Louis Botha gunsteling vandag teen HTS Welkom
Die oudste rugbydag in die sentrale streek, dié van Louis Botha, word vandag weer hervat na verlede jaar se dag weens hoë reënval verlede jaar afgestel is.
Die gasheer sal in die hoofmaal van die dag teen HTS Welkom te staan kom. Die span van Welkom het verlede Saterdag teen HTS Sasolburg met 36-22 die knie gebuig. Louis Botha sal ongetwyfeld na sy twee seges oor Welkom-Gimnasium (10-3) en Landboudal van Jacobsdal (14-3) as die gunsteling op die veld draf. Die span van Bloemfontein het nog nie ‘n drie vanjaar afgestaan nie. Die span wat deur Corné Erasmus gebrei word sal egter wel op sy skrumvertoning van verlede week teen Lanties wil verbeter. Dié span mik daarna om vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar as Vrystaatse A1-liga kampioen gekroon te word.
Louis Botha het drie spelers die slot Kian Skippers, stut Khanya Gela en losskakel Jeandré Christian in sy geledere wat verlede jaar al vir die Vrystaatse Cravenweek-span uitgedraf het. Christian se geleerde skopskoen is een van die span se sterkpunte. Die sterk senter, Luciano Jones, kan ook die span van Welkom met sy kraglopies problem besorg.
Dié stryd van die dag is waarskynlik tussen Jim Fouché en Goudveld-Hoërskool. JF sal glad nie tevrede met sy vertoning in sy sege van 17-15 oor Voortrekker van Bethlehem wees nie. Die span se flank, Hanno Spies, en losskakel, Tiaan Schutte, sal die vonk teen Gouties moet verskaf.
Gouties het ‘n groot pak voorspelers, maar die agttal het nie in sy nederlaag van 24-12 teen Marlow Landbou veel oemf gehad nie. Daar kan verwag word dat hulle veel beter vandag sal vertoon met hulle agtsteman, Pietman Kotze, aan die spits.
Hoërskool Sentraal reis na Pretoria waar hulle teen Waterkloof kragte sal meet. Tralies het verlede jaar se stryd in ‘n nat Bloemfontein met 35-21 geklop.
Die bepalings:
09:15: Sehunelo t. Ficksburg; 10:30: Jim Fouché t. Goudveld; 11:45: Kroonstad HS t. Brandfort; 13:00: Sand du Plessis t. President Steyn; 14:15: Fichardtpark t. Wilgerivier; 15:30: Louis Botha t. HTS Welkom.




