SuperSport Schools Plus

Menlo-Blou oorheers Tshwane Fast 5-toernooi

By Shane Labuschagne , in Netball | Featured Netball | News , at 2025-09-10 Tags: , , , ,

Menlopark o.18’s

Menlo-Blou het koning gekraai in sowel die o.18- as o.15-ouderdomsgroep, tydens Saterdag se Tshwane Fast 5-toernooi in Pretoria.

Dié netbalbyeenkoms, waaraan spanne van regoor die hoofstad deelgeneem het, het vir hope aksie en klipharde mededinging gesorg om opnuut die gees en talent van Tshwane se jong netbalspelers uit te lig.

In die o.15-kategorie was daar geen tekort aan drama nie. In die uitklopwedstryde het die spanne hardnekkig baklei vir elke punt, met Menlo-Blou en Menlo-Rooi wat in die eindstryd teen mekaar te staan gekom het. Ná ’n spanningsvolle kragmeting het Menlo-Blou net-net daarin geslaag om met 22–20 as kampioen uit die stryd te tree.

Die ander uitspele was ewe mededingend, met Oos-Moot, Hillview, Worker Beez, Baby Beez, Garsfontein en Zwartkop wat almal uitgehaal en gewys het. Die geesdrif van die spelers en die ondersteuning van die toeskouers het gesorg vir ’n besonderse atmosfeer.

Die o.18’s het kragtig voortgebou op die aksie van die juniors, om met onwrikbare karakter mee te ding vir die plekke op die puntelys. Prestige en Queen Beez het in die wedstryd om die sewende plek gelykop gespeel met 31–31, terwyl Garsfontein met ’n indrukwekkende sege van 24–15 oor Zwartkop vyfde geëindig het. In die stryd om die bronsmedalje het Oos-Moot met 25-20 die botoon gevoer oor Queen Beez.

Die toernooi het ‘n gepaste klimaks bereik met die o.18-eindstryd, waar Menlo-Blou en Menlo-Rooi weer mekaar die stryd aangesê het. Menlo-Blou het uiteindelik met gefokusde spel en doeltreffende afronding die oorhand verkry om met 24–18 as die Tshwane Fast 5-kampioen gekroon te word.

Uitslae

o.15:

Posisie 7 & 8: Oos Moot 21, Hillview 17

Posisie 5 & 6: Worker Beez 24, Baby Beez 25

Posisie 3 & 4: Garsfontein 24, Zwartkop 18

Finaal: Menlo Blou 22, Menlo Rooi 20

o.18:

Posisie 7 & 8: Prestige 31, Queen Beez 31

Posisie 5 & 6: Garsfontein 24, Zwartkop 15

Posisie 3 & 4: Oos Moot 25, Queen Beez 20

Finaal: Menlo Blou 24, Menlo Rooi 18

Shane Labuschagne
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.