SuperSport Schools Plus

Midstream College se aanslag om titel in Groep 2 van SDC Noordvaal Cup te behou nog lewendig

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2023-08-07 Tags: , , , , ,

Die verdedigende kampioen van Groep 2 van die SDC Noordvaal Cup, Midstream College, het Saterdag nog een tree nader daaraan gegee om sy titel te behou.

Midstream College het daarin geslaag om die Hoërskool Ermelo met 36-20 in die kwarteindronde van die reeks in Ermelo uit te skakel. Midstream se agtsteman, Tian Pretorius, was op sy stukke en het ‘n driekuns aan drieë behaal.

Die span van Midrand sal in die halfeindronde teen ‘n gedugte span van Potchefstroom Gimnasium te staan kom.

Potch Gimmies het nie veel probleme ondervind om sy kwarteindstryd teen Brandwag van Benoni met 41-19 te wen nie.

Die wenner van die halfeindstryd tussen dié twee spanne behoort die eindstryd as die gunstelinge te betree. Gimmies het vroeër vanjaar al vir Dinamika van Alberton met 40-31 geklop.

Dinamika het egter ook sy plek in die halfeindronde met ‘n naelskraapse sege van 16-15 oor die Hoërskool Ellisras bespreek. Die Leeus se kampioen is gewis ook ‘n span wat ‘n sterk aanspraakmaker op die titel behoort te wees.

Die Limpopo-kampioen, Ellisras, was self ‘n sterk aanspraakmaker voordat hy sy rieme in Alberton styfgeloop het.

Die span van Alberton kom Saterdag in sy halfeindstryd teen die Luiperds se naaswenner, Bergsig Akademie van Rustenburg, te staan. Bergsig wat die kompetisie as die Luiperds se naaswenner betree het, het die Valke-kampioen, Hans Moore van Benoni, met 27-25 in die kwarteindronde uitgeskakel.

Bergsig se kantman CJ van Rooyen het twee keer ‘n draai agter Hans Moore se doellyn gemaak.

Puntemakers: 

Dinamika 16 – Drieë: Kyle Middleton, Joshua Egwatu. Strafdoele: Jayden Serfontein (2). Ellisras 15.

Bergsig Akademie 27 – Drieë: CJ van Rooyen (2), Simeon Botha, Dewald Potgieter. Doelskoppe: Botha (2). Strafdoel: Botha. Hans Moore 25.

Midstream College 36 (14) – Drieë: Tian Pretorius (3), Justin Hattingh, Hilton Thomas. Doelskoppe: Jaedon de Leeuw (4). Strafdoel: De Leeuw. Hoërskool Ermelo 20 (15) – Drieë: EJ Venter, Mafika Nkosi. Doelskop: Carel Jacobs (2). Strafdoele: Jacobs (2).

Potchefstroom Gimnasium 41 (26) – Drieë: Lourens Jacobs (2), Jhanco de Beer (2), Dian Smith, Dewald Lubbe, Daniel Potgieter. Doelskoppe: De Beer (3). Brandwag (Benoni) 19 (0) – Drieë: Tyrese Baatjies, Kevin van der Merwe, Charl van Zyl. Doelskoppe: Sheldon Lucas (2).

Ander spanne:

o.16: Hans Strijdom 19, Oosterlig 13; Piet Retief 14, Frikkie Meyer 10; Brandwag 29, Bergsig Akademie 12; Wagpos 31, Hans Moore 27.

o.15: Piet Retief 17, Potchefstroom Gimnasium 12; Randburg 12, Ben Viljoen 10; Driehoek 12, Wagpos 5; Centurion 26, Ermelo 20.

o.14: Wagpos 13, Leeuwenhof 13 (Wagpos eerste drie gedruk); Midstream College 23, Randburg 22; Piet Retief 33, Ellisras 5; Potchefstroom Gimnasium 22, Oosterlig 19.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.