SuperSport Schools Plus

Limpopo wys die Goue Leeus XV-tal waar Dawid die wortels begrawe het

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-06-17

NewsGLimpopoDie Limpopo Blou Bulle kan vanjaar vir ‘n paar verrassings op die Cravenweek vir hoërskole oplewer. Die gesogte toernooi word van 1 tot 6 Julie deur Grey-kollege in Bloemfontein aangebied. 

Die Limpopo Blou Bulle het tydens die Noordvaal Bondedag by die Hoërskool Bekker net buite Magaliesburg met ‘n skitterende vertoning vorendag gekom om die Goue Leeus XV-tal met 38-33 die loef af te steek. Die Goue Leeus XV-tal neem ook aan die Cravenweek deel. 

Die telling vlei die Leeus so ietwat danksy die feit dat sy plaasvervanger-haker, Sebastian Motsage, oor die doellyn met speeltyd reeds verstreke gebars het. Sy drie is ook deur die plaasvervanger-heelagter, Herschelle Goodman, verdoel om meer aansien aan die Rooibontes se vertoning te gee. 

Dit was veral die wenspan se lostrio JT Cronjé, Renzo du Plessis en JB du Toit wat die Leeus probleme besorg het. Cronjé het die bal sterk gedra en sy posisionele spel as agtsteman was ook van hoogstaande gehalte. 

Du Toit het die veld vol gespeel en was meeste van die tyd byderhand wanneer een van sy spanmaats ondersteuning nodig gehad het.

Daar is geen twyfel dat Du Plessis ‘n loopbaan uit rugby kan maak nie. Vir sy skoolspan sak hy aan die oopkant, maar vir Limpopo het hy gewys dat hy as baldraer altyd ‘n manier vind om sy hande in die duikslag los te kry vir ‘n moontlike aangee. Wat egter die meeste van sy vertoning teen die Goue Leeus beïndruk het was die aantal duikslae wat hy uitgevoer het. 

Die trio is voorlangs goed bygestaan deur die slot Renier Els wat behoorlik in die los gewoel het. Die vaskopstut, Henco Swart, verdien ook ‘n pluimpie vir sy vertoning in die sege. 

Die span vanuit die Verre Noorde het vroeg ‘n voorsprong van 19-7 opgebou. Die blondekop heelagter, Brandon Cronjé, het vir sy drie soos ‘n warm mes deur botter in die middelveld vanuit die laaste vesting gesny. Cronjé kan self tevrede met sy vertoning voel, terwyl die losskakel, Divan van Zyl, ook ‘n paar belangrike duikslae uitgevoer het. 

Die Goue Leeus XV-tal het beter vertoon na Herschelle Goodman vanaf die plaasvervangersbank sy verskyning gemaak het. Goodman het vanuit die laaste vesting elke keer daarin geslaag om spasie op die aanval te vind. Die verloorspan se beste spelers was Heiko Pohlmann (vaskopstut), Alex Grové (slot) en Ethan Snyman (flank). 

Puntemakers: 

Limpopo Blou Bulle 38 (19) – Drieë: JB du Toit, Renier Els, Eduaniq Harmse, Brandon Cronjé, Taylor du Plessis, Matomi Manyama. Doelskoppe: Cronjé (2), Divan van Zyl (2). Goue Leeus XV 33 (21) – Drieë: Alex Grové, Melbirt van der Spuy, Heiko Pohlmann, Herschelle Goodman, Sabastian Motsage. Doelskoppe: Sebastine Watney (3), Goodman. 

[powr-comments id=”ccb9bd91_1560763811574″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.