Modderbad Boelies!
Grey-kollege het sy naamgenoot van Port Elizabeth in die Baai in ’n modderbad met 33-7 geboelie. Die span van die Rosestad het teen die omdraaislag reeds gemaklik met 19-0 voorgeloop.
Dit was veral sy SA Skole-skrumskakel, Rewan Kruger, en die agtsteman, Dian Schoonees, wat in die haglike omstandighede waarin die wedstryd gespeel die meeste op hul gemak gelyk het.
Schoonees het van voor gelei en ook goeie ondersteuning van die twee flanke, Juan Venter en Wihan Kloppers, gekry wat gehelp het dat Grey die kragmeting fisiek oorheers het.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria was ook in ’n vernietigende bui. Hy het Glenwood, wat vanjaar as “wêreldkampioen” in Japan gekroon is met 63-0 op sy tuisveld in Pretoria gekarnuffel.
Affies se SA Skole-losskakel, Ruan de Swart, het 23 punte bygedra. Hy het een van sy span se nege drieë gedruk en almal verdoel.
Waterkloof was in ’n opwindende wipplankstryd met 54-43 oor Jeppe High School for Boys’ baas. Jeppe se losskakel, Tyrone Green, het vier keer in die wedstryd die doellyn oorgesteek.
Welkom Gimnasium het heeltemal te veel skietgoed vir Goudveld-Hoërskool in die twee spanne se jaarlikse derby gehad. Gimmies het die wedstryd met ’n rekordtelling van 71-0 gewen.
Harrismith het vir die eerste keer sedert 1988 daarin geslaag om as kampioen van die Oos-Vrystaat gekroon te word. Hy het op sy tuisveld die Platberg-stadion vir Reitz met 26-20 in die eindstryd verslaan.
Die span van Harrismith van 1988 het in die destydse Vrystaatse direkteurstrofee se eindstryd teen Wessel Maree van Odendaalsrus met 22-4 die knie gebuig.
Wilgerivier van Frankfort wat die vorige vyf jaar kampioen van die Riemland was het vanjaar in die Griffon-liga saam die groot honde gedraf.
Bothaville was met 22-20 bo in ’n naelbyt-eindstryd om die kroon van die Sandveld-liga teen Hennenman in die HT Pelatona-stadion in Welkom. Die kampioen se vleuel Reinhardt Grobler het Hennenman se losskakel, Albé Venter, se laaste doelskop-poging vier minute voor die einde afgestorm om seker te maak sy span dra die kroon. Indien die skop oor was sou Hennenman as kampioen gekroon gewees het omdat hulle die eerste drie van die wedstryd gedruk het.
Dit is die vyfde agtereenvolgende jaar wat Bothaville as kampioen van Sandveld gekroon is.
Die Hoër Jongenskool Paarl het sy 36ste agtereenvolgende sege op die rugbyveld behaal, maar SACS het hom behoorlik die skrik op die lyf gejaag. Boishaai het karakter in die tweede helfte gewys om die wedstryd uiteindelik met 28-13 te wen. SACS het met rustyd ’n skrale voorsprong van 10-9 geniet.
Boishaai se senter Manuel Rass en vleuel Thakier Abrahams het agterlangs goeie spel gelewer. Voorlangs was die stut Reece Bezuidenhout en kantman Francke Horn uitstaande.
Oakdale Landbou se Wit Bulle het vir die sewende jaar in ’n ry vir Marlow Landbou met hul wolkouse oor die kop huis toe gestuur. Die Wit Bulle het die Wolramme op hulle tuisveld in Riversdal met 50-12 getroef.
Dit was veral die spel van die senterpaar, Jay-Cee Nel en Nicolus van Eeden, waarvoor die besoekers nie antwoorde gehad het nie.
Al die uitslae:
VIRSEKER BEELDTROFEE
Makroskole: Menlopark 38, Kempton Park 17; Hoërskool Rustenburg 24, Eldoraigne 15.
Grootskole: Oos-Moot 21, Potchefstroom Volkskool 19; Ben Vorster 27, Transvalia 20; Linden 26, Secunda 12; Hoërskool Pietersburg 44, Pretoria-Noord 0.
Mediumskole: Ben Viljoen 59, Stoffberg 0; Merensky 15, Erasmus (Bronkhorstspruit) 13; Bekker 43, Kanonkop 22; Die Wilgers 29, Bergsig 17.
Middelskole: Frans du Toit 29, Die Ankerskool 9; Zeerust 55, Pretoria THS 0; Eric Louw 31, Cullinan 10; Carletonville 69, Kriel 0.
NOORDVAAL
Affies 63, Glenwood 0; Helpmekaar 57, Parktown Boys’ High 5; Waterkloof 52, Jeppe High School for Boys’ 43; Maritzburg College 24, Pretoria Boys’ High 22.
VRYSTAAT/GRIEKWAS
Grey-kollege 33, Grey PE 7; Welkom Gimnasium 71, Goudveld-Hoërskool 0; Witteberg 32, AHS Kroonstad 22; Voortrekker 57, Wilgerivier 18; Hentie Cilliers 34, HTS Welkom 12; Hoërskool Kroonstad 26, HTS Sasolburg 24; Bothaville 22, Hennenman 20; Harrismith 26, Reitz 20; Hendrik Potgieter (Reddersburg) 31, President Steyn 18; Hoërskool Upington 24, Landboudal 7; Duineveld 38, Fichardtpark 16.
OOS-KAAP
Selborne College 33, Queen’s College 7; Dale College 41, St. Andrew’s College 28; Kingswood College 26, Graeme College 19; Brandwag (Uitenhage) 18, Oudtshoorn 9; Cillie 20, Itembelihle 15; Despatch 19, Muir College 7; Burgersdorp 12, Hangklip 5.
WES-KAAP
Hoër Jongenskool 28, SACS 13; Paarl Gimnasium 47, Stellenberg 17; Oakdale Landbou 50, Marlow Landbou 12; Paul Roos Gimnasium 46, Bishops 24; Brackenfell 46, Milnerton 0; HTS Drostdy 25, Noord-Kaap 22; JG Meiring 18, President 16; Parel Vallei 26, Worcester Gimnasium 8; Durbanville 21, Hoërskool Bellville 8; Rondebosch Boys’ High 39, Tygerberg 21; Wynberg Boys’ High 37, Boland Landbou 34; DF Malan 25, Strand 7; De Kuilen 33, Kasselsvlei 0; Outeniqua 51, Framesby 17.




