Micah Labuschagne: Vuur en vlam, dog kalm

Van die eerste oomblik dat Micah Labuschagne ’n netbalbaan betree het, het dit geen twyfel gely dat sy haar roeping gevind het nie.
Sy onthou hoe sy in die laerskool haar eerste wedstryd gespeel het, en onmiddellik geweet het dat dié sport besonders is.
“Ek het verlief geraak op die gevoel van spanwerk, die adrenalien op die baan en hoe elke speler ’n belangrike rol vervul,” vertel sy.
“Netbal het vir my ’n tweede familie geword.”
As hulpdoel beskryf Micah haar posisie as een wat haar op haar beste uitdaag. Sy geniet dit om die spel te help vorm op die aanval, maar ook om verdedigend haar merk te maak.
“Ek hou daarvan om as hulpdoel die geleentheid te kry om beide te verdedig én die spel vorentoe te help neem. Ek wil heeltyd bal in hand hê!” lag sy.

“Dit is ’n posisie waar jy vinnig moet dink en aanpas, en ek geniet daardie uitdaging. Ek voel altyd trots as ek op die baan stap en my deel kan doen met volle selfvertroue.”
Wanneer sy met jonger spelers gesels, is haar raad eenvoudig maar kragtig:
“Sukses gebeur nie oornag nie. Daar gaan dae wees waneer jy voel dat jy nie goed genoeg is nie, maar dis juis dan wanneer jy moet aanhou glo in jouself. Moed beteken nie dat jy nooit bang is nie, dit beteken dat jy aanhou, ál is jy bang.”
Haar grootste inspirasie kom van spelers soos die Australiese ster Kiera Austin.
“Ek bewonder haar omdat sy altyd kalm, gefokus en vol deursettingsvermoë is, selfs in taai wedstryde. Sy wys hoe passie, harde werk en selfvertroue ‘n mens ver kan neem,” verduidelik Micah.
Nog iemand wat vir Micah ‘n groot inspirasie is, is haar broer, Shane Labuschagne, self ’n bekende aanvallende speler in mans-netbalkringe.
“Ons is albei aanvallende spelers, en ek sien hoe hy selfs in hoëdruk-oomblikke kalm bly en elke beweging bereken. Hy speel met soveel fokus en selfvertroue, en dit herinner my altyd dat die beste spelers dié is wat kophou, ongeag wat op die telbord aangaan nie. Dit motiveer my om dieselfde te doen.”

Met haar rustige selfvertroue, passie vir die spel en die vermoë om druk in motivering te omskep, is dit duidelik dat Micah Labuschagne ’n speler is om dop te hou. Sy speel nie net vir die liefde van die sport nie, maar ook vir die mense wat saam met haar op die baan staan, haar tweede familie.
- Micah Labuschagne: Vuur en vlam, dog kalm - 2025-10-31
- Hayley Jose: ‘I’m my most authentic self when I play netball’ - 2025-10-31
- Karakter, groei dra Klofies deur uitdagende seisoen - 2025-10-28
 
 
 
 



 
  
  
  
  
  
  
  
  
 