Laeveld-leeutemmers verras byna
Dit was ‘n lokval wat hulle nie kon vermy nie. Die Hoërskool Nelspruit se Rhinos sou Saterdag teen Monument in Krugersdorp onthoring word, maar die span wat sonder 13 van sy eerstekeuse spelers moes klaarkom het amper vir die opskudding van die seisoen gesorg.
Monnas het uit Virsekerbeker-wedstryd met 24-20 as oorwinnaars van die veld gestap. Die span se afrigter, Tjaart van der Walt, sal wel bly wees oor die volpunte op die puntelys, maar steeds glad nie gerus oor sy span se spelpeil wees nie.
Nelspruit se binnesenter, Anton van Eijk, wat eintlik die eerstekeuse regtervleuel is, moes vroeg die veld weens ‘n besering verlaat. Nellies se plaasvervanger-haker, Chyle van Zyl, moes toe noodgedwonge in die middelveld dien doen.
Van Zyl het ‘n paar skitterende lopies ingekry en ook een afgerond wat sy span naby aan ‘n sege gebring het. Die besoekers kon nie een van hul vier drieë vervyf nie en boonop het die skeidsregter, Eduan Nel, ‘n reuse aanslaan met een van Monnas se drieë gemis.
Nelspruit se haker, Jason Cornelius, se ingooiwerk was vanuit die boonste rake. Hy het sy springers nie minder as 16 keer gevind nie, sonder om ‘n enkele lynstaan te verloor. Ander spelers van Nellies wat vermelding verdien is die losskakel, Janrico Vermeulen, stut Braam de Villiers en vleuel Meli Mazibuko.
Monnas se vleuel Ruben Barnard was sonder twyfel sy span se beste speler op die dag.
Helpmekaar se flank Michael Amiras was aan die spits van sy span se oortuigende oorwinning van 63-27 oor HTS Middelburg. Amiras het drie keer oor die Rooi Bulle se doellyn gebars.
Helpies se haker, Ricardo van der Merwe, het saam met Amiras in die los gewoel. Vir die Rooi Bulle was hulle vleuel Quintino October elke keer gevaarlik as hy in besit gestel is.
Menlopark se skrumskakel, Bernard van der Linde, het al sy span se punte in sy eerste sege sedert 1991 oor Waterkloof aangeteken. Die Parkies was met 17-15 in ‘n uiters fisieke kragmeting baas.
Van der Linde het sy span se enigste drie gedruk en ook met vier strafdoele geslaag. Klofies het in die eerste helfte besluit om ‘n strafskop reg voor die pale liewer met ‘n tikskoppie ‘n drie te prober druk. Dit het nie vir die span uitgewerk nie.
Die wenspan se hake ren kaptein, Dewald Pienaar, het gewys hoekom hy so hoog aangeslaan word. Dit was ook van vroeg af in die kragmeting duidelik dat daar meer as die uitslag op die spel is, met die manier hoe die spelers ingeklim het. Die Blou Bulle se Cravenweek-span is die week gefinaliseer. Menlopark het 13 spelers in die twee Craven-spanne, terwyl die Klofies slegs twee spelers het wat goed genoeg geag is.
Gepraat van lang wendroogtes. Verlede week het Transvalia vir die eerste keer sedert 1982 daarin geslaag om Monnas (34-31) te klop. Die span van Vanderbijlpark is gister ontnugter toe hy met 24-43 teen EG Jansen in Boksburg gestruikel het.
Die Blou Bulle se tjekboekjagters sal vandag breed glimlag. Een van hul nuutste inkopies, William Thulare van Frikkie Meyer in Thabazimbi, is vuurwarm.
Thulare het gister 49 punte in sy span se laaste ligawedstryd in Afdeling 2 van die Virsekerbeker se Limpopo-liga in sy span se sege van 99-0 oor HTS Tom Naudé aangeteken.
Die heelagter het vyf keer die doellyn oorgesteek en ook 12 van sy span se drieë verdoel. Hy het verlede jaar ook die hoofopskrifte gehaal toe hy met ‘n strafdoel van 60 meter in die doodsnikke van die Limpopo-eindstryd teen Ben Vorster aan sy span ‘n roemryke sege besorg het.
Frikkie Meyer het vanjaar 394 punte in sy ses ligawedstryde aangeteken en slegs 22 afgestaan end ring direk tot die Limpopo-eindstryd deur. Piet Potgieter en Ellisras sal volgende week mekaar pak vir die ander plek in die eindstryd.
Die land se voorste skolespan tot dusver vanjaar, Paul Roos Gimnasium, het Oakdale Landbou in Riversdal met 42-21 verslaan. Die span van die Eikestad moes in die eerste helfte ‘n sterk wind van voor trotseer, maar het ondanks die feit ‘n voorsprong van 21-7 teen lemoentyd opgebou.
Die Hoër Jongenskool Paarl moes op ‘n sopnat Brugstraat hard werk op Bishops met 14-13 te troef. Paarl Gimnasium was ook in moeilike omstandighede met 29-6 oor Wynberg Boys’ High baas. Die span se Juan Beukes en flank Dean Nieuwoudt het blink vertonings opgedis.
Stellenberg het in ‘n moddergeveg met 13-0 as oorwinnaars uit die stryd teen die Hoërskool Bellville getree. HTS Drostdy se Donkies het hulle spiere met 76-19 teen Tygerberg gebult. Die Donkies se senter Christie Grobbelaar en losskakel, Shaun Baxter, het elk drie keer die doellyn oorgesteek. Baxter het ook sewe doelskoppe vir ‘n persoonlike bydrae van 29 punte oorgeklits.
Outeniqua se senter Darren Fortuin het ook die punte ingeryg. Hy het vier keer die doellyn in sy span se sege van 50-7 oor Langenhoven Gimnasium oorgesteek. Hy het ook met vyf doelskoppe geslaag vir ‘n stewige bydra van 30 punte.
St Andrew’s College van Grahamstad is terug op die wenpad met ‘n sege van 24-21 oor Grey High School van Port Elizabeth. Saints het verlede week sy eerste nederlaag in 22 wedstryde teen Selborne op die lyf geloop.
AL DIE UITSLAE:
VIRSEKERBEKER
Afdeling 1 – Beker-kompetisie: Monument 24, Hoërskool Nelspruit 20; EG Jansen 43, Transvalia 24; Helpmekaar 63, HTS Middelburg 27. Plaat-kompetisie: Noordheuwel 29, Eldoraigne 28; Marais Viljoen 21, Montana 10; Kempton Park 38, Zwartkop 36; Hoërskool Rustenburg 36, Centurion 24. Skild-kompetisie: Hoërskool Pietersburg 34, Hugenote (Springs) 19; Ben Vorster 70, Jeugland 7; Lichtenburg 49, Florida 31; Oos-Moot 43, Hoërskool Middelburg 32.
Afdeling 2 – Blou Bulle: Die Wilgers 18, Hoërskool Tuine 17; Pretoria-Noord 17, HTS John Vorster 14; Overkruin 38, Wonderboom 33. Goue Leeus: Randburg 23, Hoërskool Alberton 20; Linden 40, Bastion 37. Limpopo: Frikkie Meyer 99, HTS Tom Naudé 0; Piet Potgieter 37, Ellisras 24; Hans Strijdom 25, Ben Viljoen 24. Luiperds: Potchefstroom Gimnasium 69, Wesvalia 22; Hoërskool Klerksdorp 40, Wagpos 10. Pumas: Secunda 68, Rob Ferreira 0; Ligbron 63, Ermelo 23; Piet Retief 43, Generaal Hertzog 32; Lydenburg 50, HTS Witbank 39. Valke: Hans Moore 46, Driehoek 34; Heidelberg Volkskool 57, Oosterlig 13; Dr. Malan 27, Die Anker 20.
Afdeling 3 – Blou Bulle: Hendrik Verwoerd 25, Akasia 7; Gerrit Maritz 38, Erasmus 31. Goue Leeus: Bekker 24, Fochville 17; Leeuwenhof 43, Queen’s High 7; Riebeeckrand 34, Jan Viljoen 17. Limpopo: Curro Heuwelkruin 15, Warmbad 14. Luiperds: Schoonspruit 64, Bergsig Akademie 12; Vryburg 38, Hartbeespoort 29. Pumas: Hoogenhout 54, Bergvlam 24. Valke: Stoffberg 44, Springs Boys’ High 0; Brandwag (Benoni) 55, John Vorster (Nigel) 24.
Afdeling 4 – Blou Bulle: Maragon Mooikloof 57, Voortrekkerhoogte 10. Luiperds: Zeerust 62, HTS Klerksdorp 12; Schweizer-Reneke 31, HTS Rustenburg 0. Pumas: Morgenzon Landbou 59, Kriel 5; Hendrina 54, Eastdene 10.
OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL
St Andrew’s College 24, Grey High School 21; Framesby 41, Brandwag (Uitenhage) 22; Marlow Landbou 37, Queen’s College 31; Durban High School 24, Westville Boys’ High 14; Hilton College 24, Kearsney College 19; Selborne College 78, Cambridge 20; Graeme College 22, Nico Malan 18; Dale College 62, Muir College 7; Kingswood College 73, Ithembelihle 5; Maritzburg College 27, Michaelhouse 23; St Charles College 18, St Alban’s College 10.
NOORDVAAL
Menlopark 17, Waterkloof 15; Jeppe High School 36, Pretoria Boys’ High 12; King Edward VII 35, St John’s College 6; St David’s Marist 33, Clifton 26; Uplands College 22, Southdowns College 10.
WES-KAAP
Paul Roos Gimnasium 42, Oakdale Landbou 21; Hoër Jongenskool Paarl 14, Bishops 13; Paarl Gimnasium 29, Wynberg Boys’ High 6; Rondebosch Boys’ High 24, SACS 5; Stellenberg 13, Hoërskool Bellville 0; Durbanville 13, Brackenfell 11; HTS Drostdy 76, Tygerberg 19; Outeniqua 50, Langenhoven Gimnasium 7; DF Malan 54, Parel Vallei 14.




