangesluit. Hy en die flank van die Hoër Jongenskool Paarl is opgeroep na Jaco van Tonder (Grey-kollege) en Jessie Johnson (Paul Roos) beserings in Vrydag se wedstryde van die nasionale skolespanne opgedoen het.
Waterkloof en HTS Middelburg was albei nie bang om die bal lug te gee in hulle kwarteindstryd in Pretoria nie. Klofies se linkervleuel, PJ Krugell, het vier keer die doellyn in die oorwinning van 43-39 oorgesteek.
Krugell se laaste drie in die doodsnikke het boonop aan sy span die sege besorg. Klofies was met die bal in die hand gevaarlik en die Rooi Bulle kon nie oral al die gate toestop nie. Dit was veral die binnesenter, Ruan Allers, wat met sy spel vir die besoekers problem besorg het.
Klofies sal in die halfeindronde teen EG Jansen van Boksburg te staan kom. Die Boksburgers het op alle silinders in sy kwarteindstryd teen Menlopark in Pretoria gevuur om met 71-28 sy plek in die volgende ronde te bespreek.
Die wenspan se losskakel, Ruben Beytell, was weer op sy stukke en het Menlopark se verdediging aan flared gekerf. Voorlangs het die haker en kaptein, Werner Fourie, ’n uithaler vertoning gelewer.
In die Grootskole-afdeling moes die verdedigende kampioen, Helpmekaar-kollege, veel harder vir sy sege van 30-18 oor Oos-Moot werk as wat die telling aandui. Hy sal in die halfeindronde teen Ligbron van Ermelo te staan kom.
Ligbron het vir die grootste verrassing in die kwarteindronde gesorg deur Ben Vorster van Tzaneen met 25-13 met die kous oor die kop huis toe te stuur.
Vereeniging Gimnasium het nie veel problem ondervind om Linden met 51-0 af te ransel nie. Hy sal nou teen Lichtenburg in die halfeindronde te staan kom. Die Liggies het op hulle tuisveld vir die Hoërskool Pietersburg met 43-36 geklop.
Al die uitslae:
VIRSKEKER BEELDTROFEE KWARTEINDRONDE
Makroskole: Monument 25, Hoërskool Nelspruit 21; Garsfontein 43, Hoërskool Rustenburg 16; Waterkloof 43, HTS Middelburg 39; EG Jansen 71, Menlopark 28.
Grootskole: Helpmekaar 30, Oos-Moot 18; Ligbron 25, Ben Vorster 13; Vereeniging Gimnasium 51, Linden 0; Lichtenburg 43, Hoërskool Pietersburg 39.
Mediumskole: Ben Viljoen 33, Penryn College 0; Vryburg 36, Merensky 10; Die Wilgers 24, Fochville 14; Brandwag (Benoni) 24, Bekker 24 (Brandwag dring deur omdat hulle eerste punte aangeteken het).
Middelskole: Carletonville 25, Parys 15; Steelcrest 34, Frans du Toit 27; Zeerust 25, President 7; Schweizer-Reneke 46, Eric Louw 22.
Kleinskole: Curro Heuwelkruin 64, Morgenzon Landbou 12; Stella 40, Heilbron 32; Curro Roodeplaat 40, Hendrina 12; Koster 56, Balfour 12.
VRYSTAAT/GRIEKWAS
Noord-Kaap 32, Diamantveld 17; Louis Botha 49, Sentraal 24; St. Andrew 36, Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter 24; Sand du Plessis 32, Brandfort 22; Welkom Gimnasium 35, Voortrekker 8; Bothaville 29, Hennenman 17; Hoërskool Retief (Kestell) 31, Sandveld (Wesselsbron) 10; Kalahari 21, Namakwaland 8; HLNK Jan Kempdorp 16, Douglas 13; Adamantia 35, Kenhardt 12.
OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL
Selborne College 27, Grey PE 21; Grey-kollege 39, Glenwood 10; Itembelihle 7, Kareedouw Akademie 5.
WES-KAAP
Boland Landbou 32, Paul Roos Gimnasium 22; Outeniqua 42, Brandwag (Uitenhage) 10; HTS Drostdy 34, HTS Daniël Pienaar 21; Durbanville 31, DF Malan 20; Oakdale Landbou 31, Framesby 21; Parel Vallei 43, Somerset College 13; Paarl Gimnasium 117, Primrose RFC 0; President 42, Parklands College 38; Bishops 43, SACS 28; Brackenfell 32, Hugenote (Wellington) 26; HTS Bellville 20, Labori 5; Worcester Gimnasium 29, Vredenburg 0; Hermanus 61, Gansbaai Akademie 0; Tygerberg 19, De Kuilen 16.