SuperSport Schools Plus

Klofies skop verdediging van Sportreeks-titel af in Tzaneen

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-06 Tags: , , , , ,

Ruan Jacobs, Waterkloof se woelige haker, op die aanval in die rondomtalie-stryd van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling teen Hoërskool Rustenburg in 2024. FOTO: Marius Nortjé.

Die verdedigende kampioen van die NWU Sportreeks is hierdie naweek in Tzaneen vir die eerste vanjaar in aksie.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Hoërskool Waterkloof, wat verlede jaar se reeks onoorwonne afgesluit het, loods hul seisoen teen Hoërskool Ben Vorster op die Buffels se tuisveld, die Piet Swart-stadion.

Die Klofies, wat nie alleen die Sportreeks op horings geneem het nie, maar ook naaswenners was in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, stoot weer vanjaar ‘n gedugte span in die veld.

Staatmakers wat terugkeer vir die 2025-seisoen sluit in die gevaarlike heelagter, Ronan Bastiaanse, en haker, Ruan Jacobs. Albei het sleutelrolle vertolk in die Klofies se suksesverhaal verlede jaar, met Jacobs wat dié span se grootste uitblinker in die Noordvaal-eindstryd teen Hoërskool Garsfontein was.

Die Buffels, wat twee afdelings onder die Klofies in die Skild-afdeling van die Noordvaal-liga meeding, spog self met ‘n goeie begin-vyftiental. Die ervaring van losskakel, Shelton Primo, sal handig te pas kom, vernaam met die giftige senterpaar aan sy buitekant. Gehan Hendriks se tweestryd met Rico van der Walt in die nr. 12-trui behoort vir ‘n skouspelagtige 70 minute te sorg.

Voorlangs kan die tweeling en slotpaar, Lourens en Barend Harmse, die Klofies se pak opdraande gee en opmaak vir die afwesigheid van die Klofies se vuurvreter-agsteman, Marco Kok. Kok het ‘n ernstige kniebesering verlede seisoen opgedoen en sal eers teen die einde van die maand, by die Noord/Suid-toernooi, weer beskikbaar wees.

Hoër Tegniese Skool Middelburg pak Hoërskool Nelspruit in laasgenoemde se Mbombela-kolosseum. Albei spanne spog reeds met ‘n belowende sege, met die Rhinos wat hul rekening verlede naweek met 18-13 geopen het teen Hoërskool Middelburg en die Rooi Bulle wat vir EG Jansen met 30-12 in Middelburg verslaan het.

Daar is wel ‘n paar veranderinge aan die Middelburgers se span wat na Mbombela reis. Binnesenter en kaptein, Johnny Dos Santos, sukkel met ‘n ligte enkelbesering, met agsteman, Tercius Bezuidenhout, wat oorneem as kaptein en die ervare Anthonie Smuts wat Dos Santos vervang in die nr. 12 trui.

Die Rhinos se losskakel, John Duncan, is reeds mooi op dreef en sy flink diens sal beslis die span van Middelburg se verdediging toets, vernaam met buitesenter, Ruben Greeff, wat na een van die Nellies se gevaarmanne lyk. Greeff het ‘n nuwe sentermaat, met Gideon Gilliland wat die jong Rian Botha in die middeveld vervang.

Agsteman en kaptein, Vaughn van Zyl, en oopkantflank, Prosper Chilohane, sal van meet af probeer om hul stempel af te druk teen Bezuidenhout en sy gedugte agttal.

Die spanne:

Hoërskool Ben Vorster t. Hoërskool Waterkloof om 12:40 in Tzaneen:

Ben Vorster: 15 Freddie Pinto, 14 Miguel Makhubupetsi, 13 Chifu Banda, 12 Gehan Hendriks, 11 Lethabo Sejake, 10 Shelton Primo, 9 Stiaan du Randt, 8 Tumi Ramohlale, 7 Joshua van der Mescht, 6 Kobus de Beer, 5 Lourens Harmse, 4 Barend Harmse, 3 Randy Magabe, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.

Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Jaiden Badenhorst, 13 Danré Tustin, 12 Rico van der Walt, 11 Dylan Botha, 10 Meyer Pretorius, 9 Zack Jordaan, 8 Dawid Prinsloo, 7 JJ Brits, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naudé, 4 Leander van der Westhuizen, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliot.

Hoërskool Nelspruit t HTS Middelburg om 13:20 in Mbombela:

Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Gideon Gilliland, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Prosper Chilohane, 5 André Smit, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Coetzee, 2 D’Angelo Roberts, 1 Lindani Ndlela.

HTS Middelburg: 15 WJ Enslin, 14 Kwanele Mkhize, 13 Jacques Greyling, 12 Anthonie Smuts, 11 CJ Muller, 10 Nathan Janse van Vuuren, 9 Reece Botha, 8 Tercius Bezuidenhout, 7 Ethan de Kock, 6 Dewan Coetzee, 5 Griffin Devonish, 4 Janco Aucamp, 3 Marinus Oberholzer, 2 Hanro Terbalnche, 1 Janco Botha.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.